Wednesday, May 22, 2019

Sullivan


Sullivan se roete - Marmaris tot Körmen Marina
Sullivan

Sullivan is nog steeds sy sjarmante self. Behulpsaam, bedagsaam, bekwaam. Hy het weereens baie goed op Maja aangepas. So asof hy hier hoort.

Soos gewoonlik het sy hande gejeuk om die helm oor te vat. Geniet dit vreeslik om aan die stuur van sake te staan. Soos ek verlede jaar gesê het, ek dink hy is met die helm gebore. Dan word hy baie moeg en gaan zzz elke middag 'n rukkie. 

Hy help waar hy kan en geniet dit om te seil. Dan was hy na ete getrou en deeglik die skottelgoed ( behalwe daai een vurk wat baie half gewas was). Hy hou daarvan om al die plekke te ondersoek en met mense te gesels. "Sullivan, jy kan maar weer kom!"
Sullivan skryf: 
Best place 
Ukluk Köyü. A beautifully secluded bay with pine trees all around stretching over the hills and right down to the water's edge. Felt like it could be Alaska. 

Lovely restaurant quay owned and run by Apol and his family. Restaurant deck and Otel upstairs is surrounded by a great variety of trees and bushes - very peaceful surroundings. Our food was especially good. Very well equipped ablution facilities. 


Ukluk Köyü

Best experience
Sailing from lovely Sehir Adalari to
Ukluk Köyü, we had some good 18 knot winds from the starboard side. Sailing speed over 6 knots!!  The best hours’ sailing all week and completely free!! 

Great excitement on board with Marietjie keeping us on our toes with "hier kom nog 'n gust" and Archie urging me to keep going straight. They only told me afterwards how to steer out of the gusts!! 


Sailing

Thanks again Archie and Marietjie for a wonderful 11 cruising days and to Marietjie for her great food. Cheers.

Rit na Marmaris. Koebaai Sullivan.

21 Mei 2019. Dinsdag.

Vandag laat ons Maja veilig in die Marina agter en ons almal gaan Marmaris toe. Sullivan moet Dalaman lughawe toe te gaan. Hy vlieg Switzerland land toe om by sy wederhelf, Mary-Anne, aan te sluit. Dan gaan hulle twee saam verder toer.

Ons wag vir ons eerste dolmuş na Datça. Vandaar kry ons 'n volgende bus na Marmaris. Hasan se vrou wag so ewe saam met ons vir die bus. Ons sê vir haar ons gaan Marmaris toe, maar toe daai dolmuş kom, klim sy nie. Sy praat met die bestuurder en loop terug huis toe.

Wag vir dolmuş saam met Hasan se vrou

Die 08:00 bus is vol skoolkinders op pad na Datca en toe ek groet en "Merhaba" (hallo) sê, koor  al die kinders "merhaba" terug. So asof ek hulle juffrou is. By Datça se groot Migros, stop die bestuurder en kyk vir ons en sê: "Marmaris." Daai vrou by Körmen het sweerlik vir die busbestuurder gesê hy moet seker maak ons klim by die regte plek af. Hierdie Turke is die sout van die aarde.

Net om die draai is die bussie na Marmaris en ons klim. Sullivan se groot tas ry in die kattebak. Dis 'n heerlike rit en na omtrent 'n uur en 'n kwart lê Marmaris voor ons en ons klim by die otogar af. Dis te vêr vir stap en  die geel taxi neem ons en die tas na Mustafa se kantoor dat sy vriend die waterpomp kan regmaak.

Ons wag in Mustafa se kantoor en hy bestel vir ons Turkse koffie. Ek gril en drink. Ek hou mos niks van Turkse koffie nie. Dis te moerig. Sommer gou het Archie sy waterpomp terug en R1 000.00 verder is dit hopelik reg.

Ons drie dwaal vir oulaas saam in Marmaris rond. Ek koop hier en daar geskenke vir my kinders. Sullivan koop nog 'n hemp.

Toe gaan ons na dieselfde restaurant waar ons verlede jaar saam met Francois en Roelien geëet het. En ons drie smul vir oulaas saam aan 'n heerlike middagete ete.

Sullivan eet "chicken backs"
Lekker eet

Laaste middagete saam

Toe is dit sukke tyd. Koebaai, altyd te gou. Ons neem hartseer van Sullivan afskeid. "Koebaai Sullivan, dit was heerlik om jou op Maja te hê. Jy kan maar weer kom!"

Körmen. Kairos Marina

20 Mei 2019. Maandag.

Amazon Creek to Körmen Marina
Vandag is Sullivan se laaste vaart op Maja. Ja, môre verlaat hy ons. Ons trek anker op en vertrek na Körmen, 23.6 myl. Ons val vroeg, 07:15, in die pad. Die wind is liggies van agter. Sullivan is agter die helm.

Ons vaar amper die hele pad en seil net die laaste 30 minute. Sullivan geniet dit vir oulaas om te stuur en geniet dit terdeë om daai helm vas te vat as Gus ons vasvat.  Die groot genoa bolrond in die wind en kaptein Archie bewonder sy genoa.
Laaste seil vir Sullivan
Ek roep die Marina oor die radio en die marinero kom help ons om alongside vas te maak. Vas en veilig. Sullivan se laaste bestemming van sy heerlike seilervaring van 2019.
Alongside Körmen Marina kaai
Getroue ou Sullivan gooi vir oulaas vir ons koue drankies in. Ek moet sê, op die roete het hy meer warm drankies as koue drankies na 'n suksesvolle vasmeer geskink. Maar vandag is die tradisionele "cold beverages". Şerefe (cheers) vir oulaas!
"Cold beverages"
Eers werk, dan speel. Die flukse manne begin boot was. Maja is skielik weer silwerskoon. 
Bootwas
Archie besluit om die seewaterpomp uit te haal. Die ding lek nou deesdae omtrent een liter per uur. Dis gladnie ernstig nie, maar soooo irriterend om dit te dreineer. Hy reël met Mustafa van Marmaris dat een van lg. se makkers die pomp gaan diens. Dis eintlik meer 'n pompie as 'n pomp. So môre gaan ons saam met Sullivan die bus klim na Marmaris. Sullivan verlaat ons mos môre.
Haal pomp uit
Die sondebok
Hier by Körmen gebeur nie eintlik veel nie. Archie en Sullivan bespreek vir ons 'n plek die die eenvoudige klein restaurantjie. Die laaste skemerkelkie word op Maja se dek geniet. Ai, tyd staan nie stil nie. Dit vlieg!
Reg vir uiteet
Laaste skemerkelkie
Maja silhoeët
Dit word aand. Maja staan dof en alleen teen die aandskemering afgeëts. 19:00 daag ons ewe opgetert by Hasan se restaurant op. Hy is die eienaar en sy vrou kook die kos. Sullivan eet oudergewoonte vis, Archie bestel Turkse  köfte en ek is lus vir lam.
Hasan en Sullivan

Amazon Creek

19 Mei 2019. Sondag.

Ons het sowaar nie eers gister by Tuzla geswem nie. Wonder wat sal Dirk daarvan sê. Verlede jaar het ons soos kinders in hierdie water baljaar. Sullivan doen die brawe ding om die landlyn te gaan losmaak. Daai water is nog lekker koud.

Sullivan maak landltou los

Alles lyk goed in die enjin, geen olie te sien nie en ons vertrek na Amazon Creek, 10.6 myl. Sullivan is oudergewoonte eers voor op die wa en daarna agter die stuur van sake. Die see is kalm en die wind is weg. Nes ek daarvan hou.

Oggendskoot - Silhoeët

Die makkers sit en gesels en dis gewoonlik vreeslike intellegente gesprekke. Hulle  het mos  altwee toentertyd graad een gespring, dis nou as jy drie maande in graad een te slim raak vir die graad en dan gaan jy dadelik na graad twee toe. 

Nie lank nie, of Amazon Creek lê voor ons en die anker word in die modder gegooi en hy byt lekker. Sullivan is op sy pos en skink warm en koue drankies.

Warm en koue drankies

Voëls sing in die bome. Die kleur groen, speel die hoofrol in die pragtige baai, want oral rondom ons is lowergroen bome. Tot een van die meisies wat swem se bikini is groen.

Na 'n heerlike middagete klim ons in Dinkie en die makkers roei ons in die riviertjie op. Dis maar vlak hier, maar ons geniet die lowergroen omgewing.

Amazon Creek

Ons kom by die vakansieoord (glamping oord) en klim uit. En wat 'n verrassing! Dis baie mooi hier. Daar is 'n pragtige restaurant waar die mooiste musiek speel. Oral is permanente karavane en ander blyplek tussen die bome. Die swembad is silwerskoon. Ai, dis regtig mooi hier. Ons sit heerlik by 'n tafeltjie en drink koue drankies. So nou en dan val 'n moerbei op die tafel, dan eet ek dit.

Sullivan en Dinkie

Ons drink die atmosfeer in en luister of ons die liedjies herken. Archie herken die meeste van die liedjies. 'n Dogtertjie agter ons sing saam. Ek en 'n ander jongman speel drom op  die tafel. Ons staan later onwillig op, want ons moet terug huis toe.

By Amazon Restaurant

Die makkers roei terug en by Maja is dit swemtyd. Archie en Sullivan speel uitgelate in die water. Hul spring en gil en jil. Nes toe hulle nog saam op skool was. Ek kiek hulle met die waterkamera. Ons geniet die swem terdeë. Ek verstom my weereens aan dié twee vriende van ouds wat nou nog so gemaklik met mekaar is. Pure Dawid en Jonathan.

Roei terug
Roei terug
Uitgelate
Swem
Klaar geswem
Bak droog

Ons het die dag op Amazon Creek vreeslik geniet.

Sunday, May 19, 2019

Tuzla Köyü

18 Mei 2019. Saterdag.

Okluk Köyü tot Tuzla Köyü
Die water is 'n spieël. Alles weerkaats. Twee van elk. Een bo en een onder(stebo). Die Maja makkers sit en werk. Die kaptein sit, en Sullivan haal wasgoed af. Ons wag vir ons brood en hoender. Toe Apo daar aankom, kry ons dit en laat spaander na Tuzla Köyü, 8.8 myl.
Okluk Kaai
Wag vir brood en hoender
Spieëlbeeld
Ons vaar verby die meermin. Sy sit roerloos, met nikssiende oë. Staar voor haar uit met lewelose oë, strak en weëmoedig. Wens vir die lewe. Vir asem, vir voel. Vir liefde.
Meermin
Ons maak 'n draai by die "English Harbour" ankerplek en toe vat ons die pad. Gus waai van voor en Maja slaan die deinings met haar romp. So vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Archie drein elke dag die waterlek in die enjn en toe sien hy 'n lagie olie op die water. O gaats!

Ons kom by Tuzla en is slaggereed vir ons "line ashore". Die landlyn is nou wel te kort, maar tussen Archie se spierkrag om die tou te trek en ek wat nog anker uitlaat en Sullivan wat die sake dophou, kom Archie by die boom uit en ons maak vas. 
Swem land toe
Trek tou
Archie kyk na die olie situasie en doen geskok verslag dat ons 'n ernstige olielek het. "My fok Marelise!" Die makkers suig al die gemorse olie uit die "oil bilge" op en maak alles skoon. Hulle suig 1.5 liter op. Amper helfde van die enjin olie!  Dit lyk ernstig! Nou is dit die belangrikste taak om uit te vind waar die olielek is. Die kaptein lyk bekommerd.
Suig olie op
Ek sien al klaar hoe sit Maja in Bodrum hoog en droog op die stelte omdat haar enjin uitgehaal moet word. En Paddy-hulle kom oor 'n week!
 
Nou moet hulle olie in die enjin gooi, maar Archie het nie genoeg spaarolie nie, en hulle gooi toe die opgesuigde olie ook terug in die enjin. Dis suiwer skoon olie.

Sullivan gaan skakel die enjin aan en die makkers kyk met arendsoë waar olie lek. Hulle ontdek die lek! Daar is 'n klein rubber proppie wat bo-oor die olie-uitsuigpypie kom. In dit was daar 'n klein skeurtjie waar die olie drup-drup uitloop. Die lek kom al 'n lang pad. En vandag, met die rowwe see, het die olie uit die "bilge" oorvloei in the water "bilge". Ek verstaan eintlik self nie wat ek hier geskryf het nie, maar hopelik sal slim mense verstaan.

Hulle maak toe die proppie reg met silikoonband. Dis 'n baie spesiale band wat goeters kan seël. Dis ongelooflik dat so 'n klein onbenullige dingetjie so belangrik is. Olielek is weg. Enjin is 100%. Dit moet gevier word! Ons verligting het geen perke. 
Maak proppie reg
Ons het die dag verder in dankbaarheid deurgebring. Gus waai 'n bietjie.

Saturday, May 18, 2019

Okluk Köyü

17 Mei 2019. Vrydag.

Şehır Adaları tot Okluk Köyü
Die dag breek en hou die belofte in om 'n pragtige dag te word. Ons het vandag sommer 'n kort pad. Net 7.7 myl tot by Okluk Köyü. So, ons gaan laat vertrek en het baie tyd.
Sonsopkoms
Archie besluit ons gaan Slang Eiland besoek om die grafte te soek waarvan die boek praat. Dié klein eilandjie is net oorkant Şehir Adalari. Ons klim in Dinkie en daar trek ons. Die makkers roei die lang pad en ons is daar. Maak Dinkie vas en ons is reg om die eiland te verken.

