Sunday, June 24, 2018

Tot siens en Tselevinia

23 Junie 2018. Saterdag.

Poros tot Tselevinia

Ons is vroeg uit die vere. Elize moet nog 'n paar goedjies pak. Ons stap na die veerboot en dis sukke tyd. Koebaai-sê. Na die nodige oor en weer bedankings en drukkies en groetery, stap hulle aan boord. Dis 'n bloedrooi ou veerboot en Archie merk op "its only the paint that keeps it together". Gelukkige het Elize dit nie gehoor nie, anders sou sy haar vreeslik bekommerd het. Ons waai totdat ons mekaar nie meer kon sien nie. Archie sê: "Komaan, dis nou genoeg!"

Pak
Gereed om te klim
Daar gaan hulle
Koebaai julle
Weg is hulle

Elize en Fanie se seilvakansie is verby. Hulle het van Monemvasia tot by Poros saam met ons geseil. Baie gesien, baie geloop, baie geklim.

Maja voel leeg en eensaam. Ons wag vir die wasgoed van Souzi's wassery. Kwansuis 'n twee-uur diens, maar ons wag vyf ure. Toe die wasgoed kom, vaar ons alleen leen leen na Tselevinia, 6.7 myl. Môre is dit 'n lang kruising met baie wind. Ons gaan slaap vroeg.

Tselevinia Baai




Saturday, June 23, 2018

Poros Dag 2.

22 Junie 2018. Vrydag.

Roete tot op datum

Ons begin sommer vroeg stap. Hierdie plek word baie warm. Archie neem die voortou en hy sien die stapteken en toe weet ons dis die regte pad. Hier in Poros kan mens lekker verdwaal.

Reg vir stap
 
Die uitsigte oor die pragtige dorp raak met elke trappie mooier. Veral Elize stop gereeld om dan af te kyk en die lus vir die oog te waardeer. Mens wil die uitsig inadem en in jou  geheue inbrand om altyd te onthou.

Seiljagte lê stil en vreedsaam op anker in die kanaal. Die ander jagte is saam met Maja teen die kaai vas. Die huise se oranje-rooi dakke is helder in kontras met die wit van die huise. Alles spel 'n rustigheid. Dis heerlik om hier te stap.
 
Pragtige Poros
Poros Kanaal
Archie en ek
 
Ons is al amper op die kruin van die berg en stap heerlik na die kerk. Ek en Elize staan in die boog soos dit susters betaam en Archie vang die oomblik vas en verewig dit vir altyd. Twee susters in bekende vreemde land waar die son ook so heerlik skyn soos in ons sonnige Suid-Afrika. 
 
By die kerk sit ons op die muur en kyk na die roete waarmee ons gekom het. So vleg-vleg tussen die klein eilandjies. Ai, wat 'n voorreg om hier te wees. Ons moet onthou om altyd dankbaar te wees.
 
Die boog
Klein eilandjies
 
Weer dapper en stapper na die westekant toe. Hier is 'n ou fort of iets en dan loop ons verder na 'n kleiner kerkie. Hier sien mens Poros heel anders. Nader en groter. Elize en Fanie lyk pragtig met Poros in die agtergrond.
 
Elize en Fanie
 
Die straatjies in die dorp betower vir Elize. Archie wil na die wagtoring stap en hy klouter op die rots en waai vir sy "ou vrou". Fanie wag geduldig (hoop ek) vir ons. Hy is mos 'n vinnige man wat alles vinnig doen.

Straatkinders
Archie
 
Ons word getrakteer met 'n heerlike  frozen yogurt roomys en eet dit,  met die goedkeuring van die Griekse priester met sy swart gewaad, baard en poniestert, op die kerk se wit  muur. Heerlik. Toe is dit  net af af af en terug na Maja.
 
Eet roomys …
… op kerkmuur
 
Maja se bemanning stort en was hare. Jy ruik net seep en sjampoe. Ons maak gereed vir die groot uiteet. Fanie neem ons vanaand uit vit ete. Die tradisionele dankie-sê ete.  Ons lyk toe te pragtig toe die vierstuks na Platanos stap.

Die mense is vriendelik en ons word goed bedien. Fanie besyel vir hom seekos vir twee (die vraat) en die res van ons is lus vir oond lam. Ons het behoorlik gesmul. "Dankie julle vir 'n heerlike ete!" 

Uitgevat
Spoggerig
Aan tafel …
… by Platanos

Laaina se krale
Dankie julle

 
Ons laaste aand van langbeen sit op Maja kom tot 'n einde.

Friday, June 22, 2018

Poros

21 Junie 2018. Donderdag.

Mandraki Baai tot Poros

Dis die laaste vaart. So gou verby. In 'n oogwink. So vertrek ons na Poros, 11.5 myl. Agter ons lê Idhra, Ermioni, Nafplio, Monemvasia. En al die ander mooi plekke wat ons besoek het.

Vroegoggend Mandraki
En voor ons lê my pragtige Poros. Ek wil mos hê Archie moet 'n huisie vir ons hier koop. Maar nou ja. Dis nie vir ons beskore nie. Ons kry 'n plek langs die dorpskaai, Archie tru, ek gooi anker, Elize en Fanie help met die toue en die tweelingbroers van Oostenryk help op die kaai. Ons is vas. Dis Elize en Fanie se laaste veilige hawe op hul seiljagvaart op Maja van 2018.
Poros
Dis warm hier in die pragtige Poros. Somer is hier in al sy glorie, maar die twee ywerige toeriste pak die dorp dadelik aan. Hulle bly lank weg en kom tevrede, stink en natgesweet terug.
Fanie gaan draf (hy draf omtrent elke dag), Archie werk aan die Autopilot wat weer nie gewerk het nie (en hy kry die fout) en ek en Elize gaan winkels toe (en koop die een en ander). Ek moet ook sê dat my oor baie beter is. Ek kan al weer hoor. Dis te wonderlik! 

My ouste suster, Laaina (bynaam), het vir ek en Elize elk 'n Kit Kat vir ons verjaarsdag gestuur. Ons verjaar altwee mos in Julie. Ons maak dit seremonieel oop en vat 'n hap. Heerlik! Ons het darem met die mans ook gedeel. "Dankie Laaina, dit was heerlik. Wens jy was hier saam met ons!" 
Laaina se Kit Kat
Dit smaak vorentoe
Fanie slaap op die dek en ervaar al die nagpret. Die Engelse wat baklei, mense wat wankelrig is en die kaai musiek. Maar dis ten minste lekker koel op die dek. Hy slaap elke aand op die dek.

En ons elkeen geniet Poros op sy eie manier.

Mandraki Baai. Idhra Eiland.

20 Junie 2018. Woensdag.

Ermioni tot Mandraki Baai

Dit was nou vir my geen lekker nag nie. Ek was naar en skiet 'n katjie. Nou weet jy mos hoe voel mens die volgende  dag. Soos papsak.

Dis weer hierdie snaakse stuk see. Dan waai Gus, dan lê hy. Dan is hy 'n briesie, dan ruk hy hom op. Maar ons seil darem so 'n bietjie. Ons gaan Idhra, myl toe. 

Archie is amper lus om die hawe aan te durf, maar die gevoel gaan gelukkig weg en ons gaan na Mandraki toe om te anker. Dis hier waar ons verlede jaar aan die dik ketting vasgehaak het saam met Michelle en Johan.
Idhra
Hierdie keer maak ons seker dat ons vêr anker gooi. Alles is reg vir die lang tou na die land. Archie tru, ek gooi anker.Toe is dit Archie se tradisionele sierlike boog soos wat hy duik met die tou. Ons maak die toue vas en siedaar! Hier is ons. 
Sierlike boog
Verstel ankerboei
Elize en Fanie stap dorp toe. Ek bly by Archie op Maja. Ek is nog pap na my nag van naarheid. Ek slaap die hele middag soos 'n baba.
Gaan dorp toe
Aksie op Mandraki
Archie help twee uiters onervare seilers om te "line ashore". Eers die Oostenryker wat dit nog nooit gedoen het nie. Hulle alongside vir eers teen Maja, terwyl die onervare man alles reg kry vir sy vasmeer met al die miljoene toue.

Die ander jag is die drie vrolike laggende Engelse. Drie mans. So iets nog nooit gesien nie. Die een ou swem met die hele spul gekoekte tou land toe en sy vasmaakmetode laat ek en Archie se hare rys.
Unieke vasmaakmetode
Archie gee net raad. Toe alles klaar is, kom hulle agter hulle anker het nie gebyt nie nie. Sies tog. Maak weer toue los, vaar uit en gooi weer anker. Archie verduidelik vir hulle stap vir stap wat om te doen. Dis die eerste keer wat hulle dit doen. Hulle lag al die pad. Vreeslik vrolik.

Die aand voel ek baie beter en 21:00 stap ek en Archie die 4 km na Idhra. Die stap in die donker is heerlik. Ons beleef Idhra se naglewe. Ek moet sê, ek hou meer van Idhra in die dag.
*****
Elize en Fanie het Idhra vreeslik geniet. 

Elize vertel: "