Saturday, July 28, 2018

Palamut. Turkey.

27 Julie 2018. Vrydag.

Datça tot Palamut
 
Ons gaan drink die oggend saam met Martin en Shriree koffie. Dirk en Ina ontmoet hulle en kuier heerlik. Ons groet, kry die bemanningslys en ons is gereed om te vertrek na Palamut, 13.7 myl.

Ina, Dirk, Shiree, Archie, ek en Martin
 
Vandag is dit Ina se nooiensvaart. Dis die eerste keer dat sy seil en is baie opgewonde. Dirk kry sy eerste les, en hy moet vir Maja uit haar staanplek kry. Hy neem sy plek agter die helm in en alles verloop klopdisselboom. Anker op en daar gaan ons.

Archie verduidelik nog 'n paar goed aan Dirk en hy leer vinnig. Ina kyk oral rond en ervaar haar eerste seil baie intens.
 
Nooiensvaart
Opleiding
 
Gus waai heeltyd van voor en van seil is daar geen sprake nie. Ons vaar maar net vorentoe, altyd vorentoe. Ina gaan sit op Maja se snoet en geniet die wind en die son. En sommer net die wees op Maja. Dirk sit agter by ons en gesels.

Ons nader Palamut se klein hawe en en Dirk vaar "hair raising" in  en tot ons verbasing is daar "lazy lines". Ons meer vas (nadat die haweman eers gesukkel het om die snoettou in die hande te kry). Archie het nou behoorlik meesterlik in die spasie getru, Dirk help met die voorste tou en Ina staan gereed om af te keer.

Palamut is 'n regte vakansieplek soos Margate, net baie kleiner. Daar is 'n lang strand met baie sambrele. Dirk en Ina gaan swem. Ons stap in die dorpie rond en Ina wil net koop koop koop.
 
Maja, Ina en Dirk
Palamut se kaai
Palamut hawe
Palamut kaai
Maak guzulme
Guzulme
 
Die skemer daal en later kom die maan op. Rond, vol en vol belofte. Ons kyk, saam met ons eie mense in die suidelike halfrond, na die wonder van die maansverduistering. Dis magies mooi en baie spesiaal om dit op Maja in Palamut te geniet. Hier is die stadiums van die maansverduistering.
 
 

 

Ai, maar dis heerlik hier in 'n windstil baai.

Friday, July 27, 2018

Datça. Turkye.

25 en 26 Julie 2018. Woensdag en Donderdag.

Symi tot Datça

Tot siens Griekeland! Turkye hier kom ons. Ons vaar na Datça, 'n skrale 10.8 myl. Ons het 'n agent wat daar wag wat ons gaan inklok en ook ons nuwe bemanningslys gaan invul. Hy is sommer ook op sy pos toe ns 11:00 daar aankom.

Tot siens Symi
Toe is dit boot buite skrop, wasgoed ingee, die stoorkamer ontruim vir Dirk om in te slaap, die hele boot binne was, duvets en lakens oortrek, voorrade koop. Soos Archie altyd sê: " 'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie!"

Ons bly vir twee aande in Datça om alles gedoen te kry. Ons wag ook vir ons nuwe besoekers, Dirk en Ina, om te kom. Hulle neem die veerboot van Bodrum na Kormen, die Datça se amptelike veerboothawe is, en dan moet hulle dadelik op die veerbootdiens bus klim na Datça.

En toe skielik sê Martin en Shriree hulle is op pad na Datça om vir ons te sien. Hulle sou op Knidos slaap, maar besluit hulle kom verras ons by Datça. Toe moet ek vinnig kosmaak vir die gaste wat enige tyd vanaf 20:30 kom, voor Gumnuts se mense kom kuier En ook nie lank nie, of Gumnuts kom die baai binnegevaar.

Hulle sal gou kom kuier so tussen 19:00 en 20:00. Kom toe daar aangejaag in die dinghie met twee klein botteltjies yskoue wyn, wat ons in ons glase onder die boom drink. Maja se agterstoep is veels te warm om daar te sit. Dit voel soos piekniek en ons lag soos uitgelate kinders. Ai, maar ons hou baie van díé twee gawe mense. 
Martin en Shiree
Langs die kaai
Piekniek
20:00 stap ons na die busstop waar Dirk en Ina afgelaai gaan word. En daar kom die bus. "Ferry boat service", sê die venster. Dit is hulle bus. Ons staan nader. Enige oomblik nou! Maar o weë! Hulle is nie op die bus nie! Waar is hulle!?

