Saturday, May 19, 2018

Katakolon

18 Mei 2018. Vrydag.

Keri Baai tot Katakolon

Dis 'n grys-grou dag. Son skuil, wolke wei. Ons trek anker op en vertrek na Katakolon, 25 myl. 

Dis stil sonder Sullivan en Archie moet nou self agter die helm sit. Ons drink ook nie meer elke tweede uur koffie of tee nie. Sullivan was baie lief vir sy koffie en vreeslike eienaardige tee. Ja, ons mis hom baie.

Nuwe helmsman




Dis kleurloos en dof en ons motorseil vorentoe, altyd vorentoe. Ons nader die hawe en besluit om te anker, maar helaas! Ons probeer drie keer, maar daai Mantus grou deur die seegras tot in die fyn modder en tel dan die hele spul op. Hy byt en ruk dan weer los. 'n Matroos vloek in die vêrte. Dan sukkel ek om hom op te trek en skoon te kry. Die hawe is ons voorland.


Katakolon breekwater

Archie tru, ek gooi en die ankerketting maak dit net. Die ouens op die jaai beur teen die toue.  Daar is net twee skakels op die gypsy oor dan is ons op die tou. Ons het dit nét gemaak met die ankerketting. Sjoe, vandag lyk ons soos amateurs!

Ons Finlandse bure trek langs ons in. So bly om hulle weer te sien. Ons groet soos familie.

Dis tyd! Archie begin die ou geyser uithaal. Gaan die nuwe een pas? Hy haal die peperduur ding uit die boks. Blinknuut.

Nuwe geyser …
… uit die boks

Toe is dit sukke tyd. Hy installeer dit en ek dreineer water. Oral is water. Ons droog alles op. Die nuwe, groter geyser pas in die spasie. Archie konekteer alles op en kyk dat dit waterdig is. Alles lyk goed. Mans is snaakse goed. Buurman sit handjie by. Later kom kyk 'n ander man toe Archie aan die ou geyser op die kaai werfskaf. Vreeslike geïnteresseerd in tegnieses goeters.

Buurman help

Ons vier die suksesverhaal met 'n glasie Retzina op die dek. Dan reën dit 'n paar druppels, dan hou dit op. Ek hoor 'n snaakse geluid. Dis die verdomde geyser. Een van die ou "fittings" lek. Alles is papnat. Ons begin weer droogmaak. Archie woel en werskaf aan die ding. 

Na 'n paar verdere lekke en droogmaak ontdek Archie die wortel van die kwaad. Dié ding was stukkend.

Sondebok
Maak droog

Hy los toe die probleem op met 'n ou fitting wat hy gehad het, Pratley Wonda Fix en duct tape. Nou hou ons versigtig optimisties duimvas. 

Kant en klaar

Gus waai en die bote op die kaai dans liggies ritmies. Hier is baie mobiele motorhuise op die kaai geparkeer. Hulle kyk vir die bootmense en ons kyk vir hulle.

Ons bure op die kaai

Ons gaan slaap die aand baie gedreineerd van al die dreinering. Môre bly ons hier vir nog 'n dag. Ek wil êrens die koninklike troue gaan kyk. Al probleem is dat hierdie plek nie 'n dorpie is nie. Dis net 'n plek met 'n paar geboue.




No comments:

Post a Comment