Friday, July 19, 2019

Thassos Eiland. Kallirakhis.

16 Julie 2019. Dinsdag.

Port Thassos tot Kallirakhis

 


Ai, dis weer tyd om te gaan. So lekker saam met Hentie en Diana gekuier. Ons het water nodig en die enigste kraan is by Hentie se boot. Ons maak teen sy boot vas en maak ons tenk vol. Toe is dit tyd om te koebaai te sê. Ons groet soos vriende wat mekaar gaan mis. Hentie sê 'n baie waar ding: "Dis nie hoe mens hallo sê nie, maar hoe jy tot siens sê."


Toe verlaat ons Port Thassos (ek baie teensinnig) en vaar na Kallirakhis,12.9 myl. Hier is baie riwwe, so ons hou maar verby, lekker diep in die see.

Die hawe van Kallirakhis is maar 'n snaakse plek. Eintlik 'n regte vissershawe. Ons kry 'n plek om te alongside. En vir die eerste keer klim ek met die tou van die boot af op die kaai om vas te maak. Archie kom baie naby en ek kom maklik af.
 
Kallirakhis
 
Archie verstel al die toue en ons sit nog ekstra fenders in en ons is reg vir die nag. Behalwe natuurlik dat die see effens inrol met noordelike en ooste winde. En raai uit watter rigting waai die wind? Natuurlik uit die noorde en ooste. En in rol die golwe en ons hop so langs die kaai. Nie gevaarlik nie, net ongemaklik. Gus draai later en waai vanuit die weste en ons hop nie meer nie.
 
Maja en die Bulgaar
 
Ons gaan dorp toe. Dis 'n deurmekaar, slordige dorp. Nie vuil nie, slordig. Daar is groot huise en dan stukkende motorfietse en rommel. Snaakse huise, sommige oordadig groot, ander met oordadige kleure.
 
Gaan dorp toe
Kleurvol
 
En dan steel die groentetuine my hart. Dit moet baie vrugbaar hier wees, want almal plant groente. Tamaties, komkommers, pampoene, pepers, eiervrug, boontjies.En vrugte! Wat 'n lushof! Hier en daar skrop 'n hoender in die grond.
 
Tamaties
Pepers
Eiervrug
Kiepie krap
 
Ons sien die advertensie van Griekse musiek en danse by die Bella Vista Meze Bar. Ek weet waarheen ek vanaand gaan!

Terug by Maja het Gus weer gedraai en waai uit die noorde. En ons hop weer. Gelukkig het ons genoeg fenders uit om haar te beskerm dat sy nie seerkry teen die kaai nie. Ons hop en dit reën. En ons hop nog. En nog.

Die aand verlaat ons die hoppende Maja en vat die pad na Bella Vista. Die Bulgaarse buurman sê hy sal ogie hou. Ons het klaar geëet, gaan maar net iets drink. Die musiek speel heeltyd en toe begin die danse. Twee meisies en 'n man. Hulle wys ons moet hande klap en ek klap baie entoesiasties.

Die volgende oomblik pyl die een meisie op ons af en nooi my en Archie om saam te dans. Die ander twee dansers nooi ook mense. Ou Archie is eers baie steeks, maar willig toe in. Nou is die vloer oop vir almal. Ek weet hoe werk dit. Die dansers kyk wie klap hande en vra hulle dan om te dans.

Ons dans al in die rondte en heeltyd val nog mense in. Heerlik. Elke dans hou 'n ewigheid aan. Archie gaan sit en ek dans die volgende dans. Net as ek wil gaan sit, kry 'n danser my beet en dan dans ek maar weer. Later word dit baie modern en ek en Archie groet en loop. Ons moet in elk geval weer môre vroeg opstaan. Ai, maar dit was lekker! 

Ons gaan terug na die hoppende Maja. Later die nag draai Gus en waai ons teen die kaai vas. Ons verstel fenders om seker te maak Maja is veilig. 

In my drome dans ek in die rondte. Om en om en om …

No comments:

Post a Comment