Tuesday, June 13, 2017

Bademli. Wit See.


13Junie 2017. Dinsdag.


Wat ’n nag! Die boek sê dat ’n landbries die Meltemi versterk en van ’n noordewind na ’n oostelike wind verander. Dit kan sterk waai, tot fors 6- 7. Wel, weereens jok hy nie. Teen 20:00 begin Gus te waai en hy ruk hom op tot 25 knope. Eers baie laat in die nag, versag Gus se hart en waai bietjie flouer, maar hou nooit op tot die volgende oggend nie. Dan is hy skielik skoonveld.

Wel, dit is toe ook so. Die môre breek aan en Gus is skoonveld. Die see lê stil en stemmig in die baai, net soos ek daarvan hou. So teen 10:00 klim ek en Archie in Dinkie en vat die langpad na die Wit See. Dit word so genoem omdat die sand onder die vlak water baie wit is. Die groot see se golfies spoel in en ons ry al hoppende soontoe. Die golwe spat op my en ek word ’n ouvrou met ’n nat broek.

Die kleure van die water is pragtig. Verskillende kleure van blou en turkoois, met bruin kolle seegras. Pragtig. Ons stop langs die klein strandjie, klim uit, loop langs die see en drink die kleure in. Archie maak tot sy voete nat.

Trek skoene aan
Loop langs die see
Kleure
Wit See

Toe is dit die terugtog en Archie se boude word baie nat. Nou is hy ’n ouman met ’n nat broek. Maja staan pragtig en alleen in die baai.

Maja

Ons kry ook die nuus dat daar, gister, 12 Junie, om 15:30 (Turkse tyd) ’n aardbewing naby Lesbos Eiland was, 6.3 op die rigterskaal. Ons was 40 km daarvandaan. Ek moet sê ek het na die groot see se kant toe geloer om te sien of daar nie ’n tsunami golf aangerol kom nie. Archie het my egter verseker dat as daar ’n golf was, sou hy ons lankal getref het. Toe voel ek meer gerus.

Dis ’n heerlike windstil dag in die baai. Tot 20:00 en daar begin Gus toe weer met sy nonsens! Vertoorn my siel met sy geloei in my ore. Gelukkig nie met dieselfde fors as gisteraand nie.


1 comment:

  1. wow! No rest for the wicked! Seems as though you guys are having the best and the worst of the weather all within a few days. We wish you happy, calm sailing in the future. Am I correct in seeing a South African AND American flag on Maja? It is amazing to see all your beautiful photos of all these different places - so life-like that you feel that you're there! Happy sailing.

    ReplyDelete