Thursday, July 10, 2014

Mykonos. Skitterwit.

10 Julie 2014. Donderdag.

Vakansiemekka? Inderdaad!

"Little Venice"

Mykonos is witter as wit. Dis skitterwit. Dis spierwit. Dis 'n tipiese wit Griekse eilanddorpie. Die kerke is wit, die huise is wit, die alles is wit. Met 'n titsel ligblou en donkerblou en seegroen, titsels van alle kleure.

Wit trappe op
Wit trappe af
Windmeule
Een wit windmeul
Paraportiani kerk

Dit wemel van mense, meestal bronsgebrande lywe. Almal sensueel natgesweet van die hitte van 'n skroeiende son.

Ons drink 'n frappe (tipe yskoffie) en 'n kataifi (soort baklava) op 'n piepklein balkon. Die koffie is te bitter en die kataifi is te soet.

Ons wag vir ons frappe
Doedies

Mykonos is verseker 'n besoek werd.

"Lady in white"











Mykonos.

9 Julie 2014. Woensdag.

Ermoupolis tot Mykonos

Ons vertrek 07:30 van Ermoupolis na Mykonos (37° 27.889 N, 25° 19.624 O), 19.1 myl, die vakansiemekka in die Cyclades.

Vroegoggend in Ermoupolis
Ermoupolis

Jy sal dit nie glo nie, maar die water is plat. Meltemi het vir Gus gaan kuier, want hy is nêrens te sien nie. Jou waarlik, ons motor al die pad na Mykonos.

Die bemanning het 'n streep weg

Die eilande hier is heel anders as dié in die Ioniese see. Ek mis die olyfbome, die groen wat die landskappe sagter en vriendeliker laat lyk. Hierdie berge en heuwels is bar en hard. Daar is iets ongenaakbaar in hul voorkoms.

Bar en hard

Oppad breek ons die ietwat vervelige geprrr-prrr met  'n diepseeswem. Archie is meer man, want hy swem saam met drie pragtige meerminne.

Meerminne

Mykonos lyk uit die verte na 'n wit blob in die bruin. Vakansiemekka? Ek wonder...

Wit blob

Ons kry 'n vasmeerplek in die marina. Archie en die vasmeerman het so effense woordewisseling oor toue, maar nie lank nie en ons is vas. Dit is warm en ons drie vrouens lê en slaap soos vrot velle en Archie is kort op ons hakke. G'n mens kan iets produktief doen in die hitte nie. So, ons siesta soos regte egte Grieke.

Toe mens weer kan leef en ons uit ons sweetbeddens opstaan, klim ons die waterbus en gaan dorp toe.

Mykonos

Syros Eiland. Verjaarsdag op Ermoupolis.

8 Julie 2014. Dinsdag.

Ons tweede dag in Ermoupolis. Ons raak nou gewoond aan die gewieg op Maja. Jy maak maar vrede daarmee.

Ons gaan dorp toe. Ons stap in die straatjies rond en verkyk ons aan die ouwêreldse geboue. Die Japannees in Elize word weer wakker en sy neem net foto's.

Ons stap op na die kerk op die heuwel net agter die dorp. Die kerk is mooi van binne en buite met 'n panoramiese uitsig.

Kerk op die heuwel
Mooi van buite ...
... en mooi van binne
Uitsig oor die dorp
St Nikolas kerk

Ons begin die aftog te blaas. Ons besoek nog 'n kerk. Onthou ek is mos eintlik 'n kerkmens. 'n Priester is besig om die reuse kandelaar se kristalle skoon te maak. Een vir een, met groot sorg en toewyding.

Ons stap rustig terug na Maja verby klein, tradisionele wit en blou kapelletjies, straatmusikante, ou geboue en steil trappies-straatjies.

Kapelletjie
Teen die hortjies
Ou gebou
Trappies-straatjie
Driemanskap

Vanaand gaan Archie ons vrouens uitneem vir ete, want ek verjaar.

Ek verjaar
Bon appetit

Tuesday, July 8, 2014

Syros Eiland. Ermoupolis.

