Friday, September 21, 2018

Busrit na Georgië.

18 tot 20 September 2018. Dinsdag tot Donderdag.

Maja is veilig op haar stelte en reg vir haar winterslaap. Ian kom groet en ons gaan sê gou vir die Koekemoers koebaai. Ons is gepak en stiptelik 19:30 daag die taxi op om ons otogar toe te vat. Ek "pat pat" Maja liggies op haar pens en weg is ons.
Koebaai Koekemoers
Ons klim 20:30 ons eerste bus na Ankara en ry dwarsdeur die nag. Ons kom 7:30 daar aan, moeg en styf. Wag vir twee ure vir die volgende bus wat 9:30 na Tbilisi vertrek. En ons ry. En ons ry en ry en ry. Dit word aand en ons ry nog steeds. Gelukkig stop die bus darem elke nou en dag vir bene rek, toilet en kos. En nog om by elke busstasie nog mense op te laat. 

Dit word nag en ons ry sonder ophou. 2:45 kom ons by die grenspos aan en moet die hele bus ontruim. Sak en pak stap ons die laaaang pad van die Turkse grenspos na grenspos van Georgië. Ons word ingestempel en toe begin die groot wag vir die bus om deur die doeane te kom.

Ons wag vir twee ure toe kom sê die buspersoneel daar is iets fout, ons sal nog moet wag. Nou wat die probleem was, weet ons nie eintlik nie, want daai mense praat gladnie Engels nie. 'n Meisie van Georgië wat bietjie Engels kan praat, probeer vir ons verduidelik wat die probleem is, maar ons verstaan nie wat sy probeer sê nie.
Nou wag ons. Sommer in die straat met al ons bagasie. Dis nag en word koud. Een van die jong meisies kry vir ons 'n trollie om op te sit. Nou het ons blokkiesboude. Dit word kouer. Dan kry jy 'n nood en moet 'n piepie in 'n stink hurktoilet gaan koop. Ek gril my dood en wil opgooi. Met konsentrasie onderdruk ek die naarheid. Almal is erg moedeloos. Wel, 5:15 daag ons bus uiteindelik op en ons klim. En toe ry ons verder asof niks gebeur het nie. Die buspersoneel sprak g'n sprook. Maar daai mense op daai bus is moeg en moedeloos en moerig.
Ons wag en wag …

Op 'n stadium is daar pandemonium agterin die bus. Dis toe jong knape wat mekaar wil gryp (dis seker die wat moerig was). Almal rek hulle nekke "om beter te kan sien, my kind". Hulle word uitmekaar gemaak deur die omstanders en die buswaardin en toe ry ons weer verder. Ons kom toe 12:00 (ons het Dinsdagaand vertrek en dis nou al Donderdagmiddag) in Tbilisi aan. Sowat van busry het ek nog nooit ondervind nie. Dankie tog ons is veilig hier.
Nou soek ons 'n taxi. Die bestuurder weet nie waar is die woonplek nie. Nou staan al die ander taxibestuurders nader. Daar is blykbaar twee strate met dieselfde naam. Archie het sy selfoon met die aanwysings en hulle kyk en bespreek. Klink vir my na 'n klomp speeus op 'n telefoondraad.  Uiteindelik het hulle konsensus bereik oor waar die plek is en ons klim. En daar trek ons en wonder bo wonder kom ons by ons woonplek.
Archie stap gou af om te sien waar die woonplek presies is. Hy en die landlord  kom en hy gryp my sakke en daar trek ons. Nadat ons ingeburger is, gaan wys hy vir Archie waar die  hy geld kan wissel, die supermark, die metro en gaan koop sommer saam met Archie kruideniersware en help dit terug dra. En dis baie vêr af. Toe bring hy vir ons druiwe uit sy tuin (met 'n spinnekoprak of wat). 'n Baie gawe man.

Nou lê ek eers met my voete in die lug, want my enkels is geswel.

Tuesday, September 18, 2018

Marmaris. Uitlig.

Dit bly warm. Koel nie af nie. Ons sweet. Vandag word Maja uit die water gehaal. Hulle kom en vra of ons reg is. Een man is in die dinghie, reg om ons in die regte rigting te stoot en die ander man is op Maja, maak toue los en kry ander toue gereed. Archie is agter die helm.

