Friday, May 2, 2014

Patra. Papierwerk.

2 Mei 2014. Vrydag.

Archie is op 'n besigheidsbesoek na die doeane. Ek loop te stadig na sy smaak, dus ek word agterweë gelaat. Onthou, my knieë is mos moer toe.

So sit ek langbeen-alleen op die dek. Eet my pomelo en lemoen, in blokkies gesny, vir ontbyt. My vriendin, Riana, se Walkman speel in my ore en ek luister na my skoonsus, Ansu, se Tol en Tol musiek. (Ek wonder nog altyd oor die naam).

Langbeen-alleen

Ek proe die bitter-soet smaak van die pomelo op my tong en dit herinner my aan die lewe. Die son skyn op my vel. Gus waai nie, hy streel my wang net liggies, vriendelik.

Die musiek in my ore voer my na ver, vreemde plekke. Lig my op, hoër en hoër. Toe besef ek in ekstase en verwondering, ek is in ver, vreemde
plekke, weggevoer deur my kaptein-man, Archie! My oë word nat oor die wonder van die lewe. Ek stem saam met Archie: "Life is good!"

Dis stil op die kaai en in my hart. Die mense is elders. Die bote wieg ritmies saam met die musiek, liggies heen en weer en weer en weer...




Archie kom terug toe die oggend in middag verander, met goeie nuus. Na ure se gesukkel en 'n amperse boete van €1 000.00 en 'n betaling van €30, is Maja weer wettig in Griekse waters. Ons het die seilpermit. So, ons voornemende besoekers van Suid-Afrika, kan ontspan - julle kan kom saamseil!

Archie is op sy volgende missie - hy moet toestemming by die hawepolisie kry om verder te seil, die seilpermit laat stempel en 'n bemanningslys indien. Die son skyn, maar hy kom bewolk terug. Ons versekering is onvoldoende, hulle stempel NIE!

Nou moet hy vir Linda in Kroasië (waar hy die versekering uitgeneem het) bel, en sy sê hulle kan dit eers Maandag regmaak. Ons sal nie voor Maandag begin seil nie. Vir hom is dit baie erg, want hy jeuk om te begin seil. Ek bly nog alte lekker in Patra.

Archie sê: "Life is one big slog!" en hy bars my bubble!

3 comments:

  1. Hallo daar! Ai, is dit nie lekker om so langbeen op die dek te sit met die musiek en alles en dankbaar te wees oor die wonders vd lewe nie. Gedig se dit alles. Dit lyk my die Grieke is bietjie moeiliker as die Kroasiers met die seilery. Ek hoop vir Archie dat julle Maandag die pad (see) kan vat Corfu toe. Gelukkig dat Archie nie die boete moes betaal nie. Geniet die naweek. Liefde xxE

    ReplyDelete
  2. Annette LoedolffSaturday, May 03, 2014

    Sjoe, Archies, en ek dog papierwerk is net hier in Afrika 'n "slog"....ek hoop regtig julle kan nou aan die geseil kom Maandag. Marieks, ek sien jou langbeen sit en ek lees hoe Maja wieg...en my mond water!!! Eks verlig oor daai paar Eurotjies se boete wat julle gespaar is, kon nogals 'n demper gewees het. Nou ja, rustig wees tot Maandag, drink die son en pomelo in (dalk net die sap), en ENJOY!! xxAnnette

    ReplyDelete
  3. Hier is ek, ek het nou vir die eerste keer kom lees en dit was heerlik. Ons het gaan stem en loop nou met die swart duimpie rond. Die hele proses het niks meer as vyf minute geduur nie. Ons is net na drie uur stemlokaal toe (ek dink die res het almal gou 'n middagslapie gevang) die dat ons soos blits daardeur is. Vandag skryf Roan Engelse toets! Arme ding,......ek hoop dit gaan goed! More is dit Wiskunde! Die dat ek nie by die lekker lees kan uitkom nie!
    Julle het behoorlik deurgeloop om weer aan die gang te kom! Mag julle gladde water he van hier af aan!

    ReplyDelete