Sunday, May 20, 2018

Kiparissia

20 Mei 2018. Sondag.

Katakolon tot Kiparissia

Ons vertrek vroeg na Kiparissia, 29 myl. Dis 'n lang dag van ses ure. 

Die westelike deel van die Peloponnisos beïndruk my nie so baie nie. Dis op die stadium maar net die roete wat ons moet volg om in die Saronic See te kom. Gus waai liggies en ons seil vir dertig minute. Dis 'n lang reguit deinserige eentonige kleurlose pad.

Kiparissia wil net nie nader kom nie. Dis bewolk en geen sprake van son nie. Ai maar dié Griekeland lyk mismoedig vandag!

Ons nader die groot hawe en kry alles reg vir alongside. Die bodem hier is nie goeie houkrag vir anker nie en die boek sê as daar buite seisoen genoeg plek is, is dit baie beter om alongside te gaan. So gesê so gedaan.

Kiparissia

'n Krom omie van 'n ander seiljag help ons en ons is sommer maklik vas. Altyd maklik as Gus nie waai nie.

Alongside

Dan reën dit drie druppels, dan hou dit op. Vensters toe, vensters oop. 'n Windvlaag van die weste tref ons en waai ons vir 'n ruk teen die kaai vas. Hou fenders hou. Toe skielik draai Gus in sy spore om en waai liggies uit die ooste, lekker weg van die kaai af. Vreeslik wispelturig, die Gus!

Die weer verbeter en ons gaan dorp toe. Dis Sondag en al die winkels is toe. By 'n klein mini-mark koop ons vyf piesangs. Ons stap in die ou deel rond en gaan later terug na die lelike hawe. Maja staan trots langs die kaai.

Kerk
Kafee
Kasteel
Ou trein
Op die hawemuur
Gifappeltjie

Katakolon. Olympia.

19 Mei 2018. Saterdag. 

Sakari en Riita, ons Finlandse bure, nooi ons om saam met hulle in die gehuurde motor na die antieke stad, Olympia te gaan. Archie sê hy wil nie saamgaan nie. Hy was mos al daar! Hy is nie die tipe wat twee keer na sukke klomp antieke rommel gaan kyk nie. Ek besluit om saam te gaan.

Ons ry na Olympia en die twee Finne en ’n Suid-Afrikaner pak die ou stad aan.

Die toevlugsoord by Olympia het floreer vanaf die 10de eeu v.C. tot 426 n.C., die jaar waarin Keiser Theodosius II al die antieke toevlugsoorde gesluit het. Dit was ’n belangrike godsdienstige, kulturele en sport sentrum. Die eerste geboue is reeds in die 7de-6de eeu v.C. opgerig en is opgedra aan die god, Zeus.

Die eerste Olimpiese spele is so vroeg as die 8ste eeu al gehou en daarna elke vier jaar. Die deelnemers moes egte, vrygebore Grieke wees. Die wenners is gekroon met ’n krans bestaande uit takke van die wilde olyfboom wat naby die tempel van Zeus gegroei het.

Nadat die "heidense" godsdienste onderdruk is, het die Olimpiese Spele, wat vir twaalf eeue floreer het, in onbruik geval.

Ons besoek ook die baie interessante museum met baie items wat in die verlede deur die mense gebruik is. Die standbeelde in die groot saal was baie besonders. Beslis 'n besoek werd.

Sakari en Riitta
Phillipeion
Kolomme
Stadion
Nog kolomme

 
Speelgoed
Standbeelde
Kettings vir Archie
Botaniese Tuine

Tevrede met wat ons gesien en beleef het, ry ons terug. Ons stop by Pygros en ek koop souvlakia en nooi hulle sommer daar en dan vir aandete. Terug by Maja gaan alles nog klopdisselboom. Archie het die fort mooi gehou.

Sakari het ’n groter braai as ons en hy bied aan om die souvlakia op die kaai te braai. Ons  kuier op die kaai. Die geur van braaivleis hang in die lug, genoeg om alle lewende wesens se monde te laat water. So elke nou en dan vul ’n skaterlag die lug. Gemoedelikheid en samehorigheid tussen die mense van die verre Noordelike Halfrond en die suidpunt van Afrika is vir my ’n spesiale ervaring.

