Friday, July 19, 2019

Ierissos.

17 Julie 2019. Woensdag.

Kallirakhis tot Ierissos.
 
Gus het in die nag ook gaan lê. Ons staan vroeg op en vertrek na Ierissos, 39.2 myl. Dis aan die Griekse hoofland. Archie kry nie internet aanlyn gekoop nie, so ons moet na 'n dorp gaan waar 'n COSMOTE winkel, of goeie opvangs is.
 
Op pad
 
Dis 'n lang dag en na 7h48min kom ons by die hawe aan. Hemel, die is nie 'n seiljag-vriendelike hawe nie. Net vissersbote, grotes en kleintjies. Ons kry darem een plek langs die kaai om te alongside. 

Archie probeer weer internet koop en hoera! Hy is suksesvol. Nou kan ons weer windvoorspellings kyk.

Ons stap toe maar 1.2 km in die hitte, langs die teerpad dorp toe. Hier is manne wat boomstompe verwerk tot planke en dan bote daarvan bou. Oral is hulle aan die werk. Hul werkswinkels is sommer so teenaan die teerpad. 
 
Planke …
… word 'n boot
 
Hier is ook baie vakansiegangers. Vrolike sambrele beskerm hulle teen die warm son. As die hitte te erg raak, koel hulle in die see af. Hier is darem een windmeul én 'n mooi kerk. Verder is dit maar 'n ou gewone, amper lelike dorp.
 
Strand en hawe
Windmeul
Sambreelstudie
Visserman
Kerk
 
Ons plig as toeriste is gedoen. Ons stap terug na Maja. Ek verkyk my aan die monikke wat op die kaai wag dat hul boot moet vertrek. Die een met die wit baard se hand word vreeslik gesoen. Hierdie dorp is baie naby die "Republiek van die Grieks Ortodokse geloof", wat op die Akti Skiereiland is. Later vertrek hulle in hulle boot met 'n polisieman aan boord.

Môre gaan ons die 60 myl om dié skiereiland aandurf om die 17 kloosters van die see af te bekyk.

No comments:

Post a Comment