Monday, May 27, 2019

Symi. Koebaai Turkye, hallo Griekeland.

27 Mei 2019. Maandag.

Datça tot Symi
 
Na 'n hele klomp formaliteite en die Hawe Polisie wat ons kom identifiseer, is ons gereed om te vertrek. Ons verlaat vandag vir Turkye en gaan na Symi, 20.6 myl.

Dis nou die gaste se nooiensvaart en die kaptein gee die bevele. Ek moet uitry, Mary-Jane moet met die een agtertou werk en Archie wys vir Paddy hoe om anker op te trek. En daar trek ons op Paddy en Mary-Jane se eerste seilavontuur. 

Die kaptein gee 'n instrument les en daarna neem Paddy die helm oor en geniet dit vreeslik. Halfpad hys Archie die Griekse vlag. Nou is ons amptelik in Griekse water. 

Instrument les
Kruis die grens
 
Die kanaal tussen Symi en Nimos Eiland is mos vreeslik vlak en die twee brandwagte "con the way through". Paddy natuurlik met my magic bril in sy hand.
 
Kyk vir vlak water
 
En toe lê Symi voor ons en die gaste is betower. Hulle kyk en hou van wat hulle sien. Ons kry alles reg vir die vasmeer by die dorpskaai. Die Fallers sit die fenders uit, Archie kry sy posisie en tru. Ek gooi die anker en die kaaiman help met die toue en ons is vas.
 
Bly om in Symi te wees
Lief vir jou
 
Sommer gou is daar anker opwinding by die kaai. Hierdie dorpskaai is mos berug vir ankerkruisings. Die seiljag se anker is vas aan die motorboot se ketting. Gus waai en hulle sukkel. Ons kyk onbeskaamd. (En ek kan sweer Mary-Jane geniet dit!) 'n Man op 'n dinghie gaan help en uiteindelik, na 'n lang gesukkel, is hulle vry. Ek slaak 'n sluk van verligting namens hulle en Mary-Jane is spyt die opwinding is verby.
 
Gekruisde anker
Kyk onbeskaamd
 
Die Fallers gaan verken Symi, maar dié twee se paaie skei. Paddy soek vir Mary-Jane, maar sy is skoonveld. Soos 'n groot speld verdwyn. "Niemand is so blind as die een wat nie gesien wil word nie". Almal is toe later weer herenig en vredig op ons kleine Maja.

Ek en Archie gaan stap boontoe en sien die baai van bo af, uit 'n heel ander hoek. Dis warm en ons sweet. Doer onder lê Maja. Die Symi bly maar pragtig. Ons loop die lang af-pad terug.
 
Kloktoring by ingang
Symi
Maja (4de van links)
Ekke
Mooi deur
Mooi Symi
 
Toe begin Archie met die groot taak om ons ingeklok te kry. Dis eers die paspoort polisie. Paddy kom oop en toe by ons aangeloop. Hy kom haal ons, want die polisie wil ons sien en identifiseer. Ons slaag die toets kan terug boot toe gaan. Toe moet Archie nog na die doeane én toe na die hawe polisie. Die hele eskapade neem 2h30 min. Toe is Archie baie moeg en ons is wettig in Griekeland.

Dis lekker hier. Ek voel sommer tuis!

Friday, May 24, 2019

Datça. Nuwe gaste.

23 tot 26 Mei 2019. Donderdag tot Sondag.

Knidos to Datça

Roete tot op datum

Knidos is stil in die oggend. Baie jagte het vertrek. Ons volg in hul waterspore en ons vertrek na Datça, 20.3 myl. Dis hier waar ons Maja gaan skrop en polish (soos my oorle ma altyd gesê het).

Paddy, nog 'n ou skoolvriend van Archie, en sy vrou Mary-Jane, ontmoet ons Sondag by Datça om vir so paar dae saam met ons te kom seil. Ons sien uit daarna om hulle te sien.

