Sunday, July 1, 2018

Plaka. Milos Eiland.

30 Junie 2018. Saterdag.

Ons klim die 8:30 bus en ry na die chora, Plaka, bo-op die berg. Ek geniet dit vreeslik om land-in met die bus te ry. Ons word afgelaai en hier is ons in die pragtige Plaka.

Luilekker lê
 
Ons begin sommer dadelik die tog na bo. Kasteel toe. Sommige van die trappies is regtig steil. Halfpad stop ons by 'n spierwitte kerk. Dit bekoor my sommer dadelik. 
 
Trappe na kasteel
Halfpad
 
Nog opper en bo-op die berg is nog 'n groot kerk. Jy kan baie vêr sien van hier bo af. Pragtige uitsigte in alle windrigtings. Van die kasteel is daar nie veel oor nie. En oral is nog klein kerkies. Waar is Elize nou! Sy sou dit baie geniet het.
 
Uitsig oor Plaka en Milos Baai
Uitsig
Landerye
Op pad af
 
Ons stap terug en verken Plaka. Dis 'n pragtige chora en ons drink koffie en eet lemoenkoek by 'n pragtige restaurant. En was daai koek lekker! 
 
Katolieke kerk
Wag vir koffie en lemoenkoek
Pragtige Plaka
Skakerings in blou
Interessante huis
 
Volgende op ons program is die katakombes. Ons stap daarheen. Wat 'n lekker stap. Ons stap verby die plek waar die wêreldbekende standbeeld, Venus de Milo, ontdek is. Die antieke teater is ook in die omgewing, asook die St Nikolaas kerk. Ek geniet my gate uit tussen die ouwêreldse besienswaardighede en kerke. Onder, amper in die see, lê die klein vissersdorpie, Klima.
 
Beroemde Venus de Milo standbeeld is hier ontdek
 
Ons kry 'n kort toer deur die katakombes. Hierdie katakombes word gereken as van die besonderse in die wêreld.  Die Christendom het die 1ste tot 5de eeu n.C. hierheen gekom. Hierdie graftombes is gegrawe om die afgestorwenes in familiegrafte te begrawe. 

Daar is drie afdelings ontdek en is ongeveer 200 m lank in totaal. 2000 Christene is in die 291 tombes begrawe. Daar was ongeveer vyf tot sewe mense per tombe. Baie interessant.
 
Ingang tot katakombes
Een van die gange met muur- en vloertombes
 
Ons stap deur Tripitis terug Plaka toe waar ons weer die bus kry. Ons het omtrent die uitstappie geniet. Die stap, die uitsigte, die chora, die kerke en die graftombes. Ons klim die bus en ry moeg, maar tevrede terug na Adhamas.
 
Kerk in Tripitis
Hoekhuis in Tripitis
 
Maja staan nog steeds baie veilig vasgemeer in die hawe.

Saturday, June 30, 2018

Adhamas. Milos Eiland.

29 Junie 2018. Vrydag.

Rivari Baai tot Adhamas
 
So skuil ons vir drie dae en drie nagte op anker in een van die baaie in Ormos Milos. Oral in al die baaie wat veilige skuiling bied vir suid-weste wind, skuil Maja en haar susters in verdrukking. Almal hoop op dieselfde ding - die anker moet hou! Die wind moet gaan lê.
 
Rivari Baai
 
Die berg agter ons het nog stééds sy hoed op en die Groot Griek (dis nou ons ander pilot boek) sê die wind sal nie gaan lê voordat die wolk weg is nie. En dis toe wraggies die waarheid. Eers die die wolke opklaar en die lug weer blou word, gaan lê Gus.

Donderdagnag begin Gus bedaar en die storm is verby, tot almal se groot vreugde. Dit waai nog, maar nie so sterk nie. Die Vrydagoggend is daar weer beweging in die seiljaggemeenskap. Almal kruip uit hul gate uit en sit hul roete voort. Ons roete lei na Adhamas 3.2 myl, die hoofdorp van Milos Eiland en is ook in Ormos Milos. 
 
Adhamas
 
Ons maak aan die suidekant van die kaai vas. Dis die kant wat meer oop is vir suid-weste winde. Die noordekant, wat baie meer beskut is, is nog vol jagte wat hier teen die wind geskuil het. Tydens die storm, was die suidekant baie gevaarlik. Almal wat daar vas was, het die kaai verlaat en gaan anker. Vas is ons en ek hou die wind en see maar met 'n houtoog dop. Bang die see word weer groot.
 