7 Julie 3014. Maandag.

Loutron tot Ermoupolis

Dit is amptelik! Ek hou nie van groot see en wind nie. Dit verswaar my gemoed. Ek dien vandag weer my vonnis uit - langpad van 31.6 myl op die Aegean See, na Ermoupolis op Syros Eiland (37° 26.597 N, 24° 56.619 O).

Ons trek vroeg weg, 06:15. Meltemi het my eetlus weggeraap, so ek dink ek gaan nou rietskraal word. Voor ons vertrek, wurg ek 'n eetlepel muesli en 'n teelepel jogurt af.

Goue see

Ons verlaat die beskutting van die hawe, groot see toe. Ek dink ek het versagtende omstandighede gekry, (sekerlik nié vir goeie gedrag nie), want die see is kalm en Meltemi waai net lui-lekker.

Die kaptein beveel: "Span die seile!" Elize en Annette raak nou regtig goed. Ek skuif agter die helm in, Archie gaan hoofseil toe en die vrouens beman hul toue. Hulle trek hier en los daar en laat die boom uit en trek die genoa uit en siedaar! Ons seil!

As Meltemi net daaraan dink om aan ons te ruk, beveel ek altyd en dadelik aan dat ons reef. My leuse is: "Reef terwyl jy kan en vroegtydig, want spyt kom te laat." Ek glo glad nie aan : "Van skande en skade word jy wys" nie. Nee, reef en daar is geen skade nie.

Suidpunt van Syros

Dit raak 'n besondere goeie seildag. Alles gaan goed en maklik. Die ergste stuk was die laaste twee myl na die hawe waar die deining ons toe goed skommel.

Naby Ermoupolis
Ingang tot hawe

Ons meer vas by die dorpskaai. Maar is die hele hawe-kaai swak beplan! Die swelling van die veerbote slaan teen die kaai vas en bons terug. Ons arme jagte wat hier vasgemeer is, skommel soos op die oop see as hier 'n veerboot kom. Om oor die plank aan wal te loop, is 'n missie. Jy hoop en bid jy val nie in.

Die dorp is baie mooi en ons gaan ry op die treintjie deur die dorp. Dis 'n trein met wiele wat op die pad ry. Griekse musiek word luid op die spreker gespeel en die omstanders wieg ritmies saam as die trein verby ry. Die feestelikheid van die trein lig my swaar gemoed.

Ons ry die trein ... 
... ons ry die trein ...
... Ermoupolis se trein

Die nag slaap ons almal wieg-wieg in ons beddens.

Kythnos Eiland. Loutron.

6 Julie 2014. Sondag.

Vourkari tot Loutron

Elke dag is langpad. Dit klink amper soos tronkstraf. "Vir diefstal word jy tien jaar hardepad gevonnis". Ek word ook nou gevonnis. "Vir al jou oortredings word jy, vir elke dag 'n langpad op die rowwe Aegean see  gevonnis."

Ons trek weg na Loutron, op Kythnos Eiland (37° 26.575 N, 24° 25.586 O), 20.5 myl, 5 ure se langpad. Ons vaar om die bo-punt van Kea Eiland. Meltemi waai in ons gesig. Om die draai kry ons die wind van agter en ons seil vir 2h30 min. Later word die deinings groter en groter.

Amper daar
Annette geniet die rowwe see
Elize, gepanser teen Meltemi

Net toe ek wil moedeloos raak, is ons by die hawe. 'n Uiters bekwame hawemeester dui die plek aan, met vreeslike duidelike instruksies: "More right, drop anchor, more left, stop Captain, up anchor, fix rope, good anchor." So laat hy die een jag na die ander veilig in die baai vasmeer. Almal is dankbare bemanningslede na 'n rowwe dag op see.

Vissershawe

Dis 'n baie klein dorpie, maar pragtig en verwelkomend. 'n Rusplek vir my vermoeide, windvernielde siel.

Ons gaan stap boontoe om 'n uitsig oor Loutron te kry.

Wit huise, barre berge
Uitsig oor Loutron

Ons geniet ons verblyf in die juweel.

Sunday, July 6, 2014

Kea Eiland. Ioulis.

