Sunday, May 20, 2018

Katakolon. Olympia.

19 Mei 2018. Saterdag. 

Sakari en Riita, ons Finlandse bure, nooi ons om saam met hulle in die gehuurde motor na die antieke stad, Olympia te gaan. Archie sê hy wil nie saamgaan nie. Hy was mos al daar! Hy is nie die tipe wat twee keer na sukke klomp antieke rommel gaan kyk nie. Ek besluit om saam te gaan.

Ons ry na Olympia en die twee Finne en ’n Suid-Afrikaner pak die ou stad aan.

Die toevlugsoord by Olympia het floreer vanaf die 10de eeu v.C. tot 426 n.C., die jaar waarin Keiser Theodosius II al die antieke toevlugsoorde gesluit het. Dit was ’n belangrike godsdienstige, kulturele en sport sentrum. Die eerste geboue is reeds in die 7de-6de eeu v.C. opgerig en is opgedra aan die god, Zeus.

Die eerste Olimpiese spele is so vroeg as die 8ste eeu al gehou en daarna elke vier jaar. Die deelnemers moes egte, vrygebore Grieke wees. Die wenners is gekroon met ’n krans bestaande uit takke van die wilde olyfboom wat naby die tempel van Zeus gegroei het.

Nadat die "heidense" godsdienste onderdruk is, het die Olimpiese Spele, wat vir twaalf eeue floreer het, in onbruik geval.

Ons besoek ook die baie interessante museum met baie items wat in die verlede deur die mense gebruik is. Die standbeelde in die groot saal was baie besonders. Beslis 'n besoek werd.

Sakari en Riitta
Phillipeion
Kolomme
Stadion
Nog kolomme

 
Speelgoed
Standbeelde
Kettings vir Archie
Botaniese Tuine

Tevrede met wat ons gesien en beleef het, ry ons terug. Ons stop by Pygros en ek koop souvlakia en nooi hulle sommer daar en dan vir aandete. Terug by Maja gaan alles nog klopdisselboom. Archie het die fort mooi gehou.

Sakari het ’n groter braai as ons en hy bied aan om die souvlakia op die kaai te braai. Ons  kuier op die kaai. Die geur van braaivleis hang in die lug, genoeg om alle lewende wesens se monde te laat water. So elke nou en dan vul ’n skaterlag die lug. Gemoedelikheid en samehorigheid tussen die mense van die verre Noordelike Halfrond en die suidpunt van Afrika is vir my ’n spesiale ervaring.

Die tafel word op Maja gedek. Riitta kook vir ons broccoli en ek maak pan aartappels en ’n heerlike slaai wat in Sullivan se slaaibak bedien word. Riitta bring ook toe heerlike tamatie met kapers, basilkruid en olyfolie saam. Die heerlike kos word geniet saam met ’n Italiaanse wyn wat Sakari saambring. Watter fees was dit nie!

Nuwe vriende
Kaaibraai
Sakari Pekkala
Ek, Sakari en Riitta
Noorde ontmoet Suide
Drink Italiaans wyn
Kos is op die tafel

Vir nagereg verkas ons na hulle jag, Belle amie. Heerlike koffie, met port van Portugal (vir die vrouens) en Italiaanse brandewyn (vir die manne) met sjokolade word genuttig.

Wat ’n heerlike dag! En ek mis die hele koninklike troue!

Ns. In die Finse taal beteken die woord, Maja, “Little cottage”. Dis só waar!

No comments:

Post a Comment