Monday, July 23, 2018

Panormitis. Symi Eiland.

Alimia tot Panormitis

Ons het nou net een doel voor öe en dis om by Symi uit te kom en uit te klaar. Ja, ons is sowaar al amper klaar met Griekeland. Ons is op pad na Turkye, waar ons vir Dirk en die onbekende Ina gaan kry om saam met ons 'n heerlike seilavontuur te beleef. So, dis vandag Panormitis, 21.6 myl.

Die see is uiters kalm, net soos ek daarvan hou. Gus is elders en toe is ek éérs tevrede. Sowat van lekker kruis! Ek is omtrent in die sewende hemel. Veral na die baie wind wat ons in die laaste tyd ervaar het. (Ek is geen opregte seiler nie, daarvoor hou ek te veel van min wind en plat see!)

Naby ons baai, sien ons 'n enkele dolfyn wat eensaam en alleen swem. Net so nou en dan verskyn die vin bokant die water. Wonder waar is die res van die skool. Ons vaar die baai binne en soek ankerplek. Ons was al twee keer vantevore hier, so die plek is nie onbekend aan ons nie. Die anker byt en vas is ons.

Windmeule by ingang

Panormitis Baai

Dis hier waar die mooiste kloktoring in die Aegean See is, maar o weë! Dis net staalkonsrtuksies rondom die toring. Hulle is besig om die dit te herstel. Dis mos eintlik 'n baie mooi toring. Die klooster staan ook in al sy glorie in die baai. Van die kamers word mos as vakansie akkomodasie uit verhuur.

Klooster
Kloktoring (2016)

'n Klomp skillies swem rondom ons en ek verkyk my aan hulle. Hulle het mos sukke oumens-gesiggies. Te pragtig.

Skillie

Ons is rustig op Maja en nie eers lus om land toe te gaan nie. Ons lees en verkeer vreedsaam. Archie swem so bietjie. Ai, die luiheid het my totaal oorval en ek geniet dit.

Vanaand vlieg Dirk en Ina. Ons sien vreeslik uit daarna om hulle op Maja te verwelkom.





2 comments: