Wednesday, April 17, 2013

Ry, ry, ry

Vandag moet ons Roussillon toe. Ons het in 'n gastehuis bespreek vir vier nagte.
Ons pak die wapad aan. Archie agter die stuur (hy weet darem al waar links en regs is) en ek met die GPS vasgeklem in my hande.

Ons eerste ontspan-stopplek is Lurs.  Ek sê "ontspan-stopplek", want die gery in die verkeer op die smal paaie is eintlik vir 'n pensionaris en sy werklose vrou baie stresvol. Ons ontspan net as ons stop.
Lurs is 'n historiese monument. Dis is 'n baie ou dorp, soos die res van die dorpe in Provence.

Lurs


Van Lurs af, is dit Sisterton, met sy interessante rotsformasies. Ons maak 'n draai by die Citadel. Dit is soos 'n fort. 'n Stad met mure om wat Napoleon van ouds verower het.

Mure van die Citadel

Sisteron se rotsformasies


Ons laaste stopplek is Forcalquier. Alweer trappies-trappies op, tot bo!

Trappies, trappies ..
... na die kapel bo-op die koppie agter die dorp ....
.... met sy uitsig oor Provence

Roosvenster in Folcalquier se abdy (eglise)

Roosvenster se kaleideskoop van kleure op kolom



Vandaar na ons nuwe heenkome, Les Huguets, naby Roussillon. Wat 'n aangename verrassing na die lang dag op die pad! Die gastehuis, Les Passiflores, is soos 'n oase in die woestyn. Baie gawe gasheer, en 'n nòg gawer kamer, keurig gedekoreer en boonop ruim.

Vanaand gaan ons daai mooi bed seermaak!


Grand Canyon du Verdon

Lekker geslaap!  Vandag ry ons berge toe. Dit bly maar my eerste liefde om in hoë, groot, growwe berge my siel opnuut weer te vind.

Ons ry kronkel-kronkel deur die draaie van die benoude, nou paadjie oppad na Canyon Du Verdon. Die hoë kranse en besonderse rotsformasies is te groot om op film vas te vang. Foto's doen afbreek aan die Canyon. Ons eerste stopplek  is by die Belvedere du Couloir Samson. Ons klim uit en stap af tot onder in die Canyon. Die paadjie is deel van 'n staproete. Daar is talle belvedere en ons stop dikwels om beter uitsig en vergesigte van die grootsheid van die berge te kry.

Canyon du Verdon

Canyon du Verdon

Canyon du Verdon

Ons durf die Route des Cretes aan. Dit het asemrowende uitsigte wat prentjies in jou geheue vasbrand wat jy nie gou sal kan vergeet nie. Die lug is vars en skoon en verkwik my siel. Die roete klim uit teen die hoogste punte van die noordelike rivierbank. Die bangmaakpad is nou en party keer nouer en soms nouste.
Verdonrivier

Ons eet selfgemaakte broodjies by La Palud-sur-Verdon
Broodjie-uitsig

Daarna volg ons die pad na Moustiers-Sainte-Marie. Dis n pragtige ou dorpie. Natuurlik stap ons op, opper, opste na die Notre-Dame de Beauvoir kapel wat bo-op n heuwel is. (Al die verdomde kapelle is altyd op die hoogste heuwel en jy moet 'n moerse klomp trappe klim om daar te kom). Maar ek is mos eintlik 'n kerkmens, ek klim! Weereens word jy beloon met 'n pragtige uitsig.

Ek klim ....

Moustiers-Sainte-Marie

Moustiers-Sainte-Marie

Ons ry verder, oor die Verdonrivier en verby die Lac de Saint Croix.




Ons ry verby Trigance en kry koers huis toe.
Trigance Village

Met elke uitsig van grootheid  wat ek sien, word al die kopspeldspikkels van doodsheid in my siel, verklein tot die grootheid van die berg...

Uitsig van grootsheid




Monday, April 15, 2013

Vinkelsop a la Castellane


Hierdie "chunky" sop is gemaak met groente wat gekoop is en oorskiet gebraaide heel hoender. Normale bestanddele soos botter, olie, peper en aftreksel was nie beskikbaar nie.





Bestandele
2 Vinkelknolle gesny
2 Preie gesny
1 Ui gekap
Bietjie wit wyn ('n Plaaslike wit wyn - Saint Patrice van Alpes de Haute Provence - is gebruik)
Bietjie melk
Knertsie sout
Hoendervel van oorskiet gaar
hoender
Hoenderkarkas
Klein wiggie ryp coulommiers kaas
Vererige deel van vinkelknol

Metode
Sny vinkel, preie, ui en hoendervel  in stukkies. Gooi in kastrol en braai 'n ruk. Voeg 2 koppies water en hoenderkarkas by. Kook, nie te lank nie, tot groente sag is.  Voeg sout en wit wyn by en kook nog 'n rukkie. Voeg melk en kaas by en bring tot kookpunt. Gooi vererige deel van die vinkelknol by.
Bedien met vars baguette brood en die res van die wyn. 

