Sunday, June 18, 2017

Poroselene.



15 Junie 2017. Donderdag.

Poyraz Adasi tot Poroselene
 
Van die een Vrystaatse dam na die ander. Dis net 3.2 myl na Poroselene. Ons soek ’n sandkol tussen die seegras en gooi die anker sekuur daarop. Archie toets dit en ons is stewig vas. Ons weet mos Gus werk skofte en waai elke aand ’n barshou. 

Kalm see

Hier op Poroselene is nie veel te sien of te doen nie. Ons gaan nie land toe nie bring die tyd op Maja deur. Hier is nou wel ook 'n sandbank, maar anders as op Keçi Bükü, waar busvragte vol toeriste aangery word om op die sandbank te loop, is hier net een eensame sandloper …

Eensame sandbank loper

Die vlae wapper in die wind. Laat my dink aan Paddy Faller, een van Archie se skoolvriende, wat nou die dag gewonder het oor die vlae op Maja.

Vlae

Nou die hele vlagstorie werk so. Heel agter, aan die stuurboord kant (regs), wapper die vlag van die land waarin die boot geregistreer is. Dis die belangrikste plek vir ’n vlag op ’n boot. In Maja se geval is dit VSA. Dit was baie makliker om die seiljag in Delaware, VSA, oor die internet te registreer, as in Suid-Afrika. Maja is in Kroasië gekoop en om haar in Suid-Afrika te laat registreer, moes ons haar soontoe seil. Hulle wil haar persoonlik ontmoet. Vir ons was dit totaal buite die kwessie om dit te doen. Nou is Maja trots Amerikaans!

Die volgende vlag wapper aan die mas aan die stuurboord kant van ’n boot. Dit is die vlag van die land waarin jy seil. In ons geval is dit Turkye.

Aan die bakboord (links) kant van die mas, kan jy enige vlag laat wapper. Daar vlieg ons trots ons Suid-Afrikaanse vlag. Paddy, daar het jy dit nou!

Gus waai en ons swaai. Gelukkig nie so erg soos Bademli saans nie. Die son sak en ek verewig. Lyk vir in die deel van die wêreld is die sak van die son die mooiste deel van die dag.

Hy sak

Thursday, June 15, 2017

Poyraz Adasi.



14 Junie 2017. Woensdag.

Bademli tot Poyraz Adasi

Gus het toe gelukkig 23:30 handdoek ingegooi, sy laaste asem uitgeblaas en voor dooiemans deur gaan lê, uit soos ’n kers! Toe kon ek lekker slaap.

Soos gewoonlik is Bademli ’n vroegoggend bad en dis anker op en weg is ons na Poyraz Adasi, 23 myl. Dis sommerso reguit oor die stuk see. Ons seil in ligte winde vir 45 minute, maar eintlik lê ou Gus nog daar by Bademli.

Kaptein en sy seil …
… maar waar is Gus

Lesvos, waar die aarbewing was, lê aan ons linkerkant en ons vaar verby die ligtoring, wat soos ’n kultuurerfenis op die koppie staan om in die nag die seevaarders te waarsku teen gevare.

Ligtoring - modern en oud

Ons vaar verby al die vlak plekke na Poyraz en dit lyk net soos ’n dam in die Vrystaat. Plat water met ’n bleek koppie, met ’n paar bokke en (see)voëls. Dis maar vlak hier en ons gooi in 3m water anker. Op sommige plekke as ons so in die wind draai, is daar maar 1.2 m water onder die kiel.

Poyraz Adasi

Ons gaan land toe en daar is ’n blomtuin met perserige en blou blommetjies. Te pragtig. Maja lê stoksielalleen in die baai. Hier is nie baie mense by die ankerplekke nie.
 
Blommetjie gedenk aan my …
Maja stoksielalleen

Soos gewoonlik begin Gus stiptelik 20:00 te waai en hou stiptelik 23:30 op met waai. Al verskil is dat hy 02:00 ’n tweede asem kry en weer ’n bietjie waai en toe gaan lê weer vir die res van die nag. 

Sonsondergang

Tuesday, June 13, 2017

Bademli. Wit See.


13Junie 2017. Dinsdag.


Wat ’n nag! Die boek sê dat ’n landbries die Meltemi versterk en van ’n noordewind na ’n oostelike wind verander. Dit kan sterk waai, tot fors 6- 7. Wel, weereens jok hy nie. Teen 20:00 begin Gus te waai en hy ruk hom op tot 25 knope. Eers baie laat in die nag, versag Gus se hart en waai bietjie flouer, maar hou nooit op tot die volgende oggend nie. Dan is hy skielik skoonveld.