Suidekant van die kaai
 
Later vertrek baie jagte en ons trek anker op en meer net aan die anderkant van die kaai vas. Baie goeie besluit van die kaptein. Nou staan Maja heerlik stil en ek het rus vir my siel. Later die middag begin die middagbries te waai en die arme bote waar ons eers gestaan het, dans en bons behoorlik op daai kaai rond. So dankbaar dat ons geskuif het. 

Dis tyd vir wasgoed was en Maja se drade pryk met silwerskoon wapperende wasgoed. Archie lag altyd vir my (en Elize) as ons die wasgoed so deeglik vaspen. Dis altyd gereed om die ergste wind te kan trotseer. Ons wasgoed sal nie in die see beland nie! Ek sê altyd: "Maak altyd reg vir wind en reën!"
 
Adhamas hawe
Reg vir groot wind
 
Adhamas is 'n tipiese Cyclades dorp met 'n vreemde bekoring. Wit huise op 'n barre eiland. Ons stap rond en geniet die dorp. Kerkmens wat ek is, stap ons natuurlik weer al die trappies op na die groot wit kerk. Al die gestap maak ons honger. En daai gyro was heerlik. Dit was die moeite werd on hierheen te kom, te sterk wind te trotseer en kaai toe te kom. Om weer op land te kom. Om weer bietjie sorgvry te wees.
 
Eet gyros
Trappe na die kerk

















Kerk
 Die aand slaap ons kommerloos, sonder die geloei van Gus in ons ore. Vas en veilig.

Wednesday, June 27, 2018

Milos

27 Junie 2018. Woensdag.






Rivari Baai. Milos Eiland.

26 Junie 2018. Dinsdag.

Koutala Baai tot Rivari Baai

Dis ook al wanneer ek die son sien opkom. Dis nou as ons so vroeg vaar. Dis heerlik stil in die baai. Anker op en ons laat spaander na Rivari Baai, 27 myl, op Milos Eiland.

Sonsopkoms
Hulle voorspel sterk suidwestewinde en in dié geweste is daar nie so baie skuiling teen die winde nie. Ag nee, ek hou maar nie van die Cyclades nie. In Milos is daar ankerplek teen suidewind. Antimilos het 'n wolk op en die groot Griekse boek sê as dit so lyk, verwag mens sterk suidweste en weste winde. Dis wraggies die waarheid!
Andimilos Eiland met sy wolk
Die eerste deel van die vaart motorseil ons. Gus waai van skuins voor, ons kan net-net seil. Die laaste deel gee ons op en vaar maar verder. Ons kry ankerplek in die groot baai en gooi in 'n redelike sterk wind anker. Gus se "gusts" teister ons.

Dis eintlik 'n pragtige vulkaniese eiland met 'n chora op die berg. Ons kan nie eers vir Maja verlaat om die pragtige dorpie te gaan verken nie. Wat 'n jammerte! As dit beter raak, kan ons dalk Vrydag teen die kaai vasmaak en die dorp besoek.
Vulkaniese rotse
Chora
Milou Baai ingang
Eilandjie, huis en kerkie
Ons moet nou hier skuil tot Vrydag. Fors sewe winde word Woensdagnag en heeldag Donderdag verwag. 
Windvoorspelling vir Donderdag
Archie maak nou al vir Maja windbestand. Hy maak vir Dinkie ekstra goed vas en ons vou die bimini op. Mens weet nooit of die wind dalk vroeër deurkom nie.

"Battening down the hatches"

Dit lyk vir my Elize het die plat see en goeie weer in haar rugsak gepak en huis toe gevat! Hier is deesdae net groot see en baie wind. 

Ons het vandag 'n klomp dolfyne gehad wat saam met ons geswem het. Dis darem 'n ligstraaltjie.
Dolfyne swem saam
Te lekker

Tuesday, June 26, 2018

Koutala Baai. Serifos Eiland.

25 Junie 2018. Maandag.

Fikiada Baai tot Koutala Baai
Hierdie Cyclades is nie vir my nie. Te veel wind. Te groot see. Te min rus vir my siel. Gus het darem stiller geraak in die nag.