Bon appetite!


Niks lekker nie.

In normale, gunstige, streslose omstandighede in ons Vaderland, waar ons ons Moedertaal praat, weet ek en Archie nie altyd waar links en regs is nie.
So stap ons doelgerig, tog benoud, na die Avis kantoor om die motortjie te kry. Ons gaan die res van ons Franse toer na Provence met wiele aandurf. Na 'n klomp rompslomp, kry Arch die sleutel en ons sit af parkeerplek toe. 'n Astrante rooi motortjie wag vir ons. Ons kyk vir mekaar en klim in. Sit eers 'n ruk doodstil, wonder of ons nie liewers heeldag in die veilige parkeerplek moet bly sit nie.


Na 'n diep sug, sluit Arch die motor aan. Ek sit met die GPS (tablet), vasgeklem in my  hande. Ek moet navigeer. Nice is 'n  besige stad, met verkeer net waar jy kyk. Ou Archie het nog nooit met 'n regse motor aan die verkeerde kant van die pad gery nie. Alles is verkeerd om. In abnormale, ongunstige, stresvolle omstandighede in 'n vreemde land waar ons nie die taal verstaan nie, weet ons GLAD NIE waar is links of regs nie!
DIS NIKS LEKKER NIE!!!

Archie dryf, ek probeer navigeer met 'n tablet wat nie samewerking gee nie. Ons verdwaal, ry soms drie keer om n sirkel, sweet, vloek (net 'n bietjie). Ek verlang skielik na my stout skoolkinders, na die koue Parys, met sy oorvol metrotreine.
Wel, na baie ontberings, en 'n paar insidente wat ek liewers wil verswyg, kom ons by Castellane aan. Mooi ou dorpie, met 'n kiertsregop kerkie op n hoë heuwel. 

Castellane met sy kapel op die klip
Die ou kerktoring en die kapel
Daar's nog sneeu op die berge ......
.... maar dis lente in die dorp.

Die kapel is die fokuspunt van die dorp

Ons lêplek vir die aand, is 'n " **** idéale residence mobile" met twee slaapkamers, kombuisie, koffiemaker, yskas, mikrogolf, stort en aparte WC. Die hoogtepunt was luuksheid!

Ek maak vanaand fennelsop!


Ons koop wyn. Vanoggend het ek leer vloek, vanaand leer ek "suip". 

Ons 4* verblyf


Sunday, April 14, 2013

Monaco

Ons het vandag met die bus Monaco toe gegaan. Die bus was stampvol. Ons het by die Monte Carlo Casino afgeklim. Dis is pragtige gebou met 'n baie mooi tuin. Oral was swart motors. Dit lyk my ryk mense ry swart motors. Dis net die Ferrari's wat 'n ander kleur is, meestal rooi. Maar dit was die pienk Fiat 500 met die afgesaagde  kappie  wat die meeste aandag getrek het.

Monte Carlo Casino
Monte Carlo Casino
Monaco met sy megajag marina
Monaco is eintlik 'n "concrete jungle"

Ons het 11.55 gaan kyk hoe ruil die paleiswagte hul skof om en was in die katedraal waar die koninklikes trou.
Die see is pragtig en daar is baie mooi en groot jagte. Ou Arch kan maar net daarvan droom. Ons het langs die hawe geëet. Ons het baie in Monaco gestap en gekyk na die speelplek van die rykes.

Archie kan net droom ....

Ons is terug Nice toe en het 'n ander bus gevat na Eze Village. Dis 'n middeleeuse dorpie op 'n heuwel.
Hierdie keer is dit net ons twee op die hele bus.

Eze Village
Eze Village

Eze blomme vir my Ma



Saturday, April 13, 2013

Stappers

Seilende sigeuner?  Nee, eers Mei.
Reisende sigeuner? Nee, ook nie!
Stapper van formaat? Wel, ja!
Dit is nou ons tweede dag in Nice - Saterdag 13 April.
Ons geniet ons gate uit. Ons snuffel in die talle klein winkeltjies. Ons bewonder al die spyskaarte in die seekos restaurante (ons kan nie al die eksotiese seekos bekostig nie). Ons verdwaal in die ou stad,stap vir ure rond om alles te verken en te beleef.  Ons asem die stad in en word deel daarvan.

Een van die talle fonteine en standbeelde
Kerktoring in Nice se ou stad

Die see is Mediterreens blou en die wind rol-rol die branders te pletter op die klein-klippie strand. Ons stap al langs die see.

Daar is sowaar golwe
Op die Promenade des Anglaise
Nice se hawe

Gisteraand, toe ons terug stap na ons woonplek, keer 'n ou Duits-Franse dame ons voor. Sy gesels land en sand. Sy vertel van die geskiedenis van die ou geboue en stap 'n ent saam met ons. Soos 'n wafferse toergids beveel sy aan dat ons die dorpie Vence moet besoek. Dis 'n baie ou dorp.