Niks hulle nie. Miskien is hulle reeds by Maja en ons stap daarheen. Niks hulle nie! Ai, die teleurstelling! Archie wag op Maja en ek stap langs die kaai af. Met die terugkeer sien ek vir Dirk. Wat 'n verligting! Hulle is hier!

Hulle het die bus by Körmen verpas en het toe met 'n taxi na Datça gery. Ek weet nie wie was die blyste om wie te sien. Maar baie welkom in elk geval julle!

Hulle kom aan boord met groen goed wat soos doodskiste lyk. En swaar! Ek wonder of hulle met goudstawe smokkel. 
Swaar dra
Hulle pak uit. Dit lyk of hulle twee beeste geslag het en biltong gemaak het en toe ál die biltong saamgebring het na Turkye. Ek dink banting is ons voorland. Baie dankie julle. En dis nie al nie. Dis net voorrade. Honger sal ons nie ly nie. Nee, diksus is my voorland. 

Later eet ons aandete en kuier lekker. Dis heerlik om weer gaste te hê! En eensaam is hulle ook nie in kajuite nie. Nee, elkeen slaap saam met sy tas en 'n noedel.

Wednesday, July 25, 2018

Symi. Symi Eiland.

24 Julie 2018. Dinsdag.

Roete tot datum
Panormitis tot Symi

Ai, so kom alles tot 'n einde. Symi, 12.6 myl, is ons laaste Griekse bestemming van die seilseisoen.

Ons vertrek vanuit 'n mistige Panormitis. Dit hang oor die baai. Die sig is swak, maar die kaptein sê ons moet vaar. Toe is dit maar anker optrek en in die pad (mis) val. 
 
Begin van die mis
 
Ons vaar uit die baai, maar kan net 'n paar meter vêr sien. Die kaptein hou die lyn op die GPS dop en ek kyk vir ander bote. Uit die niet verskyn 'n as ander jag net 'n paar meter van ons af. Ek dog eers dis die Vlieënde Hollander!
 
Vlieënde Hollander!
 
Dis maar "scary" om so te vaar as jy geen sig het nie. Die sonnetjie probeer deurbreek, maar dis puur verniet. Ons vaar toe maar so in die miskombers. 

Eers heelwat later doen die son sy ding en ons kan weer sien. Heerlik! Ons vaar langs die eiland met sy hoë kranse en berge en eindelik is Symi in sig. Dit bly darem 'n pragtige dorp so teen die berg se hange.
 
Symi
Symi
Symi
 
Maar is die plek besig! Bote kom en gaan. Jagte, superjagte, toerbote, gullets is die wêreld vol. Gelukkig is daar 'n kaaiman wat 'n fluitjie blaas en ons plek op die kaai aanwys. En sonder sukkel is ons vas.
 
Archie doen al die nodige papierwerk en ons is uitgeklaar. Gereed om te gaan. Maar eers geniet ons vir oulaas die dorp. En verstom ons aan al die mense wat in die strate rondloop. Dit krioel van lywe.

Ek en Archie sit heerlik langbeen op die dek en verlustig ons aan die lewe wat voor ons afspeel. Daar is darem net een Griekeland!

Monday, July 23, 2018

Panormitis. Symi Eiland.

Alimia tot Panormitis

Ons het nou net een doel voor öe en dis om by Symi uit te kom en uit te klaar. Ja, ons is sowaar al amper klaar met Griekeland. Ons is op pad na Turkye, waar ons vir Dirk en die onbekende Ina gaan kry om saam met ons 'n heerlike seilavontuur te beleef. So, dis vandag Panormitis, 21.6 myl.

Die see is uiters kalm, net soos ek daarvan hou. Gus is elders en toe is ek éérs tevrede. Sowat van lekker kruis! Ek is omtrent in die sewende hemel. Veral na die baie wind wat ons in die laaste tyd ervaar het. (Ek is geen opregte seiler nie, daarvoor hou ek te veel van min wind en plat see!)

Naby ons baai, sien ons 'n enkele dolfyn wat eensaam en alleen swem. Net so nou en dan verskyn die vin bokant die water. Wonder waar is die res van die skool. Ons vaar die baai binne en soek ankerplek. Ons was al twee keer vantevore hier, so die plek is nie onbekend aan ons nie. Die anker byt en vas is ons.

Windmeule by ingang

Panormitis Baai

Dis hier waar die mooiste kloktoring in die Aegean See is, maar o weë! Dis net staalkonsrtuksies rondom die toring. Hulle is besig om die dit te herstel. Dis mos eintlik 'n baie mooi toring. Die klooster staan ook in al sy glorie in die baai. Van die kamers word mos as vakansie akkomodasie uit verhuur.

