Thursday, June 20, 2019

Patmos Eiland. Uiteindelik.

20 Junie 2019. Donderdag.
 
Dis nag. Ons loop 00:30 na die veerboothawe. Elize en Martie het uiteindelik met Luthtansa gevlieg. Fanie het die veerbootkaartjies geskuif en hulle behoort 01:10 hier aan te kom.

Soos gewoonlik is die veerboot laat en kom 02:00 hier aan. En sowaar, Elize en Martie is aan boord. Ek en Elize is behoorlik in snot en trane toe ons mekaar sien en ek huil amper soos op my ma se begrafnis. Dis van verligting dat hulle uiteindelik hier is.
 
Hulle is uiteindelik hier
 
Ons stap die pad in die vroeë oggendure na Maja en altwee kom doodmoeg aan boord. Oor die plank en in hul huis vir die volgende twee weke.
 
Elize
Martie
 
Na net 'n paar uur se slaap, skeur ons ons lywe uit droomland los en staan op. Vandag gaan ons na die Grot van Johannes en die Klooster by die chora.

Archie pas sy tweede vrou op en ons meisies vat die langpad. Eers deur die dorp en later kronkel ons verder. Sommer gou is ons by die grot. Dit voel behoorlik soos heilige grond. 
 
Opstap
 
In die grot is hulle besig met 'n diens, in die pragtige klein kapel van St Anna. Daar word gesê dat die drie krake in die dak die bewys is van God se stem toe hy die openbaring aan Johannes gemaak het. Daar is 'n klompie mense wat die geestelike gebeurtenis bywoon. Die nagmaal word bedien en ek nagmaal saam. Hier, in die grot waar Johannes sy openbarings gekry het. Dit is baie spesiaal.
 
By die Grot
 
Na die grot val ons weer in die pad. Boontoe, na die Hora. Dis nou die chora, die dorpie op die heuwel. Die uitsigte op Skala Patmos, slaan jou asem weg. Die blou see, die wit huisies, die mooi baai. Hoe hoër ons gaan, hoe mooier word dit. 
 
Mooi uitsig oor Skala Patmos
 
Elize en Martie is gewillige lammers ter slagting. Hulle moet gedurig die uitsigte verfraai met hulle sprankelende self en poseer amper vrywillig. Dan is dit hoedens af en glimlag. Ai, maar dis mooi.

Toe word ons dors en drink 'n vars uitgedrukte lemoensap by 'n restaurant met 'n pragtige uitsig. Heerlik.
 
By die restaurant
 
Volgende op ons lys is die Klooster van St John (Johannes). Die konstruksie het in 1088 begin deur die heilige, Christodoulus. Dis meer as 15m hoog, die lengte van suid tot noord is 53m en van oos tot wes, 70m. Die kerk slaan jou asem weg, deur die oordadigheid daarvan. Die Frescos is pragtig. Lang tafels staan gedek in die een gebou. Die klooster het tien kapelle, vier wat in die erf is. Die ander kapelle is as't ware om elke hoek en draai. Ons wil net nog 'n bietjie langer in die klooster bly. Dis pragtig.
 
Klooster en chora
Hoë mure
Uitsig
Klokke
Eetsaal
Frescos
Fresco
 
Ons word honger, maar hier is nie veel te koop nie. Ons koop toe maar gebak by die bakkery en eet dit op 'n huis se stoeptrappies. Martie se spinasie en feta happies is heerlik, maar ek en Elize se kaaspastei is bietjie droog. Maar ons eet steeds heerlik, want ons is honger.
 
In die chora
Middagete
Chora se straatjies
 
Elize dwaal in die straatjies rond en ek en Martie dwaal agterna. Groot is my blydskap toe ons die windmeulens raak dwaal. Dis groot en mooi van naby. Ek wou nogal vreeslik die goed van naderby sien.
 
Windmeulens
 
Toe is dit vinnig busstop toe om die 13:50 bus te klim terug huis toe. Die twee nuwe besoekers is nogal moeg. Ons kom rooigesig by Maja aan. 
 
Die eerste skemerkelkie van die besoekers word gedrink. Die kaptein skink en dis yskoud en heerlik. Net wat mens nodig het na so 'n lang, heerlike dag.
 
Skemerkelkies

Tuesday, June 18, 2019

Patmos Eiland. Stap.

18 Junie 2019. Dinsdag.
Elize en Martie vlieg vanaand. Hulle sal Woensdagnag, 01:10 hier by Patmos aankom. Fanie het hulle veerbootkaartjies geskuif gekry. Hulle is seker baie verlig.