5 Julie 2014. Saterdag.

Ons bly nog  'n dag in Vourkari en neem 'n taxi na Ioulis, 'n mooi dorpie op 'n heuwel (chora). Dit was jare terug die oorspronklike hoofstad van Kea. Die dorpie is hoog in die heuwels gebou om dit teen seerower-invalle te beskerm.

Ioulis
Ioulis
Landskap

Dis weer trappies op en trappies af, stegies op en stegies af. Elize se kos!

Trappies
Boog

Die ou geel kerkie in die rotse betower my, en ek en Archie vertoef 'n rukkie op die stoep van die kerkie in die skadu van 'n ou boom. Sit sommer net so.

Grotkerkie

Ons klim die bus terug na Maja en ek en die vrouens gaan stap op opper opste om 'n mooi foto van die baai te neem. Ek sien 'n ou slangetjie wat vinnig wegseil in die pad. Hy is banger vir my as ek vir hom. Ek is mos baie groter as hy.

Aandskoot - Silwer see

Dit was 'n heerlike dag sonder die skommel van die see en Meltemi se gewaai.

Saturday, July 5, 2014

Kea Eiland. Vourkari.

4 Julie 2014. Vrydag.

Gelukkige Onafhanklikheidsdag vir ons VSA-lesers.

Sounio Baai tot Vourkari

Die nag was taamlik windstil, totdat 'n windvlaag my 03:20 wakker raas en ek daarna nie weer kon slaap nie. Ek doen toe maar nagwaak. Gus waai verwoed. Die anker hou. 05:30 is almal wakker en op, tot Elize. Ons drink toe maar kapteinskoffie.

Weer eens die groot vraag - vaar ons of bly ons? Die wind die waai en die see lyk groot. Hóé groot, sou ons nog uitvind.

Archie sê ons vaar en ek wonder in my enigheid of hy van sy sinne beroof is. Onseker of ons die regte ding doen (want my anker het so goed gebyt), trek ek dit op.

Ons vertrek 08:00. Gus se naam is nou die Meltemi. Dis 'n wind wat sonder moegword net altyd waai. Hy klits die see op tot rollende massas water wat net tol en rol en rol ...

Ons vaar na Vourkari (37° 39.948 N, 24° 19.484 O), 16.7 myl, op Kea Eiland. Meltemi waai en die see is groot. Archie vat die helm vas en pak deining vir deining aan.

Die area tussen Cape Sounio, waar ons was, en  Makronissis- en Kea Eiland, waarheen ons oppad is, word die Cavo Doro genoem. Verskillende seestrome en winde wat vanuit verskillende rigtings waai, veroorsaak dat dié seestraat as een van die moeilikstes in die  Meditereense See is om te kruis en word blykbaar as 'n moerse prestasie in die seilersgemeenskap beskou. Die boek sê: "There are two seas to torment us on the journey." En dan is daar nog die wind wat tot 34 knope waai.

Niks lekker nie

En daardie twee seë het ons beproef. Groot deinings wat vir Maja na 'n spikkel laat lyk, Archie wat die helm nie vir 'n oomblik kan los nie. Ek en Annette vat ook die helm vas vir 'n wyle.

Archie en Annette

Water spoel oor Maja se snoet en tref ons kolskoot in die gesig. Ek en Elize gaan lees die kaart by die kapteinstafel, maar dit skud en skommel so daar onder, dit is seesiek se dinge. Wat toe ook met Elize gebeur. Sy skiet haar katjie ewe netjies in 'n plastiese sak en hou dit vas totdat ons, na wat soos 'n ewigheid voel, die kalmte van ons baai bereik. Toe gooi sy die katjie oorboord. 

Elize en haar katjie

Vir my was dit niks lekker nie en ek dink Maja het dit ook nie geniet nie. Sy en haar motor het heeltyd wind-op voortgesukkel op die "cross sea".
Hoe heerlik was die kalmte van die baai! Archie was moeg van al die konsentrasie. Al wat ons kon sê was: "Welgedaan Kaptein, jy het ons veilig daardeur gekry!"

Vourkari Baai

Ons slaap die nag veilig vasgemeer teen die dorpskaai.