Monday, August 6, 2018

Bodrum. Tot siens. Knidos.

5 en 6 Augustus 2018. Sondag en Maandag.

Çökertme tot Bodrum tot Knidos

So breek Dirk en Ina se laaste vaart aan. So gou verby. Vandag gaan ons na Bodrum Milta marina, myl.

Dis windstil tot in Bodrum en ons pomp eers swartwater uit en gooi diesel in. Toe neem die marinaman ons van 'n piepklein spasie, waar Archie meesterlik, met die hulp van die stampe en stote van die man in die dinghie, inkom. Toe moet Ina vinnig daai laaste koue drankie skink, want na die spanningsvolle vasmeer, het ons dit nodig.
Archie kry 'n agent om Dirk en Ina van die bemanningslys af te haal. Toe was ons drie die boot. Dis omtrent harde werk. Omtrent soos "uit die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien". Ons aangesigte het geblink van die sweet. Toe is Maja silwerskoon binne.

Dirk en Ina gaan na hamman vir 'n welverdiende masering en ek en Archie gaan koop bietjie voorrade. Ons maak ook klaar vir ons afskeidsete.
20:00 gaan ons Zazu restaurant. Wat 'n goeie keuse! Die kos was heerlik. Ek eet lamskenkel, Archie en Dirk beeswange en Ina gebraaide salmon. Die rooiwyn was van hoogstaande gehalte. Daar was ook twee manne wat baie mooi gesing het. Amper Grieks. Ina het heerlik gedans.
"Dankie julle vir 'n heerlike aand!"
Uitgevat

By Zazu restaurant

Aaa! Ou Dirk.

Musikant

Maandag staan ons op en na 'n laaste kapteinskoffie, staan Dirk en Ina sak en pak op die kaai. Ons groet en weet ons gaan hulle mis. Nou is ons weer alleen leen leen.

Die marina man kom help ons uit ons klein spasie en ons vat die pad na Knidos, 23.4 myl. Ons sien 'n klein waterskilpad wat siek lyk. Archie duik om te kyk of alles reg is, maar hy swem weg. Hy is hopenlik reg. Sowat van hartseer skillie het ons nog nooit gesien nie.

Woensdag kry ons vir Francois en Roelien in Datca. 

Sak en pak

"Ons gaan Maja mis"

Visserboot

Skilpadjie

Çökertme

4 Augustus 2018. Saterdag.
 
Akbük tot Çökertme

Tot siens Akbük, met jou pragtige baai en hoë berge. Dirk oefen eers om te tru voor ons die pad vat na Çökertme, 19.1 myl.

Ina is agter die helm, Dirk sonbaai op die snoet en die kaptein lees sy boek. So vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Archie leer later vir my en Dirk om handige knope te maak.
 
Ina agter dıe helm
 
Çökertme is geleë in 'n pragtige omgewing met hoë berge en blou water. Die hemele verras ons met 'n bui reën wat alles skoon was en ons was saam. Oral op bote is gesinne besig om hul vaartuie te was en ek en Dirk laat ons nie twee keer nooi nie en ons was saam. Ons maak die beste gebruik van die gratis hemelwater om vir kleine Maja te reinig.
 
Maak vas
Spoel dek af
Visvang in die reën
 
Toe die son dit waag om sy gesig te wys, klim ons al vier in 'n oorvol Dinkie en motor land toe. 

Ons is lus vir stap in die mooi plek. Ons stap eers langs die see en toe op op op na die kruin van die berg. Ina ribbok boontoe. Dirk klink soos 'n hyg-roman, maar almal kom bo uit en word beloon met 'n uitsig van Çökertme van bo af. Wonderskoon.

Stap ın olyf lanıng
Çökertme
Watertenk
Ören se baai
See en berge
Rus 'n bietjie
 
Dis snikheet en ons is natgesweet en Dirk koop vir ons 'n lafenis wat ons warm lywe afkoel en ons droë keel-dors les. Dirk knoop geselsies aan met al wat mens is hy is behoorlik lus vir kuier met vreemdes. 

