Sunday, June 18, 2017

Poroselene.



15 Junie 2017. Donderdag.

Poyraz Adasi tot Poroselene
 
Van die een Vrystaatse dam na die ander. Dis net 3.2 myl na Poroselene. Ons soek ’n sandkol tussen die seegras en gooi die anker sekuur daarop. Archie toets dit en ons is stewig vas. Ons weet mos Gus werk skofte en waai elke aand ’n barshou. 

Kalm see

Hier op Poroselene is nie veel te sien of te doen nie. Ons gaan nie land toe nie bring die tyd op Maja deur. Hier is nou wel ook 'n sandbank, maar anders as op Keçi Bükü, waar busvragte vol toeriste aangery word om op die sandbank te loop, is hier net een eensame sandloper …

Eensame sandbank loper

Die vlae wapper in die wind. Laat my dink aan Paddy Faller, een van Archie se skoolvriende, wat nou die dag gewonder het oor die vlae op Maja.

Vlae

Nou die hele vlagstorie werk so. Heel agter, aan die stuurboord kant (regs), wapper die vlag van die land waarin die boot geregistreer is. Dis die belangrikste plek vir ’n vlag op ’n boot. In Maja se geval is dit VSA. Dit was baie makliker om die seiljag in Delaware, VSA, oor die internet te registreer, as in Suid-Afrika. Maja is in Kroasië gekoop en om haar in Suid-Afrika te laat registreer, moes ons haar soontoe seil. Hulle wil haar persoonlik ontmoet. Vir ons was dit totaal buite die kwessie om dit te doen. Nou is Maja trots Amerikaans!

Die volgende vlag wapper aan die mas aan die stuurboord kant van ’n boot. Dit is die vlag van die land waarin jy seil. In ons geval is dit Turkye.

Aan die bakboord (links) kant van die mas, kan jy enige vlag laat wapper. Daar vlieg ons trots ons Suid-Afrikaanse vlag. Paddy, daar het jy dit nou!

Gus waai en ons swaai. Gelukkig nie so erg soos Bademli saans nie. Die son sak en ek verewig. Lyk vir in die deel van die wêreld is die sak van die son die mooiste deel van die dag.

Hy sak

No comments:

Post a Comment