Klooster
Kloktoring (2016)

'n Klomp skillies swem rondom ons en ek verkyk my aan hulle. Hulle het mos sukke oumens-gesiggies. Te pragtig.

Skillie

Ons is rustig op Maja en nie eers lus om land toe te gaan nie. Ons lees en verkeer vreedsaam. Archie swem so bietjie. Ai, die luiheid het my totaal oorval en ek geniet dit.

Vanaand vlieg Dirk en Ina. Ons sien vreeslik uit daarna om hulle op Maja te verwelkom.





Alimia Baai. Alimia Eiland

22 Julie 2018. Sondag.

Potamus Baai tot Alimia Baai


Ons het vandag net 'n hanetree om te gaan na Alimia Eiland, 8 myl. Ons is weer terug deur die vlak water en vaar verby Khalki. Dit is datem 'n mooi ou dorpie. 

Die see is maar rof, maar Gus waai nie erg nie. Ons vaar by die suidbaai in, maar gooi nie daar anker nie, want dis diep. Nou is die noordbaai ons voorland. Gus waai nou sterk. Hier is sand en seegras, maar Maja word so heen en weer in die wind geslinger, dat ek die eerste drie keer net seegras raakgooi. Byt is verniet. Die vierde keer gooi ons daai anker sekuur en vas is ons.

Ons gaan stap op die land. Maar sowat van rommel op 'n strand, het ek lanklaas gesien. Die hele Aegean See se rommel spoel hier uit!

Rommel

In die ou dae was hier 'n hele nedersetting met kasteel en al. Hier is ook 'n ou klooster, nie baie groot nie en 'n kerk. Nou se dae loop hier net bokke rond.

Kerk1
Kerk 2
Kerk 2
Klooster
Klooster

Maja en nog 'n paar seiljagte draai en swaai en waai rond in die baai, natuurlik onder Gus se toesig. Dit waai glad nie so sterk soos in gister se baai nie.

Alimia Baai
Alimia Baai

Ons eet vir die derde aand in 'n ry heerlike hoenderkerrie wat die kaptein gekook het. Ja nee, 'n man van vele talente.

Sunday, July 22, 2018

Potamus Baai. Khalki Eiland.

21 Julie 2018. Saterdag.

Livadhi tot Potamus Baai

Vandag is dit Khalki, 'n splinternuwe eiland. Ons pak die 20.6 myl dag aan na Potamos Baai op 'n lewendige see. Altyd rollend. En ons seil vir twee ure. Die res van die tyd motorseil en later motor ons.

Ek moet sê, ek hou meer van motor as van seil, maar laasgenoemde is darem vinniger. Archie maak weer die hoofseil vas dat dit nie kan rondswaai nie, want in hierdie agterwinde is dit maar moeilik om te seil.

Deur die vlak plekke en Khalki lê sjarmant voor ons. Vir my lyk dit soos 'n mengsel tussen Symi en Kastellorizon. Pragtig. Ons vaar verby die dorp en neem die kleurvolle huise van die see se kant af in. 
 
Khalki
Khalki  hawe
 
Toe vat ons nog vlakker water aan en vaar na Potamos Baai. Dis 'n gewilde strand met vreeslik deurskynende water. Die anker byt sommer maklik en stewig. Oral is lywe besig om die water te geniet.
 
 
Ons sit voet aan wal op die dorre eiland en stap na Khalki dorp. Dis net 600 m oor die bult. En is dit pragtig! Restaurante onder bome, kleurvolle huise, kerke. 'n Gelukkige plek. Hulle het ook 'n tydelike kaai vir jagte, wat maar goed wankelrig is.
 
Dorre eiland
Skoen aan voet
Khalki
Khalki
 
Ons eet lekker roomys op iemand se trappies en stap terug, oor die bult na Potamos Baai. Ons kyk hoe lê Maja en 'n onbekende vriendin in die baai.
 
Potamos Baai
Potamus Baai
 
Warm gestap kom ons terug by Maja en ons baai saam met die res van die baaiers in die mooi baai.

Ag nou ja, net om seker te maak dat ons dit nie te véél geniet nie, peper Gus ons van laatmiddag tot diep-nag met rukwinde. Wat is die slaap, 'n wondersoete ding ... . Dis nou vir dié wat in die lawaai kan slaap. Ek drink maar 'n diep-nag koppie tee. Later oorval die wondersoete ding my tog.