Wednesday, July 25, 2018

Symi. Symi Eiland.

24 Julie 2018. Dinsdag.

Roete tot datum
Panormitis tot Symi

Ai, so kom alles tot 'n einde. Symi, 12.6 myl, is ons laaste Griekse bestemming van die seilseisoen.

Ons vertrek vanuit 'n mistige Panormitis. Dit hang oor die baai. Die sig is swak, maar die kaptein sê ons moet vaar. Toe is dit maar anker optrek en in die pad (mis) val. 
 
Begin van die mis
 
Ons vaar uit die baai, maar kan net 'n paar meter vêr sien. Die kaptein hou die lyn op die GPS dop en ek kyk vir ander bote. Uit die niet verskyn 'n as ander jag net 'n paar meter van ons af. Ek dog eers dis die Vlieënde Hollander!
 
Vlieënde Hollander!
 
Dis maar "scary" om so te vaar as jy geen sig het nie. Die sonnetjie probeer deurbreek, maar dis puur verniet. Ons vaar toe maar so in die miskombers. 

Eers heelwat later doen die son sy ding en ons kan weer sien. Heerlik! Ons vaar langs die eiland met sy hoë kranse en berge en eindelik is Symi in sig. Dit bly darem 'n pragtige dorp so teen die berg se hange.
 
Symi
Symi
Symi
 
Maar is die plek besig! Bote kom en gaan. Jagte, superjagte, toerbote, gullets is die wêreld vol. Gelukkig is daar 'n kaaiman wat 'n fluitjie blaas en ons plek op die kaai aanwys. En sonder sukkel is ons vas.
 
Archie doen al die nodige papierwerk en ons is uitgeklaar. Gereed om te gaan. Maar eers geniet ons vir oulaas die dorp. En verstom ons aan al die mense wat in die strate rondloop. Dit krioel van lywe.

Ek en Archie sit heerlik langbeen op die dek en verlustig ons aan die lewe wat voor ons afspeel. Daar is darem net een Griekeland!

Monday, July 23, 2018

Panormitis. Symi Eiland.

Alimia tot Panormitis

Ons het nou net een doel voor öe en dis om by Symi uit te kom en uit te klaar. Ja, ons is sowaar al amper klaar met Griekeland. Ons is op pad na Turkye, waar ons vir Dirk en die onbekende Ina gaan kry om saam met ons 'n heerlike seilavontuur te beleef. So, dis vandag Panormitis, 21.6 myl.

Die see is uiters kalm, net soos ek daarvan hou. Gus is elders en toe is ek éérs tevrede. Sowat van lekker kruis! Ek is omtrent in die sewende hemel. Veral na die baie wind wat ons in die laaste tyd ervaar het. (Ek is geen opregte seiler nie, daarvoor hou ek te veel van min wind en plat see!)

Naby ons baai, sien ons 'n enkele dolfyn wat eensaam en alleen swem. Net so nou en dan verskyn die vin bokant die water. Wonder waar is die res van die skool. Ons vaar die baai binne en soek ankerplek. Ons was al twee keer vantevore hier, so die plek is nie onbekend aan ons nie. Die anker byt en vas is ons.

Windmeule by ingang

Panormitis Baai

Dis hier waar die mooiste kloktoring in die Aegean See is, maar o weë! Dis net staalkonsrtuksies rondom die toring. Hulle is besig om die dit te herstel. Dis mos eintlik 'n baie mooi toring. Die klooster staan ook in al sy glorie in die baai. Van die kamers word mos as vakansie akkomodasie uit verhuur.

Klooster
Kloktoring (2016)

'n Klomp skillies swem rondom ons en ek verkyk my aan hulle. Hulle het mos sukke oumens-gesiggies. Te pragtig.

Skillie

Ons is rustig op Maja en nie eers lus om land toe te gaan nie. Ons lees en verkeer vreedsaam. Archie swem so bietjie. Ai, die luiheid het my totaal oorval en ek geniet dit.

Vanaand vlieg Dirk en Ina. Ons sien vreeslik uit daarna om hulle op Maja te verwelkom.





