Sunday, May 20, 2018

Kiparissia

20 Mei 2018. Sondag.

Katakolon tot Kiparissia

Ons vertrek vroeg na Kiparissia, 29 myl. Dis 'n lang dag van ses ure. 

Die westelike deel van die Peloponnisos beïndruk my nie so baie nie. Dis op die stadium maar net die roete wat ons moet volg om in die Saronic See te kom. Gus waai liggies en ons seil vir dertig minute. Dis 'n lang reguit deinserige eentonige kleurlose pad.

Kiparissia wil net nie nader kom nie. Dis bewolk en geen sprake van son nie. Ai maar dié Griekeland lyk mismoedig vandag!

Ons nader die groot hawe en kry alles reg vir alongside. Die bodem hier is nie goeie houkrag vir anker nie en die boek sê as daar buite seisoen genoeg plek is, is dit baie beter om alongside te gaan. So gesê so gedaan.

Kiparissia

'n Krom omie van 'n ander seiljag help ons en ons is sommer maklik vas. Altyd maklik as Gus nie waai nie.

Alongside

Dan reën dit drie druppels, dan hou dit op. Vensters toe, vensters oop. 'n Windvlaag van die weste tref ons en waai ons vir 'n ruk teen die kaai vas. Hou fenders hou. Toe skielik draai Gus in sy spore om en waai liggies uit die ooste, lekker weg van die kaai af. Vreeslik wispelturig, die Gus!

Die weer verbeter en ons gaan dorp toe. Dis Sondag en al die winkels is toe. By 'n klein mini-mark koop ons vyf piesangs. Ons stap in die ou deel rond en gaan later terug na die lelike hawe. Maja staan trots langs die kaai.

Kerk
Kafee
Kasteel
Ou trein
Op die hawemuur
Gifappeltjie

No comments:

Post a Comment