Die tafel word op Maja gedek. Riitta kook vir ons broccoli en ek maak pan aartappels en ’n heerlike slaai wat in Sullivan se slaaibak bedien word. Riitta bring ook toe heerlike tamatie met kapers, basilkruid en olyfolie saam. Die heerlike kos word geniet saam met ’n Italiaanse wyn wat Sakari saambring. Watter fees was dit nie!

Nuwe vriende
Kaaibraai
Sakari Pekkala
Ek, Sakari en Riitta
Noorde ontmoet Suide
Drink Italiaans wyn
Kos is op die tafel

Vir nagereg verkas ons na hulle jag, Belle amie. Heerlike koffie, met port van Portugal (vir die vrouens) en Italiaanse brandewyn (vir die manne) met sjokolade word genuttig.

Wat ’n heerlike dag! En ek mis die hele koninklike troue!

Ns. In die Finse taal beteken die woord, Maja, “Little cottage”. Dis só waar!

Saturday, May 19, 2018

Katakolon

18 Mei 2018. Vrydag.

Keri Baai tot Katakolon

Dis 'n grys-grou dag. Son skuil, wolke wei. Ons trek anker op en vertrek na Katakolon, 25 myl. 

Dis stil sonder Sullivan en Archie moet nou self agter die helm sit. Ons drink ook nie meer elke tweede uur koffie of tee nie. Sullivan was baie lief vir sy koffie en vreeslike eienaardige tee. Ja, ons mis hom baie.

Nuwe helmsman




Dis kleurloos en dof en ons motorseil vorentoe, altyd vorentoe. Ons nader die hawe en besluit om te anker, maar helaas! Ons probeer drie keer, maar daai Mantus grou deur die seegras tot in die fyn modder en tel dan die hele spul op. Hy byt en ruk dan weer los. 'n Matroos vloek in die vêrte. Dan sukkel ek om hom op te trek en skoon te kry. Die hawe is ons voorland.


Katakolon breekwater

Archie tru, ek gooi en die ankerketting maak dit net. Die ouens op die jaai beur teen die toue.  Daar is net twee skakels op die gypsy oor dan is ons op die tou. Ons het dit nét gemaak met die ankerketting. Sjoe, vandag lyk ons soos amateurs!

Ons Finlandse bure trek langs ons in. So bly om hulle weer te sien. Ons groet soos familie.

Dis tyd! Archie begin die ou geyser uithaal. Gaan die nuwe een pas? Hy haal die peperduur ding uit die boks. Blinknuut.

Nuwe geyser …
… uit die boks

Toe is dit sukke tyd. Hy installeer dit en ek dreineer water. Oral is water. Ons droog alles op. Die nuwe, groter geyser pas in die spasie. Archie konekteer alles op en kyk dat dit waterdig is. Alles lyk goed. Mans is snaakse goed. Buurman sit handjie by. Later kom kyk 'n ander man toe Archie aan die ou geyser op die kaai werfskaf. Vreeslike geïnteresseerd in tegnieses goeters.

Buurman help

Ons vier die suksesverhaal met 'n glasie Retzina op die dek. Dan reën dit 'n paar druppels, dan hou dit op. Ek hoor 'n snaakse geluid. Dis die verdomde geyser. Een van die ou "fittings" lek. Alles is papnat. Ons begin weer droogmaak. Archie woel en werskaf aan die ding. 

Na 'n paar verdere lekke en droogmaak ontdek Archie die wortel van die kwaad. Dié ding was stukkend.

Sondebok
Maak droog

Hy los toe die probleem op met 'n ou fitting wat hy gehad het, Pratley Wonda Fix en duct tape. Nou hou ons versigtig optimisties duimvas. 

Kant en klaar

Gus waai en die bote op die kaai dans liggies ritmies. Hier is baie mobiele motorhuise op die kaai geparkeer. Hulle kyk vir die bootmense en ons kyk vir hulle.