Alimia Baai. Alimia Eiland

22 Julie 2018. Sondag.

Potamus Baai tot Alimia Baai


Ons het vandag net 'n hanetree om te gaan na Alimia Eiland, 8 myl. Ons is weer terug deur die vlak water en vaar verby Khalki. Dit is datem 'n mooi ou dorpie. 

Die see is maar rof, maar Gus waai nie erg nie. Ons vaar by die suidbaai in, maar gooi nie daar anker nie, want dis diep. Nou is die noordbaai ons voorland. Gus waai nou sterk. Hier is sand en seegras, maar Maja word so heen en weer in die wind geslinger, dat ek die eerste drie keer net seegras raakgooi. Byt is verniet. Die vierde keer gooi ons daai anker sekuur en vas is ons.

Ons gaan stap op die land. Maar sowat van rommel op 'n strand, het ek lanklaas gesien. Die hele Aegean See se rommel spoel hier uit!

Rommel

In die ou dae was hier 'n hele nedersetting met kasteel en al. Hier is ook 'n ou klooster, nie baie groot nie en 'n kerk. Nou se dae loop hier net bokke rond.

Kerk1
Kerk 2
Kerk 2
Klooster
Klooster

Maja en nog 'n paar seiljagte draai en swaai en waai rond in die baai, natuurlik onder Gus se toesig. Dit waai glad nie so sterk soos in gister se baai nie.

Alimia Baai
Alimia Baai

Ons eet vir die derde aand in 'n ry heerlike hoenderkerrie wat die kaptein gekook het. Ja nee, 'n man van vele talente.

Sunday, July 22, 2018

Potamus Baai. Khalki Eiland.

21 Julie 2018. Saterdag.

Livadhi tot Potamus Baai

Vandag is dit Khalki, 'n splinternuwe eiland. Ons pak die 20.6 myl dag aan na Potamos Baai op 'n lewendige see. Altyd rollend. En ons seil vir twee ure. Die res van die tyd motorseil en later motor ons.

Ek moet sê, ek hou meer van motor as van seil, maar laasgenoemde is darem vinniger. Archie maak weer die hoofseil vas dat dit nie kan rondswaai nie, want in hierdie agterwinde is dit maar moeilik om te seil.

Deur die vlak plekke en Khalki lê sjarmant voor ons. Vir my lyk dit soos 'n mengsel tussen Symi en Kastellorizon. Pragtig. Ons vaar verby die dorp en neem die kleurvolle huise van die see se kant af in. 
 
Khalki
Khalki  hawe
 
Toe vat ons nog vlakker water aan en vaar na Potamos Baai. Dis 'n gewilde strand met vreeslik deurskynende water. Die anker byt sommer maklik en stewig. Oral is lywe besig om die water te geniet.
 
 
Ons sit voet aan wal op die dorre eiland en stap na Khalki dorp. Dis net 600 m oor die bult. En is dit pragtig! Restaurante onder bome, kleurvolle huise, kerke. 'n Gelukkige plek. Hulle het ook 'n tydelike kaai vir jagte, wat maar goed wankelrig is.
 
Dorre eiland
Skoen aan voet
Khalki
Khalki
 
Ons eet lekker roomys op iemand se trappies en stap terug, oor die bult na Potamos Baai. Ons kyk hoe lê Maja en 'n onbekende vriendin in die baai.
 
Potamos Baai
Potamus Baai
 
Warm gestap kom ons terug by Maja en ons baai saam met die res van die baaiers in die mooi baai.

Ag nou ja, net om seker te maak dat ons dit nie te véél geniet nie, peper Gus ons van laatmiddag tot diep-nag met rukwinde. Wat is die slaap, 'n wondersoete ding ... . Dis nou vir dié wat in die lawaai kan slaap. Ek drink maar 'n diep-nag koppie tee. Later oorval die wondersoete ding my tog.

Saturday, July 21, 2018

Livadhi. Tilos Eiland.

20 Julie 2018. Vrydag.


Paloi tot Livadhi

Vandag gaan ons na Tilos, 18.1 myl. Ons anker is op sonder probleme. Hierdie Nisiros is bekend vir ankerkruisings. En weg is ons.