Vanoggend soek ons toe ewe gehoorsaam die bus wat na Vence gaan. Daar is twee busse, 400 en 94. Die 94 bus kom en ons klim, gretig om die besonderse ou dorp te sien. Na 'n uur se ry kom ons in Vence aan. Ons is ietwat verbaas, want dit lyk maar na 'n gewone dorp. Die busbestuurder sê ons moet eintlik na Vence St Paul gaan. Ons begin te stap. Na 7 km, ja 7 km, met 'n stuk tak wat ek as stapstok gebruik het,
 kom ons (ek) natgesweet en moeg daar aan. Daarom dat ek sê stapper van formaat.

Ons moeite word deeglik beloon met 'n ou Middeleeuse dorpie wat voor ons verskyn! Ons is nog lank nie klaar gestap nie. Ons loop op en af en heen en weer deur die straatjies en stegies. Dit is die blyplek van baie eksentrieke kunstenaars en daar is 'n magdom kunsgallerye.

Stegie in Vence St Paul

Soos gewoonlik het ons vroeg oggend ook 'n draai by n mark gemaak, want dit trek ons soos 'n magneet. Ons kan net nie 'n mark weerstaan nie!

Versuikerde vrugte - selfs turksvye. Ons koop!


                     

Friday, April 12, 2013

Parys - Laaste dag

Weervoorspelling - bewolk, maar geen reen nie. Dis weer verkeerd! Vanoggend het die son bietjie geskyn en vanmiddag het dit bietjie gerëen.

Wat 'n lekker dag was dit! Ons is vroeg-oggend mark toe. Vrolike piesangs, kleurvolle groente en vrugte wat jou mond laat water. Die vinkel steel my hart. Sulke groot, vet knolle wat my lus maak om vir my vriendin, Riana, vinkelsop te kook. Ons loop op en af en bewonder die opbrengs van die Franse aarde. Ons koop aarbeie, olywe, gepekelde haring en piesangs vir middagete, maar ons eet alles op voordat dit middag is.

Groente

Eliza Dolittle - ek dink nie so nie.

Vrug van die see

Scallops

Erotiese oesters


Ons besoek die Gallerie Lafayette, 'n "upmarket" afdelingswinkel. Ek was nie lus om te gaan nie, te arm.
Onthou, ek ìs werkloos. Wat 'n verrassing! Nie al die duur goeters wat jy nie kan bekostig nie. Nee, dis die mooiste winkel wat ek al gesien het. Wat 'n pragtige gebou, veral binne. Amper so mooi binne soos die St Petrus katedraal in Rome. Ek staan verstom, staar verwonderd na al die verdiepings en die loodglaskoepeldak. Wat 'n belewenis - sprokiesmooi.





Volgende op die besoeklys is 'n geskiedkundige begraafplaas. Ek wonder oor al die mense wat al eeue daar lê. Was hulle gelukkig? Hoe het hulle gelewe? Ons sien, onder andere, die grafte van Edith Piaf, Jim Morrison en Chopin. Daar is ook gedenkgrafte van Jode wat in die konsentrasiekampe dood is.

Gedenkbeeld van konsentrasiekamp slagoffers

Gedenkbeeld van konsentrasiekamp slagoffers

Chopin se graf


Ons dwaal in die strate van Parys rond en geniet die geboue en die polsslag van die stad.

Parys HET toe atmosfeer. Au revoir Parys. Môre vertrek ons Nice toe.

Thursday, April 11, 2013

Lente in Parys?


Hi julle sonskyn-mense. Partykeer skyn die son ook in Parys, maar nie vir lank nie. Ons begin al darem die atmosfeer van die stad kry. Dis snaaks as daar nie straatmusikante is nie. Ek dink hulle hiberneer nog, wag vir die son om hulle uit te broei.

'n Brokkie son by die Seine


Het ook al 'n mis in die Notre-Dame Katedraal bygewoon en die nonne in die Basilica du Sacre Coeur hoor sing. Soos engele sing hulle, sê ek jou.

Notre-Dame Katedraal

Parys het 'n magdom mooi ou geboue. Daar is 'n stuk geskiedenis in elke straat en om elke hoek en draai.

Hotel de Bethune Sully (Gebou in 1625)


Place des Vosges. Victor Hugo het in een van hierdie "pavilions" vanaf 1832 tot 1848 gebly.


Gisteraand in die koue gesit en wag tot die Eiffeltoring se ligte aangekom het. Tóé hou ek eers van die groot ou ding.  Jy sien, ek is meer 'n kerkmens.

Tour Eiffel (Eiffeltoring) in die aand 


Ons was ook in die Quartier Marais, besig om my voorsate te soek. Ek was mos hoeka 'n nooi Marais.

Gevind!

Terloops, Archie dra nog steeds sy hoed en neem so nou en dan 'n foto, as die weer dit toelaat.
Ek mis nog nie die skool nie en Archie mis glad nie sy werk nie.


Die Reisende Sigeuner (Begin eers in Mei seil)