Ons bure op die kaai

Ons gaan slaap die aand baie gedreineerd van al die dreinering. Môre bly ons hier vir nog 'n dag. Ek wil êrens die koninklike troue gaan kyk. Al probleem is dat hierdie plek nie 'n dorpie is nie. Dis net 'n plek met 'n paar geboue.




Keri Baai.

17 Mei 2018. Donderdag


Zakynthos tot Keri Baai

Ons is nog steeds in Zakynthos. Archie het 'n nuwe geyser bestel, want Maja s'n lek. En nou wag ons. Pete, die agent sê dit het met die veerboot gekom, maar dit moet nog afgelaai en afgelewer word. Ons gaan dorp toe en kyk na die kerk en koop hoendervleis.  En ons wag en wag. Dis later 12:00. Kyk, as mens so wag, vreet die frustrasie mens op. Pete ry verby en sê dis nog nie by die kantoor nie. 13:00, maar niks.

Zakynthos
Kerk
Archie met nuwe kêps

14:10 kom hy met 'n groot boks op sy motorfiets aangery. Die nuwe geyser! Hy het dit toe maar gaan haal, want hy weet ons is haastig. Die vervoer van die geyser van Athene tot in Zakynthos kos toe 70€ ! Dis meer as 'n R1 000.00!   Ons is geskok oor die prys van die vervoer van die ding, maar nou ja. Wat kan mens maak!

Die weer is mislik, koud, deinserig en bewolk. En ons vat die pad na Keri Baai, 16 myl. 

Halfpad na Keri Baai

Dis 'n groot baai en ons Finlandse bure is ook geanker in die baai.

Thursday, May 17, 2018

Zakynthos. Tot siens, Sullivan.


16 Mei 2018. Woensdag.

Vandag is die hartseer dag wat ons afskeid moet neem van Sullivan. Hy pak en 13:50 stap ons saam met hom busstop toe. Die makkers groet hartseer en ek groet hom nat-oog. Dit was heerlik om hom aan boord te hê. 

Laaste drankie
Sak en pak
By die busstasie
Daaar gaan hy

Sullivan.

Sullivan

Vyftig jaar gelede was Archie en Sullivan beste vriende. Toe kom kuier hy op Maja. Dit was wonderlik om te sien dat die twee makkers van ouds mekaar nog steeds so kan geniet.

Sullivan is baie hulpvaardige en bedagsaam. Sout van die aarde. Hy het al sy take met ywer verrig en het altyd meer gedoen as wat hy moes. Baie dankie daarvoor. En hy is met die helm gebore!

Baie dankie ook aan Mary-Anne vir die Waterblommetjie room wat sy vir my gestuur het en ook die spesiale whiskey vir Archie. Ons waardeer dit opreg.

Best experience

Sailing Maja, especially the one hour under sail, enjoying the feel of steering her. Even just sitting behind the wheel with a coffee, water flowing by, the wind and sun and the constant interaction with my friendly electronic guide.

Dining out on board with Marietjie’s lovely food. 


Helmsman
Maja kos
Braai


Best place.

Not easy, but I loved Spartakhori probably  because it was so unexpected, the lazy line mooring guided by Bapis, the village walk, the lovely curio shop, the first shower and a great meal in a wonderful setting. It set the scene for the week.  

Spartakhori

 Sullivan skryf:


Hi Marietjie and Archie
Thank you both for a wonderful 10 days full of exciting adventures. It was a very special time for me, away from my "normal life" and being able to completely relax with you guys - at least after the initial "shock" of getting used to Maja’s rules. 
Thank you for sharing your lives and Maja and making me so welcome. I’m sure it can’t be that easy having a stranger right in your living space. Very much appreciated  
Thanks Archie for the invitation to reunite after so many years. Quite amazing that we could simply pick up after 30 odd years. Thanks Marietjie for making me so welcome. 
The food was great and I enjoyed it all from the crazy braai on 45 degree rocks to our last supper at Madison’s. And especially the "dining on board" a la Marietjie. 
I look forward to welcoming you to our home in Cape Town in the not too distant future.  
I wish you both lots of happiness and fun as you continue to explore the Med. Take care.
Lots of love.
Sullivan