Soos gewoonlik sit Archie sy bril in sy hempsak om beter te kan sien. En hy sien nogal goed, want hy sien die skilpad wat nes klip lyk, dadelik raak. Skilla is seker nog besig om wakker te word na sy winterslaap, want hy roer nie. 
Skilla
Die pad is maar rof en die twee makkers is regte padvinders. Maar die paadjies is maar skaars en ons loop moeilik. Ons loop 'n ruk op die rotse langs die see. Doer voor loer sukke nuuskierige bokke vir ons. Hulle kyk ons omtrent aan. So asof hulle vra: "Nou wat soek julle eintlik hier?" Lyk kompleet of hulle kan diep dink.
"Hier kom die Bokke …"
Bokke en Marieks (Marieks staan aan die regterkant)
Ons kry 'n paadjie en stap verder. En daai bokke agtervolg ons. As ons stop, stop hulle. Dit lyk kompleet of dit ons kudde is. Ek en Sullivan lag te lekker toe ons poseer vir 'n foto en die bokke kom al nader. Regte nuuskierige agies.
Ons kudde
Ou bok soek mos jong blare
Bok en Blaar
Die uitsig is pragtig hier met die hoë berge in die agtergrond. Die see is blou en alles is net perfek. Die makkers klipspring op 'n rots skree soos Tarzan. Of miskien soos "George of the jungle", of miskien soos makker uit Suid-Afrika. Maar skree, of is dit brul, dit doen hulle hard en duidelik. Toe poseer die twee weer by die ligtoring. Mens sal dink hulle is modelle, so geniet hulle die kalklig.
Bergbokke
By die ligtoring
Langs die pad sien ons seemeeukuikens wat tussen die rotse skuil. Hulle moet seker vreeslik bang wees as die groot monsters so vir hulle loer. Ons stap terug, die makkers 'n ander roete as ek, hulle pik my met Dinkie op en ons roei terug. Dit was 'n heerlike uitstappie.
Skaam skuilende seemeeukuiken
Archie soek sy bril, maar dis skoonveld. My oorle ma sou vreeslik lelik gesê het "dis moerland toe". Ons kyk op die foto's of hy die bril in sy sak gesit het en sien op Sullivan se foto dat hy dit in sy hempsak gehad het toe ons uit Dinkie geklim het. Op 'n latere foto was die bril nie meer in sy sak nie. Die raaisel is opgelos. Die blêrrie bril het op die eiland verloor, uit sy sak geval.

Ai jai jai jai jai. Toe klim ons maar weer in Dinkie en roei die vêr pad eiland toe. Nou moet ons presies in Archie se spore loop. Eers by die skilpad. Niks! Archie loop op die plek waar hy 'n pad gesoek het. Hy het gebuk om te kyk of hy 'n pad deur die bos kan sien. Hy buk weer en soek die bril en so wrintie. Daar kry hy sy bril. Ons hoef nie eers so vêr geloop het nie. Ai, die vreugde!

Archie roei ons terug na Maja en ons maak klaar om te vertrek. Anker op en daar gaan ons. Gus waai van voor, maar ons kan darem op "close haul" met die genoa seil vir  omtrent 'n uur.

Sullivan vleg deur die klein eilandjies en voor ons is die restaurant kaai. 'n Man waai 'n vlag en ons mik dadelik daarheen. Nou al die tru en toue en vasmaak, is ons veilig. Dis 'n pragtige plek.
Die makker neem so sit-sit afskeid van die rooi stoel. Sit te lekker op die kaai. Dan sit die een so bietjie, dan sit die ander een. Hulle mik-mik om te besluit om die stoel te hou, maar ek sit my voet neer. Ons het nie plek op Maja vir 'n stoel nie. Hulle trek eintlik net my been. Die stoel word aan Apo geskenk.
Apo se plek
Seestoel
Koffiestoel
Vanaand is ons afskeidsete en Sullivan neem ons uit vir aandete. Dis die laaste restaurant op ons roete. Ons stort so tussen die muskiete in die mooi storte en ons lyk alte pragtig.

Die tafel is reeds gedek en Apo wag ons in. Sullivan moet die wyn goedkeur en hy sê dit proe vorentoe. Apo skink. Sullivan bestel vis, Archie calamari en ek lamstjops. Dit was omtrent lekker. "Dankie Sullivan, ons het dit terdeë geniet. Weereens heerlike kos, wonderlike atmosfeer en kuier saam met 'n baie goeie vriend.
Makkers
Makker en meisie
Apo en Sullivan
Koebaai-sê ete