Sunday, September 15, 2019

Roemenië. Geverfde kloosters.

14 September 2019. Saterdag.

Suceava is eintlik die plek waarvandaan jy die geverfde kloosters kan besoek. Archie reël vir 'n toer en al wat ons kan kry, is 'n privaat toer vir €100. Dis baie duur, maar nou ja.

Ons toerleier is soos afgespreek, 8:00 hier om ons op te laai en daar trek ons. My arme hart sak weer in my skoene toe ek sien hoe bewolk dit is. Die son is veronderstel om te skyn!

Die rit na die Sucevita Klooster is pragtig. Dis die grootste van Bucovina se geverfde kloosters en gebou tussen 1582 en 1601. Die binnekant is amper heeltemal oortrek met muurskilderye. Daar is ook 'n kloosterdiens aan die gang en die klooster is vol mense. 

Die westelike muur het amper geen muurskilderye nie en volgens legende het die sklider van die steier afgeval en is tragies oorlede.

Die klooster het ook 'n museum met baie pragtig stukke uit die 1600's.

Sucevita Klooster
Kerk
Maagd Maria met rooi sluier
Christen vervolging
Muurskildery
Museumstuk uit 1600's

Die tweede besoek is aan die Moldovita Klooster. Dit is gefortifiseer en die kerk staan manjifiek in die middel. 

Op die suidelike muur is die val van Konstantinopel geskilder. Ook die Laaste Oordeelsdag, alles op 'n blou agtergrond. Daar is soveel fresco's, dat jy nie al die detail kan inneem nie. Al die skilderye dateer vanaf 1537. Daar is ook 'n skildery van Prins Petru Rareş,  stigting van dié klooster. 

Wat my ook opval, is die mooi tuine en blomme. Dit laat my aan my ma dink, want sy was altyd so lief vir blomme.

Klooster
Moldovita Klooster
Suiderlike muur
Muurskildery
Die beleg van Konstantinopel

Derde was die Voronet Klooster. "Die Laaste Oordeelsdag" muurskildery, word beskou as een van die mooiste ter wêreld. Aan die bokant is die engele en die middelste skildery wees hoe die mense kom om geoordeel te word. Aan die linkerkant is St. Paulus wat die gelowiges inbring en regs bring Moses die ongelowiges. Linkerkant is die paradys en die Tuin van Eeden en regs die verdoemenis.

Op die noordelike muur is Genesis uitgebeeld, van Adam en Eva tot by Kain en Abel.

Die blou kleur waarmee geverf is, word voronet genoem en dit is bekend daarvoor dat dit van kleur verander soos die lig verander.

Voronet Klooster
Kloostertuin
Laaste Oordeelsdag
In die Hemel
Hel toe
Detail
Suidelike  muur detail
Noordelike muur - Adam en Eva

Toe is dit middagete en Archie is vreeslik bly. Ons kry groentesop met tuisgebakte brood. Hoofgereg is sappige hoenderborsies en gebraaide aartappels. Heerlik!

Archie en Adrian

Die laaste op die reisprogram is die Humor Klooster. Hierdie klooster het die mooiste fresco's binne-in van al Bucovina se kloosters. Jy kyk en kyk en kyk weer. Van die fresco's is vreeslik wreed. Jy sien net koppe waai wat afgekap word met swaarde.

Op die buitekantse muur van die klooster wat in 1530 gebou is, is die Maagd Maria, die gelykenis van die verlore seun en die lewe van St Nicholas. Weereens te veel muurskilderye om in te neem.

Humor Klooster
Laastre oordeelsdag
Suidelike muur - Lewe van St Nicholas

Binne in die kerk
Binne in die kerk
Binne in die kerk

Nou is dit nie net bewolk nie, dit lyk regtig na reën. Toe ons terugkom by die huis, skyn die son ewe skynheilig. Wat 'n besondere dag! Die geverfde kloosters is jouwaarlik baie spesiaal. Suceava is eintlik nie so sleg nie!

Roemenië. Suceava.

13 September 2019. Vrydag.

Ons verlaat die pragtige Braşov en klim bus 16 tot by die busstasie. Koop 'n kaartjie na Suceava by die busbestuurder en vertrek 7:00 vir ons amper agt ure se busrit.

Roemenië se platteland is pragtig. Die klein huisies is teen die hoofpad gebou en dan het elke huisie sy houtstoor in die agtererf vir sy boerdery implemente. Elke boer se stukkie grond is op 'n ander plek en hy ry soontoe op sy trekker of donkiekar. Oral is landerye te sien.

Die Lonely Planet beskryf die landskap so raak. Hier kry jy van Roemenië se bekende volksoorleweringe, prentjiesmooi dorpies, pragtige landelike landskappe en kleurvolle inwoners.

Huisies langs die pad

Verkeersknoop

Ons ry later deur woude en oor 'n pas of twee.  My hart trek met 'n punt na berg en bos. Ons stop by 'n pragtige hotel om bene te rek. Klim in en ry verder. Ek is vreeslik opgewonde oor Suceava. Ek is seker dit gaan pragtig wees. Mooi landelike dorpie, 'n berg of twee, ek kan nie wag om daar te kom nie.

Vensterskoot - Bos en berg
Hotel

Ons nader Suceava en my hart sak in my skoene. Dis vreeslik lelik hier. Sommer net 'n dorp. Ek het gehoop op berge of iets mooi. Ek klim dapper van die bus af en trek my tas na ons woonstel (wat toe baie mooi is). En hier is ons in die lelike ou plek. Ai tog!

Friday, September 13, 2019

Roemenië. Braşov.

9 tot 12 September 2019. Maandag tot Donderdag

Ons het met die trein na Braşov gekom. Op pad hierheen, het ons verby Sinaia gery. Daar was vreeslike mooi berge en ek het gewens ons kon daar bly. Toe kom ons by Braşov se stasie. En o weë, dis vreeslik lelik. Op pad na ons blyplek is dit nog steeds lelik! Ek voel sommer depressief. Toe openbaar die ou dorp hom aan ons en ek raak dadelik verlief! 
Ek het vreeslik geheg geraak aan Braşov. Ons pragtige Vintage Suite, ons uitsig oor die berg en die dorp en die heerlike atmosfeer van die plek.
Uitsig van ons kamer
Uitsig van ons kamer - dakke
'n Bekende baken van die setrum is die gotiese Swart Kerk. Dis tussen 1384 en 1477 gebou en het sy naam gekry na die brand van 1689, toe sy mure swart gebrand het. Dis nie vandag meer so swart nie, veral nadat hulle dit probeer skoon skrop het. Binne die kerk is 'n versameling van baie waardevolle Turkse matte. Orreluitvoerings word ook gereeld daar gehou. Daar is 4000 orrelpype! Ons het so 'n uitvoering bygewoon en na Johann Helmich Roman (1694-1758) se Sonata in C, Johann Sebastian Bach (1685-1750) se Nun komm der Heiden Heiland en Max Reger (1873-1916) geluister. Toe die uitvoering klaar was, het Archie 'n sug van verligting geslaak en gesê: "Goddank!"
Swart Kerk (vanaf Swart Toring)
Swart Kerk (vanaf Tâmpa)
Die Piata Stafalui (plein) is bekend vir die feit dat hekse daar verbrand is. Dis nou 'n besige plek waar mense bymekaar kom en die dorp geniet. Ook hier op die plein word musiek gemaak deur verskeie musikante. Geen heks word meer hier verbrand nie!
Piata Stafalui
Geboue om die plein
Een van Europa se smalste strate, Stradã Sforii is ook hier. Ons loop deur die straat (nie stegie nie, maar regte straat) en kan aan albei mure raak.
Stradã Sforii
Stradã Sforii
Straat naby Stradã Sforii
Ons stap ook op 'n heerlike staproete deur die bos om die Swart Toring en Wit Toring te sien. Hulle is altwee eintlik wit en ons loop ook langs die westelike stadsmuur, wat pragtig behoue gebly het. Oral kyk jy uit op die rooi dakke van Braşov en die Swart Kerk.
Wit Toring
Kunsgraffiti
Loop langs die muur
Die hele dorp is eintlik pragtig en ek verkyk my aan al die mooi geboue. Braşov is beslis 'n besoek werd.
Sinagoge
Straat toneel
Mooi gebou
Mooi gebou
Nuuskierige agie

Thursday, September 12, 2019

Roemenië. Bran en Raşnov.