Ek en die kaptein gaan terug na Maja en die twee van Botswana lyk eerder vir my of hulle van Sodom en Gomorra kom! Baie later word Dirk en Ina by Maja afgelewer met 'n vreemde bootjie.
 
Aflewering
 
Ai, maar ons geniet hierdie baai! Die kaptein kook hoenderkerrie en ons smul behoorlik. Tot Ina eet ook goed! 

Die aand kom en die baai is rustig en vreedsaam. Daar is 'n "magic" wat moeilik is om in die geskrewe woord pas te pen. Die talle gullets se liggies brand en Dirk sê dit lyk vir hom na Kersfees. Die water weerkaats blink-silwer in die aandlig. Sterre skitter en kleef aan die hemelruim. Van die ronde volmaan van Palamut is weinig oor. 

Vier mense van Afrika is deel daarvan.

Saturday, August 4, 2018

Akbük.

3 Augustus 2018. Vrydag.

Şehir Adaları tot Akbük

Dis 'n heerlike oggend hier by Şehir Adaları. Ina vertel vir ons van haar ondervinding dat sy in die nag iets op haar gevoel het en ons almal is dit eens dat dit net 'n droom was. Sy sê dit het rêrig gevoel.

Ek en Archie roei land toe en ek gaan kyk gou weer vir Cleopatra se strand en roei dan terug na Maja. Ons geniet dıe oggend in dıe baai. Swem soos kinders in die water. Kyk na die anker en neem foto's onder die water. Sit lekker op Maja se stert.
 
Vroegoggend Şehir Adaları
Spieëlglad
Maja en haar mense
Anker
 
Dis toe Dirk die emmer wil gebruik, dat die sports begin. Die basil plantjie wat hulle vir ons gekoop het, staan in 'n plastiek sak binne-in die emmer. Toe Dirk die plant uitgaal, gee hy een harde gil en ek gil saam. "Hier is 'n rot!", skree hy. En jou waarlik, daar is 'n rot. Archie probeer om die rot met die emmer plat te druk, maar hy in die see. Nee, hy duik met 'n sierliker boog as Archie in die see en swem vir 'n lang ruk onder water. Hy swem terug na Maja en begin teen die swemleer opklim. Archie slaan hom met die mop af.
 
Slim rot
 
Die slim ding swem toe reguit anker toe en begin teen die ketting opklim. Dirk slaan hom af en toe swem hy eers land toe. Ek en Archie is stomgeslaan en woordeloos. Dis die laaste besoeker wat jy aan boord wil hê. 'n Rot kan ongelooflike skade aan 'n boot aanrig. Ins het seer sekerlik die vorige nag 'n rot op haar gevoel!

Na ons herstel het van die skok, pak ons op en vaar na Akbük, 6.7 myl. Hier gaan ons na na 'n restaurant kaai en Dirk is agter die helm. Hy tru, Archie hoe sake dop en ek is gereed om die snoettou te gryp met die boothaak.
 
Met bietjie raad hier en daad daar, en effe stress van Dirk se kant af, is ons veilig vas teen die kaai. Ina skink koue drankies en Dirk verdien dit terdeë.

Akbük is 'n pragtige plek met 'n groot baai en hoë berge. Ons stap in die vakansiedorp rond en Dirk en Ina koop vir ons limonade.
 
Akbük baai
Visnette
Langs die strand
Strandsambrele
Drink limonade
 
Die aand eet ons langs die see in die Doga Restaurant ons aandete. Archie, Dirk en Ina eet vis en ek calamari. Ons drink 'n duur bottel wyn. Dis 'n heerlike gesellige aand met lekker kos en oulike, goeie  vriende.

Opgetert
Dirk en Ina
Ons flankeer met Dirk …
… en Archie
Doga Restaurant


Friday, August 3, 2018

Şehir Adaları.

2 Julie 2018. Donderdag.

Tuzla Köyü tot Şehir Adaları

Wel, ek moet sê, dit was baie lekker by Tuzla, maar nou is dit weer Skipskop, Skipskop, trek jou anker weer op. En ons vertrek na Sehir Adalari, 10.8 myl. Dirk en Archie beman die helm. Ons vaar vorentoe, altyd vorentoe.