Vandag gaan ons nie vêr nie. Ons wil eers kyk hoe lyk Merika se ankerplek en dan gaan ons na Ag. Dimitrios Baai, 7 myl. Ons ry eers 10:00. Merika se ankerplek lyk nie te waffers nie en ons gaan na Ag. Dimitrios. Gooi anker, dit byt pragtig, maar dit wieg in die baai. Ons trek toe maar anker op en seil 15 myl verder na Koutala Baai op Serifos eiland. Ons kort dag word 'n lang dag!

Hoe later hoe kwater en die wind waai sterker, gelukkig van skuins agter en daai see rol en wieg ons rond. Ek is nou al gatvol vir reuse golwe. Tot Archie se oë rek soms as die drie groot golwe na mekaar aangerol kom. Dan gaan dit 'n rukkie beter, tot die volgende drie golwe kom. Ons stem darem oor een ding saam. So groot see is nie lekker nie.

Die wind en see klim in my gemoed. Krap my om. Maak my bedruk. Waar is heerlike Saronic See? En die Ioniese See? En die Peloponnisos? Hier is net wind en wieg. Ek sal weer gewoond moet raak.

Genadiglik gaan ons om die hoek en die see is plat. Daar is wel windvlae, maar die baai bied genoeg beskerming. Hierdie Serifos is een dorre eiland. Vreemde soort mooi. Gekasty deur wind en weer. Ons gooi anker. En hier is ons.

Koutala Baai
 

Monday, June 25, 2018

Fikiada Baai. Kithnos Eiland

24 Junie 2018. Sondag.

Tselevinia tot Fikiada Baai

Dis nog donker toe ons koffie drink. Vandag is die lang pad na Fikiada Baai op Kithnos Eiland, 41 myl. Dis ons seekruising van die Saronic See na die Cyclades. Daar word Fors 5 winde voorspel (so 20 knope).

Ons vertrek 5:15. Dis nog bietjie donker en Maja se ligte is aan. Die winde is so 10 tot 15 knope. Toe dit lig word, span ons die genoa en die hoofseil. Die wind is van die kant en ons seil heerlik gemaklik.
 
Vroeg uit die vere
 
Ons vaar verby die windplaas (eintlik 'n eiland vol windturbines). Dis seker daai turbines wat die towerwoord gespreek het, want toe ons verby die windplaas is, begin Gus in sy volle glorie te waai. Stadig maar seker styg daai knope. Ons trek later die hoofseil in en nog later seil ons net met 'n klein stukkie genoa. Ons seil teen 5 tot 6 knope. 

Wind eiland
 
Die see is groot. Reuse golwe spoeg ons telkens in die gesig. Maja word behoorlik geskommel. Die golwe rol van skuins van af voor onder Maja deur ander kant uit. En ons rol saam. Jy kan nie vir een oomblik ontspan nie. Jou lyf is gedurig besig om te kompenseer vir die beweging. Archie vat daai helm vas, konsentreer en so vorder ons vorentoe. Altyd vorentoe.
 
Archie by die helm
 
Vir 22 myl seil ons so. So groot see het ons lanklaas beleef. Groot was ons vreugde toe die baai in sig kom, na 9 ure op see. Daar is reeds 'n hele paar jagte op anker, maar daar is plek vir ons. Hier is nou wel windvlae in die baai, maar die see is plat.
 
Fikiada Baai

Fikiada Baai
 
'n Seiljag met 'n klomp Kroasiërs gooi anker net agter ons, maar hulle toets nie die anker vreeslik goed of dit gebyt het nie. Ek sien later hulle jag is baie vêr agter ons en dink hulle het hul anker oorgegooi. Hul dinghie is nie by die jag nie, so hulle is nie aan boord nie.

Toe daai manne terugkom, is hulle in paniek. Hul anker het gesleep, baie na aan die rotse. Hulle trek anker op en dis net seegras. Hulle het mos hoeka nie getoets of dit gebyt het nie. Hulle gooi weer anker, net so voor ons en toets wragtig weer nie of dit behoorlik gebyt het nie! Gelukkig waai Gus baie ligter. Sommige seilers gee net nie om nie. Dis mos maar net 'n charter boot!

