Monday, July 11, 2022

Datça

 7 Julie 2022. Donderdag.

Hop pla di, hop pla da, Maja hop weer, hier by Mesudiya! Maar wie kla? Nie ek nie, want dit is windstil. Anker op en weg is ons. 

Vandag is dit Datça, 10,6 myl. Ek sien vreeslik uit daarna om vir twee nagte heerlik teen die kaai vas te maak en sommer net in die dorp rond te dwaal om vaste grond onder my voete te kry. Dan is ons sommer ook daar vir my verjaarsdag, 8 Julie. Die gedagte maak my sommer opgewonde.

Nou dis interessant. Poiseidon voorspel winde van so 10 knope vir Datça en Windy voorspel 20 knope "gusting" tot höer as 30 knope. Nou wie glo ons? Poiseidon was reg oor Mesudiye en Windy verkeerd. Natuurlik wil ek vir Poiseidon glo. Ek hou mos van 'n lê wind.

Maja prrr voerentoe, altyd vorentoe. Ons kom naby Datça en ek sien perdjies op die see. Kan nie wees nie. Skielik waai Gus 19 tot 24 knope. Met windvlae van nog baie hoër. Tot 34 knope, nes Windy voorspel het. 

Ons wil kaai toe en ek wonder hoe meer ons in die sterk wind vas. In die hawe is dit bietjie stiller. Ons sien 'n staanplek by die kaai. Baie benoud in die sterk wind maak ek gereed om anker te gooi. Archie tru perfek in. Toe blaas die hawemeester vreeslik fluitjie en jaag ons daar weg. Ek trek maar anker op. Ons kyk, maar sien nie nog 'n oop plek nie.

Ons vaar toe stert tussen die bene ankerplek toe en gooi anker. Toe begin daai wind eers waai. Ek kyk verlangend na die kaai. Ek wou sooo graag daar gewees het. 

Datça

Archie klim in Dinkie en gaan koop internet. Ek bly op Maja om haar op te pas, want Gus waai te sterk. Archie vra toe vir die man hoekom het hy ons weggejaag. Die plek waar ons in getru het, was vir 'n groter seiljag wat al van die vorige dag wag. Hy het vir ons 'n ander plek gehad, maar hy sê toe hy weer sien, gaan anker ons. Hy het verseker nie hard genoeg vir ons geroep nie. 

Toe is ek sommer de moer in. Hier sit ons en draai en swaai in die sterk wind, en ons kon 'n plek op die kaai gehad het. Nou is dit weer net wind wind wind. En ek is só moeg vir wind.

No comments:

Post a Comment