Wednesday, September 14, 2016

Çineviz.



11 September. Sondag.

Finike tot Çineviz

Vandag is dit ’n lang pad na Çineviz, 27.1 myl. Ons vertrek vroeg, 06h30 uit Finike en die eerste deel is net die lang kruising van 12 myl oor die groot baai. Dan is dit om die punt en dan noord-oos. Gus gedra hom baie goed en ons seil vir ’n baie kort ent. Toe is dit weer seile af en ons prrr verder. Hierdie winde is verseker nie die erge winde wat ons die jaar in Griekeland gehad het nie

Die kuslyn in die deel van die wêreld in ongewoon mooi. Mooi berge en kranse wat tot in die see strek. Archie sien weer vir Skillie en hy is baie groot en die mooiste helder kleure. Toe ek hom op film wil verewig, duik hy die dieptes in. 

Pragtige kuslyn

Ons vaar verby ’n deel waar daar ’n klomp grotte is en vir ’n bonus sien ons ’n paar dolfyne. Hierdie is kykgenot en sienplesier. 

Grotte
Naby Çineviz

Ons kom by ons baai. Dit is die noordelike baai, want dit is meer beskut as die baie mooi suidelike baai. Ons kry ankerplek en gooi daai anker dat hy goed byt. Hierdie deel van Turkye het bedags ’n suidewind en saans ’n noordewind. Die Meltemi waai nie hier nie. Ons baai het sterk rukwinde in die vroegaand as gevolg die hoë berge. 

Ingang tot die baai

Ons gaan stap op die land en sien van bo af hoe mooi is die suidelike baai. Die berge is te steil en ons kan nie ’n hoë uitsig van ons baai kry nie. Die berge in die vêrte het ’n donsige wit wolkkombers wat saggies op sy pieke rus.

Suiderlike baai
Çineviz Baai
Çineviz ankerplek

Hier is sulke wonings wat soos plakkershuise lyk. Mense bly hier en hulle ontsier die baai met hulle rommel. Ekskursie bote kom en gaan met plesiersoekers wat in die een baai na die ander swem. 

Plakkers
Sitkamer

Die rukwinde kom en pluk aan ons, maar dit hou gelukkig nie lank aan nie. Hier slaap vanaand nege ander bote saam met ons in die pragtige baai.

No comments:

Post a Comment