So, om die tyd verby te kry, soek ek en Archie die stappad na die grot. Dis die grot waar die laaste boek van die Bybel, Openbaring, aan die apostel Johannes geopenbaar is. Al die visioene wat hy gesien het, het hy hier ontvang. Dis 'n baie heilige plek vir die Christendom.

Die Heilige Klooster van St John (Johannes) lê verder, op die kruin van die heuwel. Die klooster het vyf vlakke, 99 selle en tien kapelle. Ek sal dit saam met Elize en Martie gaan besoek.
Die Grot (voorgrond) en St Johannes se Klooster (agter)
Uitsig van die Grot
Woudkerkie
Die stap is pragtig met uitsigte van die besonderse dorpie wat wit teen die see lê. Wat 'n voorreg om op sulke heilige grond te kan stap. En terug in die hede. Ons koop die heerlikste soet lekkerny by 'n winkel. Dis 'n bougatsa of iets. Heerlik met 'n melkterterige vulsel binne, weggesteek in phyllo jassie. Ons eet smaaklik aan die ding.
Skala Patmos
Eet bougatsa
Die groot plesierboot staan amper die hele hawe-ingang vol. Vandag wemel dit van toeriste hier in Patmos. Terug by Maja is ons net betyds om die Israeli flotilla se inkom te aanskou. Ek sê so ewe die fillistyne is op ons (bedoelende die charterbote), toe sê Archie dis Israeli's. Nogal ironies.Toe skaterlag ons. Dis catamarans en seiljagte, omtrent elf van hulle. Een kom langs ons in. Die flotilla leier gee raad oor die radio en die hele skare, Archie inkluis, gee raad van die kaai af en van die voorpunte van hul bote af. Toe die arme kaptein van die jag uiteindelik, na vorentoe en agtertoe en weer vorentoe en agtertoe, vas is, kry hulle 'n dawerende applous van die skare. Twee van die Islaeli's sê ek moet hulle afneem en sê dis "men from Israel".

Elize en Martie vlieg vanaand. Hulle is baie dankbaar om uiteindelik uit Suid-Afrika weg te kom.

Plesierboot
"Men from Israel"

Patmos Eiland. Patmos.

17 Junie 2019. Maandag.

Lipso tot Patmos
Nou wonder ek - is dit vandag 'n blou Maandag!? Dis tyd om te gaan, die anker moet op en Maja moet aangesluit word. Gaan sy vat? Ek druk die knop. Hou asem op. En sy vat pragtig! Weg is ons na Patmos, 14 myl. Ons kry môrenag vir Elize en Martie daar en ek is baie opgewonde.

Archie is nog bekommerd oor die battery situasie . Hy gaan ondertoe en meet die kragtoevoer. Volgens die meting is daar volts, maar geen ampere wat in die battery ingaan nie. Dit kan nou een van twee dinge wees. Òf sy multimeter is stukkend òf die alternator is stukkend. Laasgenoemde kan 'n tragedie wees.

Archie diskonnekteer die huisbatterye van die enjinbattery, vir ingeval dit die enjinbattery dreineer. En ons verander koers na Dhiakoftou, ook op Patmos, waar daar 'n bootwerf is met 'n Volvo agent. Wat 'n genade!
Chora en kasteel van Dhiakoftou Baai
Interessante klip
Daar is boeie in die water by die bootwerf en vandag gryp ons 'n boei, roei land toe en gaan vind uit of iemand ons kan help. Maar o weë. Vandag is 'n vakansiedag in Griekeland. Hulle manne werk nie.

Gelukkig sê die man in die kantoor hy sal 'n privaat ou in Skala Patnos bel om te hoor of hy ons kan help. Hy is bereid om ons op die vakansiedag te help en ons vaar terug na Skala Patmos, waarheen ons oorspronklik op pad was. 

Nou het ons 'n nuwe bekommernis. Archie het mos die huisbatterye gediskonnekteer. Het hulle genoeg krag om die ankermotor te dryf as ons ankergooi? 

By Skala is daar gelukkig baie plek langs die dorpskaai. Archie tru en ek druk die knop. En daai anker loop. Ek is baie verlig. Die boek sê jy moet baie ankerketting hier uitgooi vir die dwarswinde en ons gooi 60m uit. Dis vreeslik baie. Daar is niemand op die kaai om ons te help nie en ons moet maar self sien en kom klaar. Ek gooi anker en as ons naby die kaai is, hardloop ek agtertoe na die helm en Archie spring af met die tou. 
Skala Patmos
Ons nader die kaai, Archie roep. Ek hardloop agtertoe. Die stywe anker trek Maja vorentoe. Te vêr van die kaai vir Archie om af te klim. Ek hardloop vorentoe, gooi nog anker uit, hardloop agtertoe, Archie klim af en maak ons vas. Hemel, maar nou is ek skoon uitasem! En vas is ons.