Wel, dit is toe ook so. Die môre breek aan en Gus is skoonveld. Die see lê stil en stemmig in die baai, net soos ek daarvan hou. So teen 10:00 klim ek en Archie in Dinkie en vat die langpad na die Wit See. Dit word so genoem omdat die sand onder die vlak water baie wit is. Die groot see se golfies spoel in en ons ry al hoppende soontoe. Die golwe spat op my en ek word ’n ouvrou met ’n nat broek.

Die kleure van die water is pragtig. Verskillende kleure van blou en turkoois, met bruin kolle seegras. Pragtig. Ons stop langs die klein strandjie, klim uit, loop langs die see en drink die kleure in. Archie maak tot sy voete nat.

Trek skoene aan
Loop langs die see
Kleure
Wit See

Toe is dit die terugtog en Archie se boude word baie nat. Nou is hy ’n ouman met ’n nat broek. Maja staan pragtig en alleen in die baai.

Maja

Ons kry ook die nuus dat daar, gister, 12 Junie, om 15:30 (Turkse tyd) ’n aardbewing naby Lesbos Eiland was, 6.3 op die rigterskaal. Ons was 40 km daarvandaan. Ek moet sê ek het na die groot see se kant toe geloer om te sien of daar nie ’n tsunami golf aangerol kom nie. Archie het my egter verseker dat as daar ’n golf was, sou hy ons lankal getref het. Toe voel ek meer gerus.

Dis ’n heerlike windstil dag in die baai. Tot 20:00 en daar begin Gus toe weer met sy nonsens! Vertoorn my siel met sy geloei in my ore. Gelukkig nie met dieselfde fors as gisteraand nie.


Bademli.


12 Junie 2017. Maandag.

Yenifoça tot Bademli


Wat ’n nag. Die deinings rol nou so by ons ankerplek in, dat jy amper nie reguit op Maja kan loop nie. Archie moet eers Migros toe gaan vir voorrade. Ons wou nie gister vir Maja alleen los nie, want jong mans het op haar geklim toe ons gelê en slaap het. Yenifoça is ’n naweekdorp, want baie plesiersoekers kom naweke hierheen.

Archie sit al wiegend Dinkie se motor op en daar trek hy saam met die golwe wal toe. Ek kry solank alles op Maja reg vir ons vertrek. Hy kom terug en ons vertrek 09:30 na Bademli, 17 myl. 

Migros toe 

Ons is bly om die anker op te trek en nie meer bekommerd te wees oor ou Grote nie. Maar dit gaan rof in daai see. Ons spoed is 3 knope met die motor, teen 1800 revolusies. Ons kap die golwe een vir een en Gus waai laat dit bars direk teen ons. Na 23 min is Gus nog direk van voor, maar net so dat ons op “close haul” kan seil met ’n klein genoa. Ons motorseil vir 50 minute teen 1300 revolusies, met ’n spoed van 5 knope. Dit is golwe, wind, seeskuim en sproei en lewensbaadjies. Gus waai so teen 17 knope teen ons vas. Ek is amper lus om te sing!

Maar ou Gus is nie tevrede nie, hy besluit om ons nog harder te kap en waai 20 knope van voor af. Ek neurie my gewone seënbede darem net een keer deur. Ons maak die klein genoa nóg kleiner, Archie sit die enjin af en ons seil vir omtrent ’n uur. Hierdie winde was nie voorspel vir hierdie stuk see nie. Iewers het iets die natuurelemente omgekrap! Die kaptein vat elke golf aan en stuur so dat die seesproei ons darem nie in die gesig tref nie. Maja se pens kap soms die see met ’n harde slag, dan kry ek sommer vir haar pad seer. Ons kan nie glo dat ons so vinnig teen die wind met so 'n klein seil kan seil nie.

Gus bedaar later, want die berge keer hom en die see is baie kleiner en ek baie dankbaar.Dit was regtig ’n goeie seil, met die topspoed van 6.3 knope met ’n klein genoa en die wind van voor. Eensklaps is die wind ’n skrale 6 knope en alles raak rustig. Snaaks!