Hierdie plek is 'n malhuis met al die toeriste wat met bote hierheen kom om op die beroemde strand te swem. Ons gooi anker en hy byt. Later trek ons anker op, want dis is te naby die gullets. Ons gooi toe weer vier keer anker voor die verdomde ding byt. Toe is ons vas.

Sehir Adalari is die plek waar jy na Cleopatra se strand toe gaan. Sy het mos 'n skipvrag vol sand van die Sahara laat kom sodat haar geliefde, Anthony lekker kon swem. Dus dames, leer by Cleopatra en bederf julle manne.

Dirk en Ina roei wind-op land toe om die ou stad te verken én by Cleopatra se stand te swem. Hulle bly omtrent lank weg. Geniet hulle behoorlik gate uit. Ons bly op Maja om haar op te pas. Ons sal gaan as hulle terug is, dan kan hulle vir Maja oppas.
 
Kasteelmuur
Cleopatra se strand
Cleopatra se strand
Amfiteater
Amfiteater
Ou olyfbome
 
Toe die twee eindelik terug en aan boord is, waai Gus lekker sterk en toe lui die ankeralarm. Dirk kyk ons grootoog aan en ons bly toe maar aan boord on sake dop te hou. Die anker is veilig, vals alarm. Ek besluit om maar die volgende oggend gou strand toe te gaan.
 
Sundowners
Sundowners
Sundowner
 
Die nag lê Ina en slaap op die dek en sy sê iets harigs het op haar geloop. Sy het met haar flits gelig, maar het niks gesien nie. Dit was maar seker 'n droom!

Tuzla Köyü.

1 Augustus 2018. Woensdag.

East Creek tot Tuzla Köyü

Ai, maar die dae is kort deesdae. Net sukke hanetreetjies om te vaar. Maar eers het die manne werk. Daar is 'n klein waterlek wat opgespoor moet word. Archie snuffel onder Dirk se bed om die probleem te kry en Dirk kyk toe. Archie se rug blink van die sweet.

Nat en Droog
 
Die probleem word opgespoor en opgelos en toe kan ons spore maak na Tuzla Köyü, 7.3 myl.

Gus waai liggies en ons span die genoa en motorseil. Ek en Dirk en Archie maak beurte agter die helm en Tuzla kom al nader. Ons soek na die 'n geskikte ankerplek, maar die eerste baai is vol bote. Daar is eintlik nie plek vir ons nie.
 
Op pad
 
Ons vaar na die volgende baai en eers n die derde baai kry ons 'n lekker ou plekkie en ons kry alles reg vir "line ashore". Ek gooi anker, Dirk tru en Archie staan gereed om te swem. Archie swem, maar die tou is te kort. Dirk maak 'n zeppelin knoop om die tou te verleng. Maar daai knoop lyk snaaks hoor! Glad nie soos Archie se knoop nie. Maar daar gaan die tou. 

Maar o weë! Die tou is skaars in die water, of die verdomde knoop gaan los. Nou is Maja ewe lossies en Archie staan met die tou. Diro swem nog 'n tou na Archie toe dat hy 'n knoop kan maak.Ek en Ina is alleen op die boot. Gelukkig maak die kaptein 'n knoop en ons dryf nie meer verder weg nie.
 
Maak onderwater knoop
 
Ai, as die wind gewaai het, kon dinge vandag baie moeiliker gewees het. Eindelik is ons vas en ons kan onspan.
 
Dirk en Ina swem met die lilo. Hulle sonbrand en geniet die somer, son en saffier. Ek en Archie swem met die noedels na die klein eiland en gaan aan wal. 'n Turkse weldoener neem foto's van ons by die Turkse vlag. Almal geniet dit om na die eiland toe te gaan en dit te verower. Dan loop mens ook op die klipperige sandbank. Ons swem die lang pad terug na Maja.
 
Op pad eilandjie toe
Bo-op die eilandjie
Op die eilandjie
Turkse paartjie
 
Dirk en Ina klim in Dinkie en roei eiland toe. Hulle verken dit en stap rond. Wat 'n heerlike middag.
 
Roei eilandjie toe

Lekker swem
Archie en ek