11 September 2019. Woensdag.

Ons bly nog te lekker in die "vintage" suite in Braşov. Die uitsig van ons kamer is pragtig. Ons is in die hartjie van die sentrum van die stad. Die plek is gelaai met atmosfeer én mense. Maar dis heerlik!

Vandag klim ons bus 16 na die groter busstasie en dan vat ons die bus na Bran. 

Bran is s ook 'n pragtige dorp. Dit laat my aan Switserland dink. Hier is ook die bekende Dracula Kasteel. Die kasteel is 60m hoog en is op rotsagtige heuwel gebou. Die fliek oor Dracula is hier verfilm. Inderdaad 'n interessante kasteel.
Bran se Dracula Kasteel
Daar is bespiegelinge dat Dracula self nooit regtig daar gebly het nie, maar dat hy moontlik daar in die tronk was. Die kasteel word Dracula se kasteel genoem om toeriste te lok, maar daar is wel 'n konneksie tussen Drucala en die kasteel. Maak nou nie eintlik saak nie, ek en Archie geniet dit vreeslik
Binnehof en put
Kasteel
Uitsig uit koeëlgat
Die kasteel was die woonplek van koningin Marie van Roemenië in die vroeë 1900. Tydends die Eerste Wêreldoorlog het koningin Marie se dogter, prinses Illeana van Roemenië as verpleegster gewerk. Sy was baie geliefd.
Koningin Marie se wapen
Wapenrusting
Die kasteel se hout trappe kraak vreeslik. Hier kan niemand in die nag skelm rondsluip nie. Ek kan my indink hoe lê jy in die donker nag in jou bed. Die trappe kraak, voetstappe kom nader en nader. Die deur se handvatsel draai en Dracula kom binne. Jy sien sy tande glim in die effe lig. Hy kom nader. Jy gee 'n bloedstollende gil ...
Geheime deurgang
Ornate deur
Ons kyk na al die kamers in die kasteel. Daar is ook 'n martelkamer wat omtrent soos 'n marteling lyk. Wonder wie is almal hier gemartel.
Ons geniet die kasteel baie, want dit is amper 'n lewendige kasteel, nie 'n ruïne nie.
Gotiese eetkamer
Koning Ferdinand se kamer
Martelkamer
Martelkamer
Volgende op ons lys is Raşnov. Nes Braşov, het hy 'n groot naambord teen die berg.

Raşnov
Raşnov is die tuiste van die 13de eeuse fort. Dis op die berg gebou. Ons klim van die bus af en begin stap. Daar is ook mooi geboue in dié dorpie. 'n Groot kerk staan trots in die dorp as 'n monument.
Kerk
Daar is 'n kabelkar-hysbak ding waarmee jy boontoe kan gaan, maar soos gewoonlik pak ek en Archie die trappe aan. Op opper opste stap ons en aan ons voete lê die dorpie. Vêrder invdie vallei is baie landerye.
Op pad na fort
Raşnov en landerye
Ons betaal die ingangsfooi en begin die fort verken. Archie is nie vreeslik in sy skik nie, want hy is nie lus vir ruïnes nie.
Fort
Daar is klein winkeltjies en die stap in die fort is eintlik heerlik. Archie kyk diep in die put af en tot hy geniet die stap in die fort. Toe is ons klaar gefort.
Wapens en implemente
Winkeltjies
Skool
Geboue in die fort
Die put
Die put
Attilla the Hun
Ons begin die aftog en klim die bus en gaan terug na Braşov. Wat 'n heerlike dag. Ons is omtrent poot-uit.