Toe wag ons vir Peros om die battery raaisel te kom oplos. Hy kom, met 'n tas wat vir my lyk na 'n dokter wat huisbesoek doen. Ek moet die enjin aansit en ek hoor hoe redekawel die twee daar onder. Wel, hy meet en daar is ampere. Dit beteken dat Archie se multimeter is stukkend en dis nie die alternator nie. Dis baie goeie nuus. Die nuus kos ons €50!
Soek fout
Peros Elektrisiën
So, nou die dag toe Maja nie wou vat nie, is dit net omdat die battery, na soveel dae op anker, te pap was. Ons sal moet seker maak dat die battery op anker gelaai word deur die enjin te laat loop.

Wel, nou is dit alles regkry vir Elize en Martie. Toe kom die nuus. Hulle vlug is gekanselleer! Dis nou 'n gemors. Hulle het klaar veerbootkaartjies waarvoor hulle nie betyds gaan wees nie. Fanie moet probeer om dit te skuif. Ag, alles is blou! Blou is die Maandag. Blou is die vliegtuig. Blou is die veerboot. Blou is Elize en Martie. Alles is blou.

Met een ligpuntjie. Maja is nie blou nie!

Lipso Eiland. Lipso Baai.

16 Junie 2019. Sondag.

Partheni tot Lipso Baai

Gelukkige Vadersdag aan al die vaders dwarsoor die wêreld. En spesiaal ook aan my eie pa, wat 89 jaar oud is.

Ons gaan vandag na Lipso, 8 myl. Die kaptein gee die opdrag: "Start the engine!" Hy is mos Engels. En ek druk die knoppie en Maja se enjin sê: "Hoi hoi." My f*k, en ek skrik my asvaal. 

Nou is die kaptein doenig met dinge en hy sê ek moet weer probeer. Hierdie keer is daar nie eers 'n "hoi hoi" nie. Net 'n angswekkende stilte.

Ek is asvaal, maar die kaptein is valer. Toe doe hy weer 'n paar dinge met sy towerstaf en met 'n bonsende hart probeer ek weer.  As Maja nie nou vat nie, sal iemand vir ons 'n enjinbattery moet bring. Ek druk die knop met behulp van 'n skietgebedjie. En daar vat Maja. Sit dadelik die omwentelinge hoër dat die battery kan laai.

Sjoe! Archie trek die anker op en weg is ons. Ons vaar heel ttyd om die batterye te laai en toe ons by Lipso kom, is dit nog steeds nie heeltemal vol nie. Ons gooi anker en vas is ons.

Oggendskoot - Boot en blou

Ek voel sommer moeg na die spanning, maar later vat ons vir Dinkie en gaan land toe. 

Dis pragtig hier van bo af. Elize en Martie gaan mal oor Lipso wees as hulle oor 'n paar dae hierheen kom. Ons kyk na Maja in die baai. Blou water, vriendinne wat lui saam met haar in die baai ronddraai. Dorpie in die agtergrond.

Marieks en Maja

Hier in Griekeland bou hulle mos oral kerke. Langs die see, op heuwels, op berge, op pleine. Somige huiseienaars bou soms vir hulle 'n persoonlike klein kerkie. Hier in Lipso is baie kerke. In die dorp is daar 'n klomp en hier in die baai is twee. By die eerste kerkie is hulle besig met restourasie. Nuwe verf en wat nog. Die ou kerkie gaan sommer pragtig lyk. Ons sien hom weer van bo af.

Kerkie

Ons stap berg-op na die ander kerkie. Die boonste kerk is ook vars geverf. Skitterwit en blinkblou pronk hy daar. Ons kry ook 'n pragtrige uitsig van bo af. Toe stap ons weer terug onder toe en roei terug na Maja.

Ons spaar heeltyd krag. Ek is nou bang vir daai battery. Gaan die enjin battery hou?!

Kerk op die bult
Vars geverf
Uitsig van kerk

Saturday, June 15, 2019

Leros Eiland. Partheni.

14 en 15 Junie. Vrydag en Saterdag.

Lakki tot Partheni


Vandag is ons voorland Partheni, 10.6 myl wind-op. Ons seil vir 30 minute en motor die res van die tyd.

Oggendskoot - Lakki Baai uitgang
 
Partheni het 'n bootwerf waar Lakki Marina se bote op land gehou word. 'n Hele klomp jagte staan daar droogsromp op die land. 
 
Partheni bootwerf
 
Ons gooi anker in die beskutte baai en hier gaan ons vir twee dae bly. Ons is nou die oorblywende sigeuners. Ons vat dit maar stadig sodat ons Maandag in Patmos kan wees om Dinsdagnag, 02:30 vir Elize en Martie, wat met die veerboot van Athene af kom, te ontmoet.

Partheni is maar 'n eenvoudige plek. Hier is vissermanne, visplase en 'n visfabriek, bootwerwe, 'n klein lughawe en 'n vlootmagbasis (weet nie of dit nog hier is nie). Niks mooi nie, net doodgewoon. Hier bly mense wat hul lewe doodnormaal leef. Sonder pretensie. Aan die verste  kant van die baai is twee hartseer jagte wat gestrand het.
 
Visplaas
Wrakke
Partheni Baai
Visserbote
 
Gus woon ook hier en is alomteenwoordig. Soms liggies, soms ruk hy hom op. Ek wonder heeltyd hoekom praat ek van Gus in 'n manlike hoedanigheid. Hy het meer die temperament van 'n vroumens.

Archie lees en ek lees ook. En ek hekel. Ek het nou al 15 blokke gehekel en 10 rooi, 12 blou en 14 grys blokke gebrei. My kombers vorder. 
 
Kombers in wording
 
So gaan die ure op Partheni langsaam verby. En ek is seker dat by die huis pak Elize en Martie koorsagtig. Hulle vlieg Maandag. Hulle kamers wag vir hulle.
 
Martie se kamer
Elize se kamer

Thursday, June 13, 2019

Leros Eiland. Lakki Marina.

12 en 13 Junie 2019. Woensdag en Donderdag.
 
Ons is eintlik op pad Patmos toe waar ons Dinsdagoggend, 02:30 vir my suster Elize, en vriendin Martie gaan ontmoet. So, nou vat ons dit maar rustig. Ons skuif van ons ankerplek in die baai na Lakki Marina. Die marinero wag op die kaai en help om ons vas te maak.
 
Vroegoggend in Lakki Baai
 
Nou wag die groot taak om die stoorkamer reg te pak en leeg te maak. Martie moet daar slaap. Wasgoed word gewas, ek stofsuig en was die twee gastekamers.

Dis baie warm hier in Leros en ons rus gereeld.

Ons stap na Merikia se oorlogtonnel. Die uitsigte langs die pad is mooi. Blou water en loom-lui bote op anker. By Kouloudi sing en speel en dans die kinders saam met hulle onderwysers. 
 
Leros het 'n baie hartseer Tweede Wêreldoorlog geskiedenis. Merikia het 'n baie unieke tonnel museum, waarop die Grieke baie trots is. Hulle het dit restoureer en in 'n uitstekende museum verander. Hulle wys ook 'n film oor die Slag van Leros.
 
Merikia Baai
Merikia Baai
Kinders van Kouloudi
 
Hierdie militêre tonnel is met die grootste respek reggemaak. Dit was een van die vele tonnels wat sedert 1930 deur die Italianers gebou is. Lakki was as gevolg van ligging én omdat dit so 'n goeie natuurlike hawe was, die vlootbasis van die Italianers in die oostelike deel van die Mediterreense See.

Die Italianers het hier aan die kant van die Geallieerdes geveg, teen Duitsland. Die Italianers het hier talle groot ondergrondse arsenale gebou. Honderde tonnels is gebou en spanne is ingevoer om dit onderhou. 

Tonnel ingang
Tonnel Museum
"Nommer asseblief"
X-straal masjien
Helmets
Ou vliegtuigenjin
 
Die Duitsers het in 1943 besluit hulle wil die Dodecanese Eilande verower. Die Veldslag van Leros het 11 November 1943 begin. Na baie hewige gevegte en bomme tussen die Engelse en Italianers teen die Duitsers, het die Duitsers Leros verower. Die ander Dodecanese Eilande het na die Slag van Leros oorgegee.

Daar is tot vandag toe nog beskadigde geboue in Lakki te sien.
 
Gebombardeerde gebou
 
Ons stap terug en ook dorp toe vir botter. In die winkelvenster sien Archie 'n stoof. O my genade, hy oorweeg dit om 'n stoof te koop. By Maja gekom, word die ou stoof uitgelig, en gemeet. Nou weer terug winkel toe om te sien of die nuwe stoof gaan pas. Maar ongelukkig koop Archie nie die stoof nie. Dit gaan dalk nie pas nie. Miskien 'n volgende keer.