Sunday, September 15, 2019

Roemenië. Geverfde kloosters.

14 September 2019. Saterdag.

Suceava is eintlik die plek waarvandaan jy die geverfde kloosters kan besoek. Archie reël vir 'n toer en al wat ons kan kry, is 'n privaat toer vir €100. Dis baie duur, maar nou ja.

Ons toerleier is soos afgespreek, 8:00 hier om ons op te laai en daar trek ons. My arme hart sak weer in my skoene toe ek sien hoe bewolk dit is. Die son is veronderstel om te skyn!

Die rit na die Sucevita Klooster is pragtig. Dis die grootste van Bucovina se geverfde kloosters en gebou tussen 1582 en 1601. Die binnekant is amper heeltemal oortrek met muurskilderye. Daar is ook 'n kloosterdiens aan die gang en die klooster is vol mense. 

Die westelike muur het amper geen muurskilderye nie en volgens legende het die sklider van die steier afgeval en is tragies oorlede.

Die klooster het ook 'n museum met baie pragtig stukke uit die 1600's.

Sucevita Klooster
Kerk
Maagd Maria met rooi sluier
Christen vervolging
Muurskildery
Museumstuk uit 1600's

Die tweede besoek is aan die Moldovita Klooster. Dit is gefortifiseer en die kerk staan manjifiek in die middel. 

Op die suidelike muur is die val van Konstantinopel geskilder. Ook die Laaste Oordeelsdag, alles op 'n blou agtergrond. Daar is soveel fresco's, dat jy nie al die detail kan inneem nie. Al die skilderye dateer vanaf 1537. Daar is ook 'n skildery van Prins Petru Rareş,  stigting van dié klooster. 

Wat my ook opval, is die mooi tuine en blomme. Dit laat my aan my ma dink, want sy was altyd so lief vir blomme.

Klooster
Moldovita Klooster
Suiderlike muur
Muurskildery
Die beleg van Konstantinopel

Derde was die Voronet Klooster. "Die Laaste Oordeelsdag" muurskildery, word beskou as een van die mooiste ter wêreld. Aan die bokant is die engele en die middelste skildery wees hoe die mense kom om geoordeel te word. Aan die linkerkant is St. Paulus wat die gelowiges inbring en regs bring Moses die ongelowiges. Linkerkant is die paradys en die Tuin van Eeden en regs die verdoemenis.

Op die noordelike muur is Genesis uitgebeeld, van Adam en Eva tot by Kain en Abel.

Die blou kleur waarmee geverf is, word voronet genoem en dit is bekend daarvoor dat dit van kleur verander soos die lig verander.

Voronet Klooster
Kloostertuin
Laaste Oordeelsdag
In die Hemel
Hel toe
Detail
Suidelike  muur detail
Noordelike muur - Adam en Eva

Toe is dit middagete en Archie is vreeslik bly. Ons kry groentesop met tuisgebakte brood. Hoofgereg is sappige hoenderborsies en gebraaide aartappels. Heerlik!

Archie en Adrian

Die laaste op die reisprogram is die Humor Klooster. Hierdie klooster het die mooiste fresco's binne-in van al Bucovina se kloosters. Jy kyk en kyk en kyk weer. Van die fresco's is vreeslik wreed. Jy sien net koppe waai wat afgekap word met swaarde.

Op die buitekantse muur van die klooster wat in 1530 gebou is, is die Maagd Maria, die gelykenis van die verlore seun en die lewe van St Nicholas. Weereens te veel muurskilderye om in te neem.

Humor Klooster
Laastre oordeelsdag
Suidelike muur - Lewe van St Nicholas

Binne in die kerk
Binne in die kerk
Binne in die kerk

Nou is dit nie net bewolk nie, dit lyk regtig na reën. Toe ons terugkom by die huis, skyn die son ewe skynheilig. Wat 'n besondere dag! Die geverfde kloosters is jouwaarlik baie spesiaal. Suceava is eintlik nie so sleg nie!

No comments:

Post a Comment