Dis baie vermoeiend om so te seil. Alles raas en klink hard. Knap gedaan Kaptein! Ons kom by Bademli aan en ons soek ankerplek. Ons was verlede jaar hier saam met Deon en Ryna. Hoe verlang ek nou na hulle geselskap.

Ons gooi daardie anker en maak seker hy byt. Hier kan vanaand Oostewinde kom en dan moet ons reg wees. Ons gaan vir twee dae hier bly. Ek en die kaptein raak uitgeput aan die slaap.

Bademli noordelike ingang
Bademli Baai

Monday, June 12, 2017

Yenifoça.



11 Junie 2017. Sondag.

Eğri Limanı to Yenifoça

Vandag is dit ’n lang pad van 33.33 myl na Yenifoça. Ons trek die anker op en dit het regtig goed gebyt en verlaat die baai wat ons gedeel het met die visplaasbote. Weereens vleg ons deur visplase.

Die eerste deel van die pad is rustig en die see platterig. Ons vaar voort sonder enige moeite. Toe gaan ons op die draai en wag vir die wind wat van die weste af moet kom, soos hulle voorspel het. Dan kan ons seile span en met meer spoed die lang pad vinniger korter maak. 

Mimas Piek

Maar wil jy glo! Die wind kom van die Noord-Ooste, reg op Maja se snoet. Van seil span is nie nie sprake nie en ons spoed verminder drasties. En die pad langer. Die boek praat van die stuk see by die Izmir Körfezi wat ’n “confused sea” het en hy lieg nie, die see is konfoes!

Dis sukke vet golwe wat nie weet waarheen om te gaan nie. Sukke kort golwe, soos ’n dogtertjie wat knyp-knyp vorentoe trippel-trippel hop-hop, as sy knyp omdat sy dringend wil pieppie. Hemel en ons vaar hopelik vorentoe! Maja se snoet tref die deinings en verander hulle tot seeskuim.

Seeskuim

Die pad raak langsaam korter, baie langsaam. Halfpad, ’n ewigheid verder, driekwart pad, na nog ’n ewigheid, vat ons die draai na Yenifoça se baai. Ons was verlede jaar hier saam met Deon en Ryna. 

Yenifoça

Ons soek plek vir ankergooi. ’n Groot boot staan  vasgemaak aan ’n boei op ’n simpel plek en ’n klein motorbootjie is ook in die pad. Ons weet egter hy sal later ry en ons kry die bes moontlike plek en gooi. Die anker byt end it lyk of alles OK gaan wees. Ons is bietjie naby die ou grote, maar niks ernstig nie.

Ankerplek


Anker werk so. As die water 8 m diep is, moet jy vier maal die diepte se ketting gooi. Hoe meer ketting jy uit het, hoe minder is die kans dat jou anker sal sleep. Ek het 35 m ketting uitgegooi en Archie gooi nog 5 m uit vir die winde wat so waai. En alles lyk nog reg.

Toe draai die wind en Maja draai saam. Die ou groot boot wat aan die boei vas is, draai anders as ons, want sy het mos nie ankerketting uit nie, net ’n kort tou wat aan die blok onder die water vas is. Toe begin die gemors. Ons swaai te naby aan hom en Archie trek die ankerketting op sodat daar net 32 m in die water is. Dan is dit vier keer, dis voldoende.

Maar, o wee, ons kom nog te naby aan ou grote. Archie trek nog ketting in, nou is daar daar 27 m in die water. Net meer as drie keer die diepte. Gus waai met fors en ons ankerketting is so kort. Ons hou die sake dop. Gus waai ons na die boot toe, maar dit lyk of ons nie te naby kom nie. Dan waai Gus weer en ons is vêr van hom af. Dan naby, dan vêr.

Ou Grote

Toe die nag kom, waai die blêrrie Gus eers erg. En ons ankerketting is so kort. Ons kyk waar kan ons gooi, maar daar is net plek in die deel van die baai waar die deinings, saam met hul perdjies inwaai. Toe is dit nagwaak. Archie vat die eerste skof tot 01:00. Ons anker hou!

Ek vat die tweede skof nagwaak tot 06:00. Ek rig my in op die dek. Dis komberse en my kussing om my teen Gus se koue aanslae te beskerm. Die anker hou!

Ai, wat ’n seiler nie alles moet deurgaan nie. Alles is verseker nie aaltyd maanskyn en rose nie. Dankie, in elk geval vir die maanskyn sonder die rose. Die maanlig het genoeg lig gegee om die swart van die nag te versag en sien maak alles minder "scary".