Eindelik is dit sukke tyd. Die nuwe gaste daag op. Paddy en Mary-Jane is hier.
 
Hulle is hier
 
Archie is bly om sy ou skoolmaat te sien. Paddy is eerste aan boord. Hy lyk gretig om die blog wat hy so getrou gelees het, eerstehands te beleef. Mary-Jane kyk daai plank so uit die hoek van haar oog. Maar toe kom sy ook veilig aan boord, nadat Paddy handjie bygesit het.
 
Paddy kom aan boord
Mary-Jane volg
 
Hulle is lekker moeg en koffie is net die regte ding om hulle aan die gang te hou. Nadat ons ietsie geëet, en lekker gesels het, gaan ons dorp toe. Hulle verken die dorp alleen verder en ek en Archie gaan terug na Maja.

Ai, Datça se seefront is darem mooi. Oral is sukke eienaardige marmerbeelde en Maja se mense en die honne verfraai die beelde nog meer. Die restaurante langs die waterfront verlei mens om daar te sit. Ons weerstaan die versoeking en neem maar net droëbek- glimlaggend foto's. Gail en Norman van Mosselbaai loop daar verby en poseer saam. Hulle is nie seilers nie, maar kuier in Turkye.
 
Seefront honne
Ou vrinne
Gail, Norman, Archie, Paddy en Mary-Jane
Uitsig
Terug by Maja
 
Dit is gesellig op Maja se dek en Paddy en Mary-Jane is baie bly om hier te wees. Later word aandete bedien. Eenvoudige Turkse kos. Mantie en Ayran.

Die son sak langsaam en die dag kom tot 'n einde. Saam met skemer kom die soel aandlug van die amper-somer.
 

Knidos

22 Mei 2019. Woensdag.

Körmen Marina to Knidos

Ons is weer alleen leen leen. Sullivan is vort en ons bly agter. So gaan dit maar met seilende sigeuners. Altyd op pad. Altyd groet. Vandag is dit die bekende pad na Knidos, 17.1 myl.
 
Trevor en Leslie Koekemoer is ook vandag op pad na Knidos, so ons gaan hulle daar sien. Darem 'n vertroosting noudat Sullivan weg is.

Kaap Krio ligtoring

Ons is die derde boot wat anker gooi in die bekende baai. Later daag Trevor en Leslie op en ek en die kaptein roei in Dinkie na Azuria, hulle catamaran. Die baai word al voller en die jagte stroom in. Sommige gaan na die kaai en dié is later vol.

Azuria
Leslie span wasgoedlyn

Dinkie gaan water toe

Ons kuier en gesels en drink koffie. Ek nooi hulle vir aandete. Dit gaan 'n groot uitdaging vir my wees om vir hulle te kook. Ons vleis en groente is op. Ek het wel twee uie, drie tamaties wat gevries het en bietjie purslane (soort onkruid), wat ook half gevries het. In die pestobotteltjie is nog  bietjie pesto. En ons het baie pasta.

Hulle kom 19:00 daar aan en ons skink vir hulle 'n glasie Griekse tsiprou. Şerefe! Ons eet die pasta met kaas en my heerlike pastasous en die komplimente stroom in. Ons smul aan die eenvoudige kos.

Kom kuier
Tsiprou aperitif
Leslie en Trevor
Archie en ek
Ons vier

Later gaan hulle huis toe en toe begin die Knidos Baai vertoning. Die wind, wat net liggies waai, draai en die groot jagte, wat te naby mekaar geanker het, het moeilikheid. Ons hoor 'n harde dowwe stampgeluid. Dis die Belgiese boot wat stamp teen die Luxembourgers. En laasgenoemde is nie op hulle jag nie. Hulle is in die restaurant. Die Belge laat hulle enjin hardloop om gereed te wees om bietjie weg te vaar as hulle weer wil bots. Hulle anker is nog vas. Later kom die Luxembourgers terug en almal staan op die jag rond. Die Belge trek anker op.

Die Belge soek na nuwe anderplek. Dis moeilik in die donker, veral in 'n oorvol baai. Hy gooi later anker, nadat 'n paar ander jagte hom wegjaag van hulle af, want hy wil te naby anker. Hulle kry toe eindelik 'n plek.

Gelukkig is ons buite gevaar, want ons is alleen aan die noordekant van die baai. Tussen ons en die suidekant is 'n strook seegras en niemand anker daar nie.

Maar toe kom daar nog 'n jag in die donker ingevaar. Hy pyl reguit op ons af en wil toe baie naby voor ons gooi. Ek gaan uit en skree vir hom dis te naby ons en hy trek sy anker op. Toe kom gooi hy vreeslik naby die land. Effe agter ons. Ek is benoud vir sy part. Ai, "never a dull moment".

Gelukkig het almal tot rus gekom en die baai verander in Droomland.

Wednesday, May 22, 2019

Sullivan


Sullivan se roete - Marmaris tot Körmen Marina
Sullivan

Sullivan is nog steeds sy sjarmante self. Behulpsaam, bedagsaam, bekwaam. Hy het weereens baie goed op Maja aangepas. So asof hy hier hoort.

Soos gewoonlik het sy hande gejeuk om die helm oor te vat. Geniet dit vreeslik om aan die stuur van sake te staan. Soos ek verlede jaar gesê het, ek dink hy is met die helm gebore. Dan word hy baie moeg en gaan zzz elke middag 'n rukkie. 

Hy help waar hy kan en geniet dit om te seil. Dan was hy na ete getrou en deeglik die skottelgoed ( behalwe daai een vurk wat baie half gewas was). Hy hou daarvan om al die plekke te ondersoek en met mense te gesels. "Sullivan, jy kan maar weer kom!"
Sullivan skryf: 
Best place 
Ukluk Köyü. A beautifully secluded bay with pine trees all around stretching over the hills and right down to the water's edge. Felt like it could be Alaska. 

Lovely restaurant quay owned and run by Apol and his family. Restaurant deck and Otel upstairs is surrounded by a great variety of trees and bushes - very peaceful surroundings. Our food was especially good. Very well equipped ablution facilities. 


Ukluk Köyü

Best experience
Sailing from lovely Sehir Adalari to
Ukluk Köyü, we had some good 18 knot winds from the starboard side. Sailing speed over 6 knots!!  The best hours’ sailing all week and completely free!! 

Great excitement on board with Marietjie keeping us on our toes with "hier kom nog 'n gust" and Archie urging me to keep going straight. They only told me afterwards how to steer out of the gusts!! 


Sailing

Thanks again Archie and Marietjie for a wonderful 11 cruising days and to Marietjie for her great food. Cheers.

Rit na Marmaris. Koebaai Sullivan.

21 Mei 2019. Dinsdag.

Vandag laat ons Maja veilig in die Marina agter en ons almal gaan Marmaris toe. Sullivan moet Dalaman lughawe toe te gaan. Hy vlieg Switzerland land toe om by sy wederhelf, Mary-Anne, aan te sluit. Dan gaan hulle twee saam verder toer.

Ons wag vir ons eerste dolmuş na Datça. Vandaar kry ons 'n volgende bus na Marmaris. Hasan se vrou wag so ewe saam met ons vir die bus. Ons sê vir haar ons gaan Marmaris toe, maar toe daai dolmuş kom, klim sy nie. Sy praat met die bestuurder en loop terug huis toe.

Wag vir dolmuş saam met Hasan se vrou

Die 08:00 bus is vol skoolkinders op pad na Datca en toe ek groet en "Merhaba" (hallo) sê, koor  al die kinders "merhaba" terug. So asof ek hulle juffrou is. By Datça se groot Migros, stop die bestuurder en kyk vir ons en sê: "Marmaris." Daai vrou by Körmen het sweerlik vir die busbestuurder gesê hy moet seker maak ons klim by die regte plek af. Hierdie Turke is die sout van die aarde.

