8 September 2016. Donderdag.
 |
Uçagiz tot Karaloz |
Archie
gaan gou die oggend voor ons vertrek dorp toe. Hy roei met Dinkie soontoe, maar
toe hy terugkom, is hy so bietjie haastiger en die roeiery is te stadig na sy
smaak. Toe gee hy vet en die motortjie dreun.
 |
Roei |
 |
Gee vet |
Ek groet my sarkofae. Ons gaan
vandag na ’n nuwe plek waar ons nog nie tevore was nie. Die ander aand toe ons
so lekker geëet het saam met ons nuwe vriende, het die ander Engelse van die
tafel langsaan gesê hoe mooi is Karaloz baai, by Kekova Adasi. Dis aan die
suid-westelike kant van Kekova Roads en net 6 myl.
Ons vaar rustig en stadig daarheen.
Die boek sê die ingang is nie baie goed sigbaar nie en jy moet uitkyk vir ’n grot.
Ons kyk toe uit vir ’n grot en sien dit en siedaar! Daar is die ingang. Daar is
twee inhamme waar jy kan anker en dan met ’n lang tou aan die rotse op die land
vasmaak.
 |
Ons vaar |
 |
Grot by ingang |
In die een inham is daar reeds ’n jag
en ons gaan na die ander een. Daar is net plek vir een jag om daar te anker en
die geluk is aan ons kant. Ons anker en Rambo swem land toe met al sy kettings
en toue. Hy het die kuns om altyd die beste rotse en gate uit te snuffel om die
toue aan vas te maak. En vas is ons.
 |
Rambo |
 |
Karaloz |
Daar kom ’n hele paar gulets en ekskursie
bote ingevaar, maar hulle maak daar vêr vas en pla ons nie. Hulle almal ry
later, ook die seiljag en ons is stoksielalleen by Kekova Adasi. Daar is geen
mens naby nie. Die enigste bewys van nog lewe op die ganse aarde, is twee bokke
wat daar rondloop.
 |
Alleen op anker |
Dis doodstil. Ons hoor net hoe die
water saggies teen die rotse klots. Die berge rondom ons vervaag tot dowwe donker
reuse wat oor ons waak. ’n Sekelmaan hang speels in die lug en verdwyn onnutsig
agter die berg. Dis net ons, die uitspansel en die donker.
Dit betower my en ek word intens
bewus van die natuur. Ons word en is natuur.