Hy tru by die sloot in en hulle sê hulle kom haal ons oor 'n uur uit. Nou wag ons maar. Eindelik kom die blou monster daar aangery en dis sukke tyd.
 
Tru by sloot in

Wag vir uitlig
 
Die bloue ry wydsbeen oor die sloot en laat die bande onder Maja se pens insak. Die bestuurder ken sy werk, want presiesie is noodsaaklik. As die twee bande op die regte plek is, word sy stadig uitgelig. 
 
Uit die water
 
Die blou monster ry dan, met Maja in die lug, stadig agtertoe. Nou kom die hoëdruk man en begin die seelewe van haar romp af te spuit.
 
Spuit romp
 
Hierna kom die geel trekker met die staanders en die blou monster laat haar stadig op die krip sak. Die trekkerbestuurder wys met handgebare watter kant moet bietjie op of af, totdat dit perfek is. Maja word dan op die staander gesit en die bande word losgemaak, waarna die trekker haar dan na ons staanplek van die winter toe neem.
 
Plaas op staander
Op pad na staanplek
Voorman
 
Nou word nog ekstra houtpale onder haar ingedruk vir ekstra stewigheid. Sodra die marinamanne dan tevrede is dat alles reg is, is ons gereed vir oorwintering.

Archie het nog 'n paar take om te doen, en dan is die seisoen finaal verby. Maja bly alleen agter.

Ons gaan môre vir twee weke Georgië toe. Dit is 'n lang pad. Ons bus vertrek môre (Dinsdag) 20:30 na Ankara. Dit is 'n rit wat tien ure duur. Dan klim ons die bus na Tbilisi en 24 uur later (Donderdag), kom ons daar aan. Praat van 'n lang pad!
 
Reg vir winterslaap
"Cheers"

Sunday, September 16, 2018

Marmaris.

13 tot 16 September 2018. Donderdag tot Sondag.


2018 roete - van Aktio Marina, Preveza tot Yacht Marina, Marmaris
Baba Adası tot Yat Marina, Marmaris

Die son sukkel om op te kom. Die wolke hou hom vas. Hou hom terug. "Moenie vir die mensekinders jou gloed gee nie. Ons steek dit vir hulle weg. Keer die son vas! Vat weg sy skyn!"

Vroegoggend Baba Adası

So kom alles tot 'n einde. Vandag is dit ons laaste skof van die seisoen. Ons verlaat 'n pragtige kwas geverfde Baba Adası en vertrek na Marmaris, 25.5 myl.

Gus lê elders lekker en ons prrr vir oulaas vorentoe, altyd vorentoe. Die kaptein het 'n hartseer trek in sy oë. Ek sit en oordink die seisoen wat te vinnig verbygesnel het. Maar ek verlang aan die ander kant ook huis toe.
 
Naby Marmaris
Kaptein
 
Die ingang na Marmaris is maar net so besig, bote kom van oral af en Archie moet wakker wees. Toe is Yat Marine voor ons. Ons pomp eers die swartwater uit en die marinaman wys ons plek aan. Dié marina is tjok en blok vol. 

Ons kry so benoude plekkie en Archie moet mooi mik om nie aan hulle vasmeertoue vas te haak nie. En sowaar, die kiel haak vas. Die man in die dinghie stoot en druk ons en toe is die kiel los. Net vir oulaas 'n bietjie opwinding! Maja word toe deeglik vasgemaak en hier is ons nou vir vier dae in die water om alles reg te kry vir Maja se winterslaap.

Archie installeer die waterpomp se druk reguleerder en dit werk. Hy maak sommer ook die buitestort reg. Die genoa word as afgehaal en die toue vasgemaak dat hulle nie in die winterstorms moet klap en raas nie.
 
Werk aan waterpomp
Genoa word gesak
Toutjies trek
 
Maar dis darem nie net werk nie. Daar is wel tyd vir speel ook. Ons het 19:30 'n afspraak vir drankies by die Bora Bora en 'n ete daarna by die marina restaurant saam met agt ander Suid-Afrikaners.
 