Ons bly die hele dag op Maja. Glad nie lus om in dié wind land toe te gaan nie. Ek het genoeg gehad van wind.

Doodmoeg gaan slaap ons lekker vroeg en maak behoorlik daai matras seer. Baie dankbaar ons is veilig hier!

Elize en Fanie

Elize.


Elize

Hierdie was Elize se vierde seilvakansie saam met ons op Maja. Sy het ons verbaas met haar uithouvermoë om al die steil paadjies en straatjies uit te klim. Sy is 'n sien-vraat. Kry doodeenvoudig nie genoeg van die dorpe nie. Sy wil álles sien en ervaar.

Elize het altyd gehelp waar sy kan. Altyd op haar pos met die koue drankies en sy kán goed skottelgoed was. Dankie vir al die hulp. Dit word baie waardeer.

Elize skryf:
"Dis altyd so moeilik om tussen al die pragtige plekke te kies, maar Monemvasia was vir my dié mooiste en lekkerste. Monemvasia, met sy dorpie op die berg. Die mooi strate tussen die ewe mooi huise en al die pad boontoe. Na die mooiste ruïnes van huise van lank gelede. En op dieselfde dag, die rustige anker in Ieraka baai, waar ek net tot ruste kon kom en die stilte van die baai kon indrink.

Monemvasia

Die kasteel met sy 999 trappe by Nafplio was ook ' n hoogtepunt. Dit was die beste kasteel wat ek nóg gesien het.

Navplio Kasteel

Dan was daar ook nog Ermioni, waar die hope bote op die kaai afpeil en die chaos om vir almal 'n plek te kry. Dit was baie opwindend.

My beste ervaring was die heerlikste swem op anker by Zoyioryia Baai, op Spetsai. Die water was so helder, ek kon meters diep in die water sien, met die mooiste turkoois-blou kleur. Ek kon nie ophou swem en my verkyk nie.

Heerlikste swem

Elke berg wat ek uitgebeur het, of dit nou tot by 'n kasteel of  'n kerk was, of tussen huise deur tot bo, met die steilste trappe wat voor jou uittoring, was vir my 'n lekker uitdaging met 'n gevoel van oorwinning as beloning. Sowat van steil opdraandes en berge, het ek lanklaas beleef.

Trappe op
Berg op by Monemvasia

Dankie Marietjie en Archie vir julle gasvryheid en met julle kundigheid met die hantering van die boot. Nadat ek gesien het hoe onhandig sommige seilers met hulle bote omgaan, is ek bly ek kan saam met julle seil. (Dankie vir die kompliment)

Dankie ook vir die heerlike etes wat ons altyd geniet het. Dankie vir die kapteinskoffie met die koekie van elke oggend.

Ons sal die vakansie, die seil en elke wonderlike en mooi dorp of baai altyd onthou.

Lekker verder seil."

Fanie.

Fanie

Fanie het miere.  Hy moet altyd aan die beweeg bly (behalwe as ons vaar en hy sit voor op die snoet). Hy was elke dag sommer vroeg uit die vere en dan gaan draf hy of verken die dorp. Kom dan terug met twéé brode en verorber een dan saam met sy koffie.

Dis vir hom heerlik om op die dek te slaap, waar 'n briesie hom kan afkoel. Hy het gereeld saam met Elize die skottelgoed gewas en was altyd bereid om met alles te help. Hy is net effe sku vir die klein wit monster in die "head". 

Die plek wat hom die meeste beïndruk het, was Idhra. Die besige hawe, die opstap kerk toe, die hele dorp sonder motors. Ook Mandraki waar ons geanker het met 'n "line ashore". Ook die heerlke 4 km stap van Mandraki tot by Idhra se dorp.

Idhra
Elize en Idhra se perde

Fanie het baie werkstres. Hy sê dit was vir hom heerlik om op Maja se snoet te sit en totaal af te skakel. En dan net die ritmiese prrr van Maja te hoor en die sagte kabbeling van die verbygaande water. Hy kon heerlik ontspan.

Ontspan op Maja se snoet

Dankie Elize en Fanie vir julle kuier. Dit was vir ons heerlik om julle aan boord te hê op ons kleine Maja (ma het altyd so gesê). Baie dankie vir die geskenk-geld. Ons sal dit nuttig gebruik. Julle kan gerus weer kom.