Tuesday, June 18, 2019

Patmos Eiland. Patmos.

17 Junie 2019. Maandag.

Lipso tot Patmos
Nou wonder ek - is dit vandag 'n blou Maandag!? Dis tyd om te gaan, die anker moet op en Maja moet aangesluit word. Gaan sy vat? Ek druk die knop. Hou asem op. En sy vat pragtig! Weg is ons na Patmos, 14 myl. Ons kry môrenag vir Elize en Martie daar en ek is baie opgewonde.

Archie is nog bekommerd oor die battery situasie . Hy gaan ondertoe en meet die kragtoevoer. Volgens die meting is daar volts, maar geen ampere wat in die battery ingaan nie. Dit kan nou een van twee dinge wees. Òf sy multimeter is stukkend òf die alternator is stukkend. Laasgenoemde kan 'n tragedie wees.

Archie diskonnekteer die huisbatterye van die enjinbattery, vir ingeval dit die enjinbattery dreineer. En ons verander koers na Dhiakoftou, ook op Patmos, waar daar 'n bootwerf is met 'n Volvo agent. Wat 'n genade!
Chora en kasteel van Dhiakoftou Baai
Interessante klip
Daar is boeie in die water by die bootwerf en vandag gryp ons 'n boei, roei land toe en gaan vind uit of iemand ons kan help. Maar o weë. Vandag is 'n vakansiedag in Griekeland. Hulle manne werk nie.

Gelukkig sê die man in die kantoor hy sal 'n privaat ou in Skala Patnos bel om te hoor of hy ons kan help. Hy is bereid om ons op die vakansiedag te help en ons vaar terug na Skala Patmos, waarheen ons oorspronklik op pad was. 

Nou het ons 'n nuwe bekommernis. Archie het mos die huisbatterye gediskonnekteer. Het hulle genoeg krag om die ankermotor te dryf as ons ankergooi? 

By Skala is daar gelukkig baie plek langs die dorpskaai. Archie tru en ek druk die knop. En daai anker loop. Ek is baie verlig. Die boek sê jy moet baie ankerketting hier uitgooi vir die dwarswinde en ons gooi 60m uit. Dis vreeslik baie. Daar is niemand op die kaai om ons te help nie en ons moet maar self sien en kom klaar. Ek gooi anker en as ons naby die kaai is, hardloop ek agtertoe na die helm en Archie spring af met die tou. 
Skala Patmos
Ons nader die kaai, Archie roep. Ek hardloop agtertoe. Die stywe anker trek Maja vorentoe. Te vêr van die kaai vir Archie om af te klim. Ek hardloop vorentoe, gooi nog anker uit, hardloop agtertoe, Archie klim af en maak ons vas. Hemel, maar nou is ek skoon uitasem! En vas is ons.

Toe wag ons vir Peros om die battery raaisel te kom oplos. Hy kom, met 'n tas wat vir my lyk na 'n dokter wat huisbesoek doen. Ek moet die enjin aansit en ek hoor hoe redekawel die twee daar onder. Wel, hy meet en daar is ampere. Dit beteken dat Archie se multimeter is stukkend en dis nie die alternator nie. Dis baie goeie nuus. Die nuus kos ons €50!
Soek fout
Peros Elektrisiën
So, nou die dag toe Maja nie wou vat nie, is dit net omdat die battery, na soveel dae op anker, te pap was. Ons sal moet seker maak dat die battery op anker gelaai word deur die enjin te laat loop.

Wel, nou is dit alles regkry vir Elize en Martie. Toe kom die nuus. Hulle vlug is gekanselleer! Dis nou 'n gemors. Hulle het klaar veerbootkaartjies waarvoor hulle nie betyds gaan wees nie. Fanie moet probeer om dit te skuif. Ag, alles is blou! Blou is die Maandag. Blou is die vliegtuig. Blou is die veerboot. Blou is Elize en Martie. Alles is blou.

Met een ligpuntjie. Maja is nie blou nie!

No comments:

Post a Comment