Bora Bora Bar
 
Ons ontmoet vir Trevor en Leslie Koekemoer en vir  ander Mark. Vir Ian, Mark, Ebeth, Sandy en Neil ken ons darem. Dis nou behoorlik ook lag en gesels. Later sê die kroegman ons moet loop, want hy het familie probleme. En dis nou eers 20:00! En toe verkas ons restaurant toe.
 
Trevor, Ian, Leslie, Neil en Sandi
Mark en Archie
Mark en Ebeth
 
Dis net seilstaaltjies en stories. Almal verkeer in ligte luim en babbel behoorlik. Die kelnerin is kostelik. Sy is so kwaai en raas sommer met ons as ons nie gou genoeg bestel nie. Ons het soveel pret met haar en sy verras Ian met 'n soentjie op die voorkop.
 
Ek bestel biefstuk en dit was heerlik. Almal smul aan hul verskillende geregte en dit word 'n heerlike aand met mede-seilersvriende om 'n tafel vol smaaklike Turkse kos wat in ons geheue weggebêre word om later te koester in ons onthou.
 
Ian
Korswel met kelnerin
Sandi en ek




Saturday, September 15, 2018

Baba Adası

12 September 2018. Woensdag.

Küçük Kuyruk to Baba Adası

Ek wonder of ons weer gaan hop by Baba Adası, 13.8 myl. Ons was al baie daar en elke keer het ons die hele liewe tyd op en af en heen en weer gebons.
 
Vroegoggend Küçük Kuyruk

Vandag is 'n wolkdag. Oraloor, om my heen, is daar 'n wolk. Groot dreigend gryses. Hulle is dié wat jou laat wonder of daar 'n storm gaan losbars. En die veraf gedonder en bliksem, bevestig jou vermoede. Dis gelukkig doer vêr op die oop see. Dan is daar die hoë groot wit toringwolk.  Hy borrel opwaarts, boontoe boontoe tot daar waar my ma in die hemel is. Groot indrukwekkende wit wolk, gelukkig is dit agter ons.
 
Wolktoring

Die hemelruim verskaf genoeg verskeidenheid. Wittes en gryses. Daar is die dun wolkies wat soos 'n "koue front op pad" lyk. Hulle hou die belofte van korter dae en herfs in. Gelukkig is ons dan al weg.

Dun wolkies
Wolke

Baba Adası kom nader en sy ou vuurtoring lyk vaal in die doflig. Die son is nog steeds vasgevang. Kom net so nou en dan uit die greep van die wolke.

Baba Adası

En wat 'n verrassing! Die see is doodstil. Dit hop nie! Ons bons nie! Ons gooi anker en dit byt lekker. Later kom nog 'n jag hier anker en ons het bure. Wat 'n heerlike anker! Ons besef dis eintlik 'n baie mooi ankerplek. Ons geniet ons laaste swem van die seisoen.


Laaste swem
Dit word aand


Wednesday, September 12, 2018

Tot siens en Küçük Kuyruk

11 September 2018. Dinsdag.

Fethiye tot Küçük Kuyruk

Vandag verlaat Yvon en Louise ons. Hulle gaan Turkye verder verken en ons is op pad na Marmaris, waar Maja gaan oorwinter. Dan gaan ons vir twee weke Georgië toe.

Ons eet vir oulaas saam ontbyt op die dek en toe is dit "Skipskop, Skipskop, sit jou goedjies op jou kop ...". En ons groet vir Yvon en Louise.
 
Vroegoggend Fethiye
Tot siens julle
 
Yvon het Phaselis die meeste geniet. Om sommer net anker te gooi en dan is die antieke ou stad sommer op Maja se voorstoep, was vir hom iets baie besonders. Hy het die dag terdeë geniet.
 
Phaselis teater
Phaselis
 
Louise het Kaş die meeste geniet. Hulle het omtrent die dorp platgeloop. Die teater en graftombes en sarkofaag was besonders. En om nie eers te praat van die groot boeremark nie! Dis was vir haar heerlik on sommer twee dae daar te bly. 
 
Graftombes in Kaş
Teater
Uitsig oor Kaş
 
Ons sien hulle af en toe laat ons spaander na  Küçük Kuyruk, 12.4 myl. Dis aan die buitewyke van Göcek.

Ons kry 'n plek en gooi in diep water, 20 m, anker en Archie swem die toue land toe. Toe is ons netjies langs 'n Engelse seiljag vas en veilig. Die baai het kristalhelder water en Archie snorkel al langs die rotse en verwonder hom aan die mooi.
 
Küçük Kuyruk
Küçük Kuyruk
 
Later waai Gus en die Engelse boot waai nader aan ons. Hy is net met een tou aan die land vas en waai teen ons vas. Ons sit inderhaas fenders uit en Archie keer af met die groot balfender. Hy roep hulle, want hulle is binne.

Die bure kom toe deur die slaap uit hul boot. Hulle sê hulle slaap, want hulle het die vorige nag op Gemiler nie 'n oog toegemaak nie, want daar was deinings wat by hul ankerplek ingerol het. Hulle is verbaas om te sien dat hulle teen ons is, maak vreeslik verskoning. Ons stel hulle gerus. Alles is onder beheer. Hulle besluit toe ook sommer hulle vertrek en koebaai, weg is hulle.

Ons geniet die mooigeid van die baai en maak seker ons swem baie. Dis  ons tweede laaste swem van die seisoen.

Die aand wieg ons heen en weer en weer en weer heen en weer. Maar net liggies. Ons kan darem ons oë toemaak en droomland toe gaan.

Fethiye.

10 September 2018. Maandag.

Gemiler tot Fethiye Marina

So, alles kom tot 'n einde. Vandag is Yvon en Louise se laaste vaart op Maja. Yvon gaan maak die toue los, ons trek die anker op en weg is ons na Fethiye, 14.9 myl.

Oggendskoot
 
Ons maak beurte om agter die helm te sit en stadig maar seker prrr ons voort. Vorentoe, altyd vorentoe. Ek sit en oordink die laaste paar dae met die Franse Kanadese van Quebec en besef goeie kommunikasie is baie belangrik. Hulle is eintlik Franssprekend en ons het in Engels gekommunikeer. Soms het hulle nie heeltemal verstaan wat ons bedoel en sê nie en ander kere het hulle nie al die woorde geken om hul gedagtes in woorde uit te druk nie. Maar nou ja, alles het tog goed afgeloop.

Hoe nader ons aan Fethiye kom, hoe besiger raak dit. Dis net gulets en toerbote wat van voor kom. Fethiye is 'n baie gewilde dorp om toere te bespreek.
 
"Rush hour"
 
Ons kontak die marina en ek vra spesifiek vir 'n plek binne die marina. In 2015 het hulle mos vir ons aan die buitekantse pier van die marina laat alongside waar ons heeltyd gesit en hop het en ons moes 700 m na die toilet toe loop. Ek onthou nog hoe de moer in ek was.

Ons pomp eers swartwater uit (en dis nie "self service" nie) en gooi diesel in. Ons kry 'n plek omtrent 20 m van die toilet en Carrefour af. So gaaf van hulle!
 
Marina
Maja se mense
 
Ons stap dorp toe en Fethiye is nog net so vriendelike plek soos altyd. By die Chandler kry Archie sy waterpomp se dinges wat gebars het én die houer van die buitestort wat Yvon gebreek het. Nou het hy goeters om oor drie dae by Marmaris reg te maak!
 
Fethi
 
En toe is dit die weelde van 'n lang stort met baie water. Dis net seepbelle en shampoo. Ons ruik omtrent kosmeties toe ons al vier op die boot sit, ewe opgetert en reg vir die dankie-sê ete. Ons geniet eers vir oulaas 'n yskoue wyn op die dek en toe laat spaander ons na die Megri restaurant. Ons het in 2015 saam met Dirk en Leon daar geëet en dit was heerlik.
 
"Preprandial drinks"
"All dressed up"
 
Megri is sommer so onder 'n rankplant onder 'n boom. Heerlike atmosfeer. Ek en Archie bestel dadelik 'n lamskenkel met roosmarynsous. Groot was my verbasing toe Louise dit ook bestel! Yvon bestel köfte. Archie, Yvon en Louise gesels heerlik oor Nepal en ek verkyk my aan alles en almal rondom my. Yvon breek een van die groot rooiwynglase en voel vreeslik sleg daaroor.
 
Laaste aandete
Hartseer
 
"Dankie julle vir 'n heerlike ete!"