Net om die draai is die bussie na Marmaris en ons klim. Sullivan se groot tas ry in die kattebak. Dis 'n heerlike rit en na omtrent 'n uur en 'n kwart lê Marmaris voor ons en ons klim by die otogar af. Dis te vêr vir stap en  die geel taxi neem ons en die tas na Mustafa se kantoor dat sy vriend die waterpomp kan regmaak.

Ons wag in Mustafa se kantoor en hy bestel vir ons Turkse koffie. Ek gril en drink. Ek hou mos niks van Turkse koffie nie. Dis te moerig. Sommer gou het Archie sy waterpomp terug en R1 000.00 verder is dit hopelik reg.

Ons drie dwaal vir oulaas saam in Marmaris rond. Ek koop hier en daar geskenke vir my kinders. Sullivan koop nog 'n hemp.

Toe gaan ons na dieselfde restaurant waar ons verlede jaar saam met Francois en Roelien geëet het. En ons drie smul vir oulaas saam aan 'n heerlike middagete ete.

Sullivan eet "chicken backs"
Lekker eet

Laaste middagete saam

Toe is dit sukke tyd. Koebaai, altyd te gou. Ons neem hartseer van Sullivan afskeid. "Koebaai Sullivan, dit was heerlik om jou op Maja te hê. Jy kan maar weer kom!"

Körmen. Kairos Marina

20 Mei 2019. Maandag.

Amazon Creek to Körmen Marina
Vandag is Sullivan se laaste vaart op Maja. Ja, môre verlaat hy ons. Ons trek anker op en vertrek na Körmen, 23.6 myl. Ons val vroeg, 07:15, in die pad. Die wind is liggies van agter. Sullivan is agter die helm.

Ons vaar amper die hele pad en seil net die laaste 30 minute. Sullivan geniet dit vir oulaas om te stuur en geniet dit terdeë om daai helm vas te vat as Gus ons vasvat.  Die groot genoa bolrond in die wind en kaptein Archie bewonder sy genoa.
Laaste seil vir Sullivan
Ek roep die Marina oor die radio en die marinero kom help ons om alongside vas te maak. Vas en veilig. Sullivan se laaste bestemming van sy heerlike seilervaring van 2019.
Alongside Körmen Marina kaai
Getroue ou Sullivan gooi vir oulaas vir ons koue drankies in. Ek moet sê, op die roete het hy meer warm drankies as koue drankies na 'n suksesvolle vasmeer geskink. Maar vandag is die tradisionele "cold beverages". Şerefe (cheers) vir oulaas!
"Cold beverages"
Eers werk, dan speel. Die flukse manne begin boot was. Maja is skielik weer silwerskoon. 
Bootwas
Archie besluit om die seewaterpomp uit te haal. Die ding lek nou deesdae omtrent een liter per uur. Dis gladnie ernstig nie, maar soooo irriterend om dit te dreineer. Hy reël met Mustafa van Marmaris dat een van lg. se makkers die pomp gaan diens. Dis eintlik meer 'n pompie as 'n pomp. So môre gaan ons saam met Sullivan die bus klim na Marmaris. Sullivan verlaat ons mos môre.
Haal pomp uit
Die sondebok
Hier by Körmen gebeur nie eintlik veel nie. Archie en Sullivan bespreek vir ons 'n plek die die eenvoudige klein restaurantjie. Die laaste skemerkelkie word op Maja se dek geniet. Ai, tyd staan nie stil nie. Dit vlieg!
Reg vir uiteet
Laaste skemerkelkie
Maja silhoeët
Dit word aand. Maja staan dof en alleen teen die aandskemering afgeëts. 19:00 daag ons ewe opgetert by Hasan se restaurant op. Hy is die eienaar en sy vrou kook die kos. Sullivan eet oudergewoonte vis, Archie bestel Turkse  köfte en ek is lus vir lam.
Hasan en Sullivan