Dis 'n lekker agterwind en met al Archie se toue om die hoofseil in posisie te hou, seil ons vir drie ure. Tilos kom nader en ons hoop daar is plek vir ons.

Ons seil
By die kaai is daar 'n gaatjie vir ons, nadat die simpel buurman sy dinghie uit die pad gevat het. Die vriendelike Fransman gee die snoettou vir ons aan en ons meer vas. Ons is hier. In Tilos, waar ons in 2016 so lekker saam met Elize en Fanie gekuier het.

Livadhi

Livadhi kerk
Maak gereed vir vasmeer

Dis sommer 'n luilekker dag. Geen besoek aan choras of iets nie. Ons was nou al soveel keer daar. Ons stap  maar net in die klein dorpie rond en geniet die vibe. Die restaurant waar ons vir Elize se verjaarsdag baba bok geëet het, lyk nog net so mooi soos altyd. Tilos is so oulike plekkie. Ons kry rus vir ons siele en geniet dit.

Friday, July 20, 2018

Niseros Eiland. Wedvaart en Mandraki.

19 Julie 2018. Donderdag.

10:00 begin die wedvaart. Dis 'n jaarlikse wedvaart wat by Kos begin, dan Kalymnos, Niseros, Symi en by Rhodos eindig. Dit word die Rhodos Cup 2018 genoem. Daar is behoorlik aktiwiteit op hierdie kaai. Almal maak gereed en spanfotos's word geneem. Daar is nogal baie Russe wat deelneem. Al 75 jagte  moet losmaak en in die see gaan wag vir die horing om te blaas.

Wag vir wedvaart

Spanfoto

Hulle vaar een vir een uit die hawe, in sukke rye. Dan wag almal vir die aksie in die see voor die hawe. Verskillende kleure vlae word opgesteek. Elkeen beteken iets. Dan blaas daar 'n horing en die manne maak gereed. Op die volgende blaas begin die jagte wat in die spesifieke divisie deelneem, te seil. Hulle moet eers wind-op om 'n boei seil en dan vat hulle die langpad na Symi. Daar is vier verskillende divisies en hulle begin op verskillende tye te seil.

Wag vir begin sein

"… and they're off!"

Weg is hulle

Dis net jagte waar jy kyk. En dié  manne ken van seil. Dit lê behoorlik skeef en die spoed! As hulle die pad wind-af vat, word die spinnakers en genakers gehys en dan bol daai kleurvolle seile in die wind. Die eerste klomp trek al doer in die verte toe die laaste klomp wegspring.

Weg is hulle!

Dit was omtrent 'n gesig om te sien.  Ons kyk hoe verdwyn al die deelnemers in die verte en stap terug na Maja. Ons maak reg, want vandag gaan ons die bus klim na Mandraki, die ou hawe. Ons was al twee keer by die vulkaan, so vandag is dit nie op ons program nie.

Verdwyn in die verte

Mandraki is nog net so mooi soos altyd. Die see slaan die branders teen die rotse stukkend. Die dorpie staan amper in die water. Oral is daar restaurante en die seekatte word sommer op 'n draad gedroog. Die reuke en geure van heerlike kos hang in die lug en ons monde water behoorlik. Ek en Archie swig voor 'n heerlike gyro en die bier daarmee saam is yskoud.

Klein Venesië

Mandraki
Restaurant langs die see

Seekatte op die draad

Gyro en bier

Bo in die rots, is die klooster wit teen die swart lawa rotse. Ons stap op die mooi paadjie na die lawa strand waar die swart klippe oral te sien is. Archie was toe ook sommer die doepa wat wat winkelassistent op sy hand gesmeer het om dit sag en soepel te maak. En jou waarlik, daai hand voel sagter.

Strandklippe
Paadjie langs die see

Dis regtig 'n mooi dorp en ons dwaal sommer rond, eet roomys en kyk vlugbal op die strand. Toe is dit weer tyd om die 19:00 (die laaste) bus terug te klim na Paloi, waar die hawe is. Wat 'n lekker dag!

Paloi kerk
Baie leë hawe