Saturday, July 20, 2019

Dhiaporos Eiland. Kriftos Baai.

19 Julie 2019. Vrydag.

Ammouliani tot Kriftos Baai
 
Ai, maar ons het heerlik geslaap na ons lang dag. Ons staan verfris en uitgerus op en laat Ammouliani agter en vertrek na Kriftos Baai, 11.2 myl.
 
Ammouliani
 
Ons seil vir 1h30min en ons kom by die opening van die geslote baai. Hier is oraloor skuiling. Dis 'n pragtige baai.

Hier in die noorde van Griekeland is min seiljagte, maar baie vakansiegangers. Hulle kom van oral, Griekeland, Bulgarye en Masedonië. In ons baai ry gehuurde motorbootjies heeldag heen en weer. Dis omtrent 'n bynes en gezoem. Dit pla nie regtig nie. Dis vir ons soos televisie kyk.
 
Sit "snubber" aan ankerketting
Bynes
Kriftos Baai
Aandstilte
Ek hou van die baai.
 
Dit was aand …
… en dit was môre
 

Friday, July 19, 2019

Akti Skiereiland. Kloosters.

18 Julie 2019. Donderdag.

Ierissos tot Ammouliani
 
Vandag gaan 'n besondere lang dag wees. Ons gaan by Ammouliani, 64.4 myl, oornag, nadat ons om die Akti Skiereiland vaar om die 17 kloosters te sien. Ons begin 05:00 te vaar.
 
Sonsopkom

Hierdie skiereiland bestaan al vir tien eeue as 'n wêreld van sy eie. Hulle het hul onttrek van die moderne wêreld en die middeleeue kloosters staan oral op indrukwekkende plekke. Vrouens mag glad nie naby of op die skiereiland kom nie. Seiljagte mag ook nie nader as 500m aan die kuslyn seil nie.
 
Die boek sê: "The monasteries are divided into ceonobites and idiorrhythmic communities. Ceonobites are communal and the members are clothed alike and live from a common pool of resources. In the idiorrhythmic monasteries the members live apart and provide the clothes and food from their own resources. There are also hermits (Anchorites) who live by themselves in what often seems to be inaccessible cells (particularly on the southern slopes of Mt Athos), the hermitage of two or tree hermits (Sarabaites) and vagabond monks (Gyrovakes)."

Die reuse Berg Athos troon 2033m bo seevlak uit en is heeltyd te sien. Meestal met sy wolkhoed op. Aan die punt van die skiereiland, met sy twee kape, Akrathos en Pinnes, kan die see rof raak. Gus kan vanuit vyf verskillende rigtings waai, wat die water soos 'n dubbelbalie wasmasjien laat draai en kolk en jou laat voel of jy én jou seiljag in die wasmasjien is.  Vandag is ons gelukkige dag. Ons het amper geen wind, en as Gus waai, waai hy van agter. Selfs die sterk seestrome, wat elke agt ure omdraai, is in ons guns. Dit dryf ons aan.
 
Berg Athos - Ooste kant
Berg Athos - Westekant

Hier is die kloosters wat ons gesien het. Twee het ons nie gesien nie en een se foto is baie sleg.

Esthigmenou - Eerste vermelding 1034 n.C.
Vatopedi - Gestig in 10de eeu

Pantokrator - Gebou in 14de eeu met groot kerk agter
Stavronikita - Gestig in 1542
Iviron - Gestig in 979 n.C.
Karakallou - Gestig in 15de eeu
Grand Lavra - Grootste klooster geleë onder berg Athos
Ayiou Pavlou - Gestig in 11de eeu
Dionysiou - Gestig in 1375

Gregoriou - Gestig in 1395
Simonopetra - Gestig in 1257 deur St Simon
Moni Ayiou Panteleimonas - Gestig in 1169 (Russiese Klooster)
Xinofondos - Gestig in 10de eeu deur die monnik Xenofon
Dhoheiariou - Gestig in 10de eeu (Mooiste kerk)

Dit was 'n lang, baie spesiale dag. 'n Dag waar ons vanuit  die see die wêreld van die monikke aanskou het. Net 'n kykie daarvan. Ons is doodmoeg en is op pad na ons ankerplek.

Om die besonderse dag van 11 ure af te sluit, het ons nog 'n besonderse ervaring. 'n Paar dolfyne kom speel met Maja. Hulle swem saam met haar, onderdeur en langs haar. Hulle gesels land en sand. Hulle lag oopbek en draai op hul sye, blaas water uit, swem bo-op mekaar. Dis 'n wonderwerk dat Maja hulle nie tref nie. Dan swem hulle weg, duik in die dieptes af, net om weer terug te draai en weer te kom speel. Hulle hou net aan en aan en aan. Wat 'n belewenis! En skielik is hulle weg.
 
Maja se maat
Baldadig

Toe kan ons op ankerplekke konsentreer. Die eerste plek anker jy in 2.5 m diep water. Dis te vlak vir my. Die tweede plek is bodem bestaan uit rotse en seegras. Daar kan ons nie ankergooi nie. Die derde plek, Ammouliani, is daar net een sandkol en kolskoot. Ons tref raak en die anker byt. Archie snorkel om te sien of dit gebyt het. Pragtig gebyt, maar daar is 'n groot afdraande net anderkant die anker. Wind moet net nie wes draai nie, want die bodem het 'n steil helling van oos na wes. Ons kyk vir Poseidon en Windy, en hulle voorspel baie ligte noord-en suidooste  winde. Ons is veilig.
 
Ankerplek naby Ammouliani (te vlak)

Ierissos.

17 Julie 2019. Woensdag.

Kallirakhis tot Ierissos.
 
Gus het in die nag ook gaan lê. Ons staan vroeg op en vertrek na Ierissos, 39.2 myl. Dis aan die Griekse hoofland. Archie kry nie internet aanlyn gekoop nie, so ons moet na 'n dorp gaan waar 'n COSMOTE winkel, of goeie opvangs is.
 
Op pad
 
Dis 'n lang dag en na 7h48min kom ons by die hawe aan. Hemel, die is nie 'n seiljag-vriendelike hawe nie. Net vissersbote, grotes en kleintjies. Ons kry darem een plek langs die kaai om te alongside. 

Archie probeer weer internet koop en hoera! Hy is suksesvol. Nou kan ons weer windvoorspellings kyk.

Ons stap toe maar 1.2 km in die hitte, langs die teerpad dorp toe. Hier is manne wat boomstompe verwerk tot planke en dan bote daarvan bou. Oral is hulle aan die werk. Hul werkswinkels is sommer so teenaan die teerpad. 
 
Planke …
… word 'n boot
 
Hier is ook baie vakansiegangers. Vrolike sambrele beskerm hulle teen die warm son. As die hitte te erg raak, koel hulle in die see af. Hier is darem een windmeul én 'n mooi kerk. Verder is dit maar 'n ou gewone, amper lelike dorp.
 
Strand en hawe
Windmeul
Sambreelstudie
Visserman
Kerk
 
Ons plig as toeriste is gedoen. Ons stap terug na Maja. Ek verkyk my aan die monikke wat op die kaai wag dat hul boot moet vertrek. Die een met die wit baard se hand word vreeslik gesoen. Hierdie dorp is baie naby die "Republiek van die Grieks Ortodokse geloof", wat op die Akti Skiereiland is. Later vertrek hulle in hulle boot met 'n polisieman aan boord.

Môre gaan ons die 60 myl om dié skiereiland aandurf om die 17 kloosters van die see af te bekyk.

Thassos Eiland. Kallirakhis.

16 Julie 2019. Dinsdag.

Port Thassos tot Kallirakhis

 


Ai, dis weer tyd om te gaan. So lekker saam met Hentie en Diana gekuier. Ons het water nodig en die enigste kraan is by Hentie se boot. Ons maak teen sy boot vas en maak ons tenk vol. Toe is dit tyd om te koebaai te sê. Ons groet soos vriende wat mekaar gaan mis. Hentie sê 'n baie waar ding: "Dis nie hoe mens hallo sê nie, maar hoe jy tot siens sê."


Toe verlaat ons Port Thassos (ek baie teensinnig) en vaar na Kallirakhis,12.9 myl. Hier is baie riwwe, so ons hou maar verby, lekker diep in die see.

Die hawe van Kallirakhis is maar 'n snaakse plek. Eintlik 'n regte vissershawe. Ons kry 'n plek om te alongside. En vir die eerste keer klim ek met die tou van die boot af op die kaai om vas te maak. Archie kom baie naby en ek kom maklik af.
 
Kallirakhis
 
Archie verstel al die toue en ons sit nog ekstra fenders in en ons is reg vir die nag. Behalwe natuurlik dat die see effens inrol met noordelike en ooste winde. En raai uit watter rigting waai die wind? Natuurlik uit die noorde en ooste. En in rol die golwe en ons hop so langs die kaai. Nie gevaarlik nie, net ongemaklik. Gus draai later en waai vanuit die weste en ons hop nie meer nie.
 
Maja en die Bulgaar
 
Ons gaan dorp toe. Dis 'n deurmekaar, slordige dorp. Nie vuil nie, slordig. Daar is groot huise en dan stukkende motorfietse en rommel. Snaakse huise, sommige oordadig groot, ander met oordadige kleure.
 
Gaan dorp toe
Kleurvol
 
En dan steel die groentetuine my hart. Dit moet baie vrugbaar hier wees, want almal plant groente. Tamaties, komkommers, pampoene, pepers, eiervrug, boontjies.En vrugte! Wat 'n lushof! Hier en daar skrop 'n hoender in die grond.
 
Tamaties
Pepers
Eiervrug
Kiepie krap
 
Ons sien die advertensie van Griekse musiek en danse by die Bella Vista Meze Bar. Ek weet waarheen ek vanaand gaan!

Terug by Maja het Gus weer gedraai en waai uit die noorde. En ons hop weer. Gelukkig het ons genoeg fenders uit om haar te beskerm dat sy nie seerkry teen die kaai nie. Ons hop en dit reën. En ons hop nog. En nog.

Die aand verlaat ons die hoppende Maja en vat die pad na Bella Vista. Die Bulgaarse buurman sê hy sal ogie hou. Ons het klaar geëet, gaan maar net iets drink. Die musiek speel heeltyd en toe begin die danse. Twee meisies en 'n man. Hulle wys ons moet hande klap en ek klap baie entoesiasties.

Die volgende oomblik pyl die een meisie op ons af en nooi my en Archie om saam te dans. Die ander twee dansers nooi ook mense. Ou Archie is eers baie steeks, maar willig toe in. Nou is die vloer oop vir almal. Ek weet hoe werk dit. Die dansers kyk wie klap hande en vra hulle dan om te dans.

Ons dans al in die rondte en heeltyd val nog mense in. Heerlik. Elke dans hou 'n ewigheid aan. Archie gaan sit en ek dans die volgende dans. Net as ek wil gaan sit, kry 'n danser my beet en dan dans ek maar weer. Later word dit baie modern en ek en Archie groet en loop. Ons moet in elk geval weer môre vroeg opstaan. Ai, maar dit was lekker! 

Ons gaan terug na die hoppende Maja. Later die nag draai Gus en waai ons teen die kaai vas. Ons verstel fenders om seker te maak Maja is veilig. 

In my drome dans ek in die rondte. Om en om en om …

Wednesday, July 17, 2019

Thassos Eiland. Port Thassos.

14 en 15 Julie 2019. Sondag en Maandag.

Aliki tot Port Thassos
 
Dis bewolk. Dit het baie gereën in die nag. Hier in die noorde van Griekeland het hulle somerreën én donderstorms. Ons wag dat die wind gaan lê en die reën opklaar voordat ons na Port Thassos, 16.5 myl, vertrek.

Hierdie is marmer wêreld. Oral word marmer uit die berge gekap en hier is ook &n bekende marmerstrand wat baie gewild is. Spier-skitterwit. Soos kouewater Omo dit nie eers kan was nie. Dis baie groen en bergagtige, eintlik baie mooi.
 
Eiland op pad
Marmer gwarrie
 
Ons vriende, Hentie en Diana Koen is in Port Thassos, maar hy sê die hawe is vol. As iemand nie vertrek nie, moet ons maar langs hulle boot kom vasmaak. 

Ons nader die hawe en kyk in afwagting of daar plek is. Ou Hentie staan op sy boot met tou in die hand, maar 'n jag nby hulle langs die kaai is besig om reg te maak om te vertrek en ons wag. Hentie los sy tou en gaan staan by die kaai vir ons en wag. Archie vaar kaai toe, Hentie vang die tou en maak vas. Nou het ons 'n veilige huis vir twee aande.

Ons groet soos verlore seuns. Ons is vreeslik bly om vir hulle weer te sien. Ons het hulle in 2017 in Çeşme ontmoet.
 
Langs die kaai
 
Ai, hierdie Thassos dorp is mooi. Dis baie bewolk, koud en lyk na reën. En dit reën amper heeldag so aan en af. İn die vêrte, by die hoofland, slaan die bliksemstrale die aarde. 'n Vinnige reën-windstorm kom oor die see na Thassos toe aangehardloop. Dis 'n wind- en reënbui wat vinnig kom en vinnig oorwaai. Daarna is dit weer kalm. Ons is veilig agter die muur in die hawe.
 
Port Thassos
 
Die volgende dag gaan stap ek, Archie en Hentie berg-op na die antieke stad. Die paadjie kronkel deur 'n woud, heerlik koel. Dis maar steil op en sommige lede van die driemanskap, wat nie so gewoond aan stap is nie, hyg maar na sy asem. Maar so rats soos 'n ribbok, nes Archie.

Die antieke teater word tans reggemaak en dis net staalkontrepsies waar jy kyk. Die ruïnes van die agora en Akropolis is 'n bewys van lank gelede se lewe in die stad. Van hier af kry jy 'n baie mooi uitsig oor die hawe. Daar is ook 'n rots "shrine" vir Pan, die god van die woud.
 
Akropolis
Ou mure
Pan se "shrine"
Ek by 'n ingang
Groen uitsig
Uitsig oor die dorp
 
Toe soek ons die af pad en kry 'n pad wat nogal oorgroei is. Ons voel omtrent soos Livingstone en sy geselskap soos wat ons deur die ruigte stap. Soms piets 'n doringbos of 'n tak jou. Maar ons stap heerlik. Die bos ruik organies, ek stop en pluk vars wilde welriekende kruie, die lug is blou, en drie vrinne stap saam deur die bos. Wat meer kan jy vra.

Terug in die dorp koop ons roomyse en sit tradisioneel soos kinders op 'n trappie en eet. Waar is Elize nou!
 
Trompie en Blikkies
 
Ons kuier 'n ruk by Hentie en Diana op hul boot en die Diana is 'n uitstekende gasvrou. Sy haal versnaperinge uit wat jou mond laat water. Die tafel kreun onder al die eetgoed. Ons kuier heerlik.
 
Diana en Hentie
 
Ons stap saam na die supermark toe en koop heerlike voorraad. Veral Hentie en Diana koop laat dit bars. "Go big or go home!" 

Die aand gaan eet ons saam met hulle heerlike gyros. Goedkoop en vullend. Die reën is op pad en ons maar terug bote toe. Ek moet my wasgoed, wat amper droog is afhaal en die Koene moet hulle vensters toemaak.
 
Gaan uiteet
Ons vier
 
Wat 'n heerlike dag. Die reën kom later liggies in die nag. Hierdie is gewillige wolke. Dit reën graag hier.