Friday, May 2, 2014

Patra. Papierwerk.

2 Mei 2014. Vrydag.

Archie is op 'n besigheidsbesoek na die doeane. Ek loop te stadig na sy smaak, dus ek word agterweë gelaat. Onthou, my knieë is mos moer toe.

So sit ek langbeen-alleen op die dek. Eet my pomelo en lemoen, in blokkies gesny, vir ontbyt. My vriendin, Riana, se Walkman speel in my ore en ek luister na my skoonsus, Ansu, se Tol en Tol musiek. (Ek wonder nog altyd oor die naam).

Langbeen-alleen

Ek proe die bitter-soet smaak van die pomelo op my tong en dit herinner my aan die lewe. Die son skyn op my vel. Gus waai nie, hy streel my wang net liggies, vriendelik.

Die musiek in my ore voer my na ver, vreemde plekke. Lig my op, hoër en hoër. Toe besef ek in ekstase en verwondering, ek is in ver, vreemde
plekke, weggevoer deur my kaptein-man, Archie! My oë word nat oor die wonder van die lewe. Ek stem saam met Archie: "Life is good!"

Dis stil op die kaai en in my hart. Die mense is elders. Die bote wieg ritmies saam met die musiek, liggies heen en weer en weer en weer...




Archie kom terug toe die oggend in middag verander, met goeie nuus. Na ure se gesukkel en 'n amperse boete van €1 000.00 en 'n betaling van €30, is Maja weer wettig in Griekse waters. Ons het die seilpermit. So, ons voornemende besoekers van Suid-Afrika, kan ontspan - julle kan kom saamseil!

Archie is op sy volgende missie - hy moet toestemming by die hawepolisie kry om verder te seil, die seilpermit laat stempel en 'n bemanningslys indien. Die son skyn, maar hy kom bewolk terug. Ons versekering is onvoldoende, hulle stempel NIE!

Nou moet hy vir Linda in Kroasië (waar hy die versekering uitgeneem het) bel, en sy sê hulle kan dit eers Maandag regmaak. Ons sal nie voor Maandag begin seil nie. Vir hom is dit baie erg, want hy jeuk om te begin seil. Ek bly nog alte lekker in Patra.

Archie sê: "Life is one big slog!" en hy bars my bubble!

Thursday, May 1, 2014

Patra. Lentedag

1 Mei 2014. Donderdag.

"May day, May day, dit is Maja en dis lentedag!" En die son skyn en bring Benito aan boord met sirkel sonskynblomme. Met 'n breë glimlag wens hy ons 'n "happy first of May day" toe. Die blomme beland op Archie, die blommekind, se kop en dit lyk goed.

Blommekind
Jag agter breekwater

Ek sit my tweede hoed op en ons sit af dorp toe. Ons gaan vandag die besienswaardighede in Patra besien. Die strate is propvol mense wat
die heerlike, sonnige eerste Mei geniet.

Ons stap na die St Nicholas trappe. Dis die trappe wat jou na die Middeleeuse kasteel neem. Ons klim en klim en kom bo.

St Nicolas trappe

Dis hoog en ons kyk neer op die dorp en verder lê die see.

Uitsig oor Patra

Ons stap na 'n koepelkerk sonder naam. Dis agter slot en grendel.

Gesluit
Koepelkerk
Dartel-dartel drentel ons verder na die kasteel. Die hek is met 'n moerse groot slot gesluit, alhoewel die kennisgewingbord sê dat dit op publieke vakansiedae van 08:30 tot 15:00 oop is. Geen kasteel vandag vir ons nie. Alles is toe hier in Griekeland.

Kasteel

Ons het geen haas nie en stap tussen die wonings terug. Daar is mooi malvas vir my ma.

Malvas vir my ma (Kyk die simpel hoed)

Dis middagete-tyd en die Griekse mammas kook. En dit ruik lekker! Ons was reeds dors en toe word ons honger. Terug in die dorp kry ons 'n eetplekkie en bestel souvlaki en wit wyn. Dis yskoud en heerlik. Ons sit suip terwyl ons vir die kos wag. Die lente klim in almal se gesigte en hul breek oop tot 'n gelukkige glimlag. Ons geniet Patra.

Ons sit suip

Terug by Maja oorval die lomerigheid my en ek knip 'n uiltjie. Uitgerus na die slapie, begin ek kook. Ons eet vanaand spagetti met gate. As kind
het ons spagetti slangetjies genoem. Hierdie goed is dan seker luislange.

Luislange

Wat 'n lekker dag!





Patra. Doldag doeane.

30 April 2014. Woensdag.

Na 'n heerlike lang nagrus, voel ons piekfyn. Ons werfskaf in en om Maja. Daarna moet ons Port doeane toe gaan om ons seilpermit te kry. Ons stap na die doeanekantoor. Die amptenaar verwys ons na die "New Port". Dis ver soontoe en ons neem 'n taxi. Archie kom by 'n amptenaar wat glad nie kan Engels praat nie. Albei beduie vir die vale. Later help 'n "tolk", maar hulle kan nie hond haar-af maak nie.

 'n Blonde Griekse vrou kom toe tot almal se redding. (Drie hoera's vir die blondies!). Na baie gepraat en verduidelikings, verstaan almal. Die doeanekantoor waarheen ons moet gaan, is op 'n ander plek en maak drie-uur toe (dis nou 02:55) en is ook nie môre oop nie, want dis Werkersdag. Ons kan eers Vrydag ons saak aan hulle verduidelik en miskien, hopelik 'n seilpermit kry. Ons is blykbaar nou wettige immigrante met 'n onwettige seiljag.

Ons loop die 5 km terug en wil Internet koop by Vodafone Shop, maar hulle het vroeg toegemaak, want dis mos môre vakansiedag. Maak eers weer Vrydag oop.

Patra vanaf Maja

Benito, die man wat vir Maja opgepas het, wag ons in. Hy en Archie praat oor Maja.  Ek gee vir hom 'n klein pakkie biltong uit Suid-Afrika. Hy is so in sy skik daarmee en vergoed ons later die middag dubbel en dwars met 'n groot bottel heuning, vars uit sy eie byekorwe. Toe is ek in my skik, hoor!

Benito Garcia en ek

Reg om dorp toe te gaan. Let op die simpel hoed
Archie het vreeslik ge-oe en ge-aa omdat ek vier hoede, al die pad van Suid-Afrika af saamgebring het. Hy dink ek is bietjie simpel. "Who needs four hats!?" Ek natuurlik!

Maja lyk nog goed na 'n lang winter

Ons sal eers Saterdag, as ons hopelik die permit het, begin seil.