Saturday, August 20, 2016

Bozburun.



20 Augustus 2016. Saterdag. 

Keçi Bükü tot Bozburun

Rimpelloos het ons gaan slaap en rimpelloos staan ons op. Vandag is dit Bozburun se omgewing. Daar is ’n klomp ankerplekke en ons sal maar besluit waar om te anker as ons daar kom.

Die omgewing is besaai met hoë berge wat minder en meer mistig in die vêrte pryk. Bote kom en gaan. Dis gewilde seil gebied hierdie. Gus waai net liggies en die son skyn helder. ’n Paar wolke hang in die lug, wat later soos mis voor die son verdwyn.

Oggendskoot - Vêrte

Ons kom by die vlak deel tussen die eilande waar ons wil anker. Dis oorvol en geen plek vir ons nie. Ons vaar om die hoek en die baai is te diep. Ons vaar stry-stry verder en na ’n erge stry gooi ons anker in Bozburun, 36°41.247 N, 28°02.136 O, 19.4 myl.

Dis ’n mooi baai met die dorp wat daar anderkant met ’n maswoud vir ons glimlag. Ons is te vêr van die dorp af, so ons gaan stap maar op die droë land. Dis altyd vir ons vreeslik mooi om af te kyk en te sien hoe vreedsaam die bote in die baai lê, sierlik en trots, sonder ’n kwelling.

Maswoud
Bosburun baai

Binneland
Borrel van windlose geluk
Kaptein
Geroeste skeepslee
Laatmiddag berge

Archie swem amper saam met ’n skilpad. Hy probeer hom inswem, maar ek dink skilpaaie kan vinniger swem as wat hulle kan loop. Hy verdwyn onder die water (ek bedoel nou die skilpad) en weg is hy.


Dis nog ’n stil rimpellose nag, in my borrel van windlose geluk.

No comments:

Post a Comment