Monday, July 11, 2022

Keçi Bükü

 8 Julie 2022. Vrydag.

Gus baljaar nog steeds in Datça. Nou nie so entoesiasties soos gisteraand nie, maar steeds. 

Anker op en ons vertrek na Keçi Bükü, 22.4 myl. Francois en Roelien was saam met ons daar in 2018 en dit was Roelien se beste ondervinding. 

Ons seil vir 'n lang ruk en sien hoeveel bote is in die omgewing. Oral waar jy kyk, is bote. Party van die jagte wat in die sterk windstrook is, seil vir die vale. Lê sommer so skeef. 

Oggendskoot

Skuinslê

By Keçi Bükü kry ons 'n anker plek saam met al die ander bote in die baai en vas is ons. Hier was nog nooit so baie bote op anker nie. Later besef ons hier is 'n klomp vakansiedae wat saamgevoeg is en sommige mense het vakansie tot 17 Julie.

Dit is 'n vreeslike mooi baai met "all round shelter" en ek sal niks anders vir my verjaarsdag wou hê as hierdie windstil baai nie. Ons swem en die water is 26°. Heerlik. As Gus besluit om te waai, is dit net om ons bietjie af te koel.

Die toeriste gaan loop op die sandbank. Dinkie se enjin wil nie vat nie en ek en Archie bly gelukkig en tevrede op Maja.

Keçi Bükü

Baie bote op anker

Loop op sandbank

Waterhond

Keçi Bükü

Archie kook peri-peri hoender en rooi rys as verjaarsdagmaal. Ons smul omtrent en drink ordentlike wyn vir die spesiale geleentheid.

Hierdie heerlike stil baai na al die wind wat ons die seilseisoen gehad het, is seker my lekkerste verjaarsdag ooit in die Med.

Smaaklike kos ...

... met goeie wyn (Kom uit 'n bottel)

Datça

 7 Julie 2022. Donderdag.

Hop pla di, hop pla da, Maja hop weer, hier by Mesudiya! Maar wie kla? Nie ek nie, want dit is windstil. Anker op en weg is ons. 

Vandag is dit Datça, 10,6 myl. Ek sien vreeslik uit daarna om vir twee nagte heerlik teen die kaai vas te maak en sommer net in die dorp rond te dwaal om vaste grond onder my voete te kry. Dan is ons sommer ook daar vir my verjaarsdag, 8 Julie. Die gedagte maak my sommer opgewonde.

Nou dis interessant. Poiseidon voorspel winde van so 10 knope vir Datça en Windy voorspel 20 knope "gusting" tot höer as 30 knope. Nou wie glo ons? Poiseidon was reg oor Mesudiye en Windy verkeerd. Natuurlik wil ek vir Poiseidon glo. Ek hou mos van 'n lê wind.

Maja prrr voerentoe, altyd vorentoe. Ons kom naby Datça en ek sien perdjies op die see. Kan nie wees nie. Skielik waai Gus 19 tot 24 knope. Met windvlae van nog baie hoër. Tot 34 knope, nes Windy voorspel het. 

Ons wil kaai toe en ek wonder hoe meer ons in die sterk wind vas. In die hawe is dit bietjie stiller. Ons sien 'n staanplek by die kaai. Baie benoud in die sterk wind maak ek gereed om anker te gooi. Archie tru perfek in. Toe blaas die hawemeester vreeslik fluitjie en jaag ons daar weg. Ek trek maar anker op. Ons kyk, maar sien nie nog 'n oop plek nie.

Ons vaar toe stert tussen die bene ankerplek toe en gooi anker. Toe begin daai wind eers waai. Ek kyk verlangend na die kaai. Ek wou sooo graag daar gewees het. 

Datça

Archie klim in Dinkie en gaan koop internet. Ek bly op Maja om haar op te pas, want Gus waai te sterk. Archie vra toe vir die man hoekom het hy ons weggejaag. Die plek waar ons in getru het, was vir 'n groter seiljag wat al van die vorige dag wag. Hy het vir ons 'n ander plek gehad, maar hy sê toe hy weer sien, gaan anker ons. Hy het verseker nie hard genoeg vir ons geroep nie. 

Toe is ek sommer de moer in. Hier sit ons en draai en swaai in die sterk wind, en ons kon 'n plek op die kaai gehad het. Nou is dit weer net wind wind wind. En ek is só moeg vir wind.

Friday, July 8, 2022

Mesudiye Bükü.

 6 Julie 2022. Woensdag.

Poiseidon voorspel lekker ligte winde oppad na Knidos, waar ons vandag wil anker. Ons trek anker op en verlaat ons veilige hawe van Bodrum. Ek kyk vir oulaas, soos Lot se vrou, om na Bodrum. Gelukkig verander ek nie in 'n pilaar of 'n ding nie.

Ons nader die punt van die Griekse eiland, Kos. Gus baljaar mos altyd in diê water. En sowaar, skielik waai Gus uit die niet 19 tot 24 knope. Ons span die genoa en ek besef net weer dat ek nie eintlik van seil hou nie. Ek hou van prrr.
``
Ons seil vir 'n uur of wat en later ry ons vir hom weg. Laat hy maar daar by Kos speel.

Ons nader Knidos, wat ook vir ons 'n bekende plek is. Ons vaar in en waar ons altyd anker gooi, is 'n ander jag. Die baai se bodem lyk anders. Daar was altyd groot kolle met seegras, maar ek sien bitter mis seegras. Ons kry 'n plek en gooi anker. Hy sleep. Trek op. Gooi weer. Hy sleep. Trek op. Gooi weer.  Hy sleep. Trek op. Gooi weer. Te na aan groot motorboot. Toe het ek genoeg gehad en ons vaar uit die baai.

Nou moet ons besluit waarheen. Ons besluit op Mesudiye Bükü, 34.2 myl. Ons weet dat mens hier op anker gaan rol, maar die houkrag is goed en hier is nie wind nie. Daar is reeds 'n ander jag op anker, maar daar is plek vir ons ook. Die anker byt en ons is veilig.

Dis 'n mooi baai met baie vakansiegangers. Vrolike sambrele nooi die sonbaaiers uit om in hul koelte te sit. Mense swem. Kinders lag en baljaar. Ons rol in Maja, maar ons is doodtevrede. As jy warm kry, klim jy in die see. 

Mesudiye Bükü.

Mesudiye Bükü.

Vrolike sambrele

Vakansiegangers

Gus is elders, vermoedelik by Knidos. Ek koester die windstilte. Daar is so min tye sonder wind. Ons geniet die baai saam met die Turkse baaiers.

Bodrum drum drum.

 4 en 5 Julie 2022. Maandag en Dinsdag.

Bodrum (9.3 myl) se baai is vir ons 'n bekende plek én veilig om daar te anker. Die kasteel staan nog daar as kenmerk van die baai. Dis 'n plek wat op mens groei. Aanvanklik het ek niks van Bodrum gehou nie. Nou is dit 'n hele ander storie. Ons hou van die plek.

Bodrum se kasteel

Bodrum se kasteel

Ons gooi anker en vas is ons. Dis heerlik windstil in die baai in die dag, totdat die middagbries begin waai. Net sterk genoeg om mens af te koel. Dis my tipe weer die. Ek voel veilig en geborge. Gus pla ons gladnie. Ons gaan vir twee dae hier anker.  Salige salwing vir my windverwaaide siel.

Ons sit op Maja se dek en die atmosfeer kom in die vorm van klank na ons toe aangesweef. Te heerlik. Om na die dorp te kyk ,is soos om fliek te kyk. Oral is daar aksie en lewe. Met hoofspelers wat almal sorgeloos en dolgelukkig lag en gesels.

Ons swem 'n paar keer rondom Maja (ek) en Archie gaan kyk na anker (wat mooi gebyt het).

Die aand vul die desibels die baai. Die Russiese musiek is oorverdowend, maar so mooi. Dan is daar nog al die ander klubs se musiek ook. En dis so wrintiewaar nie eers steurend nie. Inteendeel, ons geniet dit. 

Die volgende dag gaan ons land toe. Dit wemel van mense wat rondloop, koop en eet. Dis vir my lekker om weer voet aan wal te sit. Ek hou nou meer eenmaal van droë grond onder my voete.

Oorgroot lamp

Beroemde Bodrummer

Beroemde Bodrummer

Een van talle winkels

Vrute nagereg

Ek koop 4 vadoeke vir Marchie's Place. My lewe draai om die koop van vadoeke. Ons koop kosvoorraad en toe is ons reg vir die volgende been van ons reis.

Ek geniet die windstil dae op Bodrum. Dis lafenis vir my siel. Ek is so moeg van wind.

Bote in die baai

Bodrum Baai

Bodrum Baai



Tuesday, July 5, 2022

Aspat Köyü

3 Julie 2022. Sondag

Ons verlaat die winderige, maar veilige Tailianaki en kies die hasepad na Aspat Köyü, 29.9 myl.

Die see is maar omgeëllie. Groot deinings kom sywaarts aangerol al waai die wind van agter. Ons span die genoa om die heen en weer omkanteling minder te maak. 

Dit gaan maar rof op hierdie see met die groot deinings van die kant af. Al die jagte op dié water is in dieselle bootjie. Ons vaar en seil al rollende vorentoe, altyd vorentoe. Ons seil verby Gümüslük en Turgertreis. Oral is vakansie komplekse. Die boek verwys na hierdie kus as  die "Concrete Coast".

Rollende

"Concrete Coast"

Ons gaan om die draai en vaar oos. Gus waai nog steeds van agter, wat ons heerlik aanhelp. En toe kom ons by Aspat Köyü, 'n totaal nuwe baai. Ons vaar in en kry 'n lekker sandkol en gooi sonder moeite anker en ons is vas en veilig.

Gus waai sterkerig, maar die baai het goeie skuiling teen die Meltemi. Die baai is pragtig en gedurende die dag kom nog 'n hele klomp seiljagte hier anker.  

Aspat Köyü

Watersport

Ek en Archie verstom ons aan die een jag waar die kaptein alleen ankergooi, die anker sleep, hy trek op en 'n hele bondel seegras is op sy anker. Hy probeer weer, sonder om eers te kyk waarom anker nie gebyt het nie. Hy gooi toe met seegras en al weer anker. Sommer so van agter af. Sy vrou sit op haar gat op die dek en verwerdig haar nie om eers te help nie. Natuurlik sleep die anker weer, want 'n vuil anker byt nie. Hy trek weer 'n hele seetuin op. Die keer stap hy vorentoe en sien die seegras. Maar moenie glo nie, hy maak nie die anker skoon nie.  Hy ry na 'n ander plek toe en gooi weer die vuil anker. Gelukkig sien ons van die seegras val af met die gooi, want nou het die p@€ph@l voor ons gegooi. As sy anker nou sleep, is dit reguit na ons toe.

Archie gaan ondersoek ons anker (wat pragtig gebyt het)  en sommer syne ook. Hy sien nog bietjie seegras by sy anker, maar dit het darem goed gebyt. Wonder waar het die man leer ankergooi.

Die wind waai tot so 22:00 en net toe ek wou moedeloos raak van al die gewaai, hou Gus op met waai en dit word 'n heerlik stil nag. Die volgende oggend was Aspat prentjiemooi. Magies mooi.

Sonsopkoms

Aspat Köyü

Aspat Köyü

Aspat Köyü




Sunday, July 3, 2022

Talianaki Lagune. Kuruerik Bükü.

1 en 2 Julie 2022. Vrydag en Saterdag.

Vandag moet ons vroeg opstaan. Daar kom winde en ons moet 30.8 myl aflê. Talianaki is  'n baai met goeie skuiling en die bodem is modder. Goeie houkrag.

Ons vertrek voor die son op is. Dis ook al wanneer ek die son sien opkom. Ons groet vir Port St Paul en vat die pad. Twee keer word ons deur die Sehil Güvenlik (kuswag) benader. Hulle kyk na die boot se naam en ry dan weg. Archie sê hulle voer die naam op hul rekenaar in om te kyk of jy wettig hier vaar. En Archie is baie slim, hy sal weet. 

Sonsopkoms

Gus waai aan die begin sterk van agter en later loop lê hy. Hier is baie visplase in die omgewing. Ons vaar en vaar. Ons vat die draai en vaar oos en Gus waai baie sterk van agter af, 20 tot 24 knope. Ek hoop net ons ankerplek bied genoeg skuiling. 

Ons kom nader en sien 'n seiljag seil uit die ankerplek. Genade dis nou gerusstellend. As 'n seiljag met bollende seile uit die anker kom! Wat het dan nou geword van goeie skuiling?

Ons vaar nader en Gus peper ons van voor af. Tot 24 knope. Later darem net 19 knope. Daar staan reeds twee jagte op anker. Ons kry 'n geskikte plek en gooi anker. Hy byt stewig in die modder vas en ons weet ons is vas en veilig in die baai, al draai en swaai ons vir die vale. Gulets vaar verby ons met vrolike dansende toergangers, so asof die wind hulle nie pla nie. Dan vul hulle harde musiek die baai, en die lywe dans sorgeloos, wieg heen en weer op die maat van die musiek. 

Die wind waai tot dit donker word, toe waai dit nog steeds, maar sonder windvlae. Heerlik.

Talianaki

Talianaki

Gus waai in die baai

Gulets

Ons gaan twee dae hier op anker staan, want dag twee gaan Gus nog erger waai daar waar ons eintlik wil heengaan. Dis eintlik net so irriterend as Gus so aanhoudend waai. Dis nie lekker om op die dek te sit nie. Binne in Maja is dit warm. Hier is ook baie vlieë. Lasarus vlieë. As jy hulle doodslaan, staan hulle doodeenvoudig weer uit die dood op. Dan moet jy weer slaan.

As ek swem, hou ek aan Maja vas dat sy die wind vir my keer. Dit voel amper soos ski soos wat jy heen en weer saam met haar swaai. Archie spring sommer in die see in. 

"Gaan jy swem of nie?"

" ... en hy's binne in die water in!"

Ek moet sê, ek verkies om eerder Marchie's Place se vloere te was as om hier in die wind op anker te sit as Gus so loei en loei en loei. Hy loei tot my hele liggaam opgevul word met loei. Ek loei van my kroontjie tot my toontjie, die loei vloei in my are. Dit loei later in my hart en siel. Loutere loei. En loei en loei.

Saturday, July 2, 2022

Port St Paul Baai

30 Junie 2022. Donderdag.

Ons luilekker dae in Kuşadasi Marina is getel. Ons moet vort. Al ons besigheid is gedoen. Ons het die linne en Archie het sy nuwe bril. En ek is nog steeds die bekroonde Seilende Sigeuner.

Die marina  man kom help ons uit en eers is dit diesel ingooi en swartwatertenk uitpomp. Toe vat ons die pad na omtrent 16 dae in marina. Ons vaar verby die passasierskip. Daar is omtrent ses uit die sewe dae twee van die ou grotes hier in die hawe. Toe vaar ons verby die kasteel en laat dit in ons verlede agter.

Passasiersskip

Fort

Ons gaan na Port St.Paul, 20.8 myl. Die eerste ruk waai Gus sterk reg van agter, so ons seil nie. Hy waai later bietjie beter en ons seil vir 'n kort tyd. Later loop lê hy en ons prrr vorentoe, altyd vorentoe. 

Seil

In die nou Samos Strait, met die hoë berge van Can Daği in Turkye en Samos eiland, kan dinge nogal moeilik raak. 'n Klein lae eilandjie, Bayrak Adası, lê in die westelike eindpunt van die Samos Strait. Hier kan 'n gety van 3 tot 4 knope in oostelike rigting beweeg. Dit kan "tide rips" net noord van klein eiland veroorsaak. En dis toe ook net so. Die see wemel van die verwarde see. Perdjies orals. Gus waai skielik uit die bloute vreeslik sterk. Dit gaan mal hier in die Strait. Maar Maja vaar vorentoe, altyd vorentoe. 

"Tide rips"

Ons los die " tide rips"  agter en nader Port St. Paul. Gus waai nog steeds, maar hier is goeie skuiling tee die Meltemi. Daar is 'n motorboot in ons ankerplek en ons weet daar is eintlik net plek vir een boot. Maar Archie vaar vasbeslote in. Ons weet hoe moeilik gooi ons hier anker, want die bodem is van seegras gemaak.

Port St Paul baai

Seegras

Die motorboot sê hulle gaan nie oornag nie en ons gooi tydelik anker. Later kom ons te naby motorboot, trek anker op en gooi weer tydelik anker. (Ek sal maar nie noem hoe ek op 'n stadium gevloek het nie.)

Later ry die boot en ons gooi op die enigste plek in die baai anker waar dit goed genoeg byt as jy wil oornag. En ek weet uit ondervinding dat by die baai, is daat altyd windvlae. Hier speel Gus altyd woer-woer met 'n seiljag uit verskillende rigtings.

Kyk na anker

Dis toe ook net so. Windvlae uit die weste, noorde en ooste. Ons draai diekant toe, dan daaikant toe. Ek verloor skoon my eetlus. Omtrent die heelnag so aangehou. Ons kan sien hoe kom Gus op die see aangehardloop met sy windvlae. Dan weet ons dis tyd vir 'n wals Willemina, dis 'n wals is dit nie? Kom dans Klaradyn, kom dans Klaradyn! Of die fliek, "Dances with wolves". Of dalk 'n fokstrot, as jy nou weet wat ek bedoel.

Windvlae

Ek wonder of Gus dit toentertyd met Paulus van die Bybel ook gedoen het. Hy het mos ook hier teen die Meltemi geskuil oppad na die gemeente van Efese.

Wednesday, June 29, 2022

Pamukkala - Karahayit

 25 Junie 2022. Saterdag.

Ons klim die dolmus na Karahayit. Dis 'n klein dorpie wat bekend is vir sy warm bronne en spa's.

Sommer in die middel van die dorp is daar 'n groot rots waar die warm water uitborrel.

Water borrel uit

Dis 'n oulike dorp, eintlik mooier as Pamukkale se dorp. Daar is atmosfeer. Plaastannies sit vriendelik en pannekoek bak. Omies ry op hul trekkers rond. Enkele toeriste dwaal rond. Winkels en hoenderhaan items is oral te sien. En baie plaasprodukte. Hier is ook baie tekstielwinkels en ons koop goedkoop handdoeke vir Marchie's Place. 

Winkel

Gedroogte plaasprodukte

Ander winkel

Landerye

Ons stap ondertoe en Archie gaan staan met sy voete in die helende water. Hierdie water is so goed vir al mens se spier- en gewrigpyne. Dit is amper soos die verlamde man in die Bybel wat so gesond word en sy bed vat en loop.

Voet spa

Warmwaterbron

Ons koop gedroogte persimmons. Heerlik. En vreeslike lekker gedroogde olywe. Ons koop ook handdoeke vir Marchie's Place.  

Gedroogte persimmons

Olywe

Dis sommer net 'n dag van ronddwaal in annermanse land. Toe klim ons die dolmus en ry terug na Pamukkale, soos swaeltjies wat altyd teruggaan na dieselfde plek. Ja nee, Karahayit is beslis 'n beter 'n lekkerder plek as Pamukkale se dorp. Ons sit op ons balkon en oorkant op die kragdrade sit ons bure en gesels land en sand. Ons het gewoond geraak aan die klomp swaeltjies op die drade. En hulle aan ons.

Swaeltjie

Terug in Kusadasi is dit besigheid soos gewoonlik. Ons linne kom 'n dag later. 'n Oogkundige maak vir Archie 'n nuwe bril op sy Suid-Afrikaanse oogarts se voorskrif. Ons koop linne, handdoeke, potplantpotte, mop, besem, skoppies en oondbakke. Elke dag loop ons so 2km met armsvol inkopies.