Tuesday, June 13, 2017

Bademli.


12 Junie 2017. Maandag.

Yenifoça tot Bademli


Wat ’n nag. Die deinings rol nou so by ons ankerplek in, dat jy amper nie reguit op Maja kan loop nie. Archie moet eers Migros toe gaan vir voorrade. Ons wou nie gister vir Maja alleen los nie, want jong mans het op haar geklim toe ons gelê en slaap het. Yenifoça is ’n naweekdorp, want baie plesiersoekers kom naweke hierheen.

Archie sit al wiegend Dinkie se motor op en daar trek hy saam met die golwe wal toe. Ek kry solank alles op Maja reg vir ons vertrek. Hy kom terug en ons vertrek 09:30 na Bademli, 17 myl. 

Migros toe 

Ons is bly om die anker op te trek en nie meer bekommerd te wees oor ou Grote nie. Maar dit gaan rof in daai see. Ons spoed is 3 knope met die motor, teen 1800 revolusies. Ons kap die golwe een vir een en Gus waai laat dit bars direk teen ons. Na 23 min is Gus nog direk van voor, maar net so dat ons op “close haul” kan seil met ’n klein genoa. Ons motorseil vir 50 minute teen 1300 revolusies, met ’n spoed van 5 knope. Dit is golwe, wind, seeskuim en sproei en lewensbaadjies. Gus waai so teen 17 knope teen ons vas. Ek is amper lus om te sing!

Maar ou Gus is nie tevrede nie, hy besluit om ons nog harder te kap en waai 20 knope van voor af. Ek neurie my gewone seënbede darem net een keer deur. Ons maak die klein genoa nóg kleiner, Archie sit die enjin af en ons seil vir omtrent ’n uur. Hierdie winde was nie voorspel vir hierdie stuk see nie. Iewers het iets die natuurelemente omgekrap! Die kaptein vat elke golf aan en stuur so dat die seesproei ons darem nie in die gesig tref nie. Maja se pens kap soms die see met ’n harde slag, dan kry ek sommer vir haar pad seer. Ons kan nie glo dat ons so vinnig teen die wind met so 'n klein seil kan seil nie.

Gus bedaar later, want die berge keer hom en die see is baie kleiner en ek baie dankbaar.Dit was regtig ’n goeie seil, met die topspoed van 6.3 knope met ’n klein genoa en die wind van voor. Eensklaps is die wind ’n skrale 6 knope en alles raak rustig. Snaaks!

Dis baie vermoeiend om so te seil. Alles raas en klink hard. Knap gedaan Kaptein! Ons kom by Bademli aan en ons soek ankerplek. Ons was verlede jaar hier saam met Deon en Ryna. Hoe verlang ek nou na hulle geselskap.

Ons gooi daardie anker en maak seker hy byt. Hier kan vanaand Oostewinde kom en dan moet ons reg wees. Ons gaan vir twee dae hier bly. Ek en die kaptein raak uitgeput aan die slaap.

Bademli noordelike ingang
Bademli Baai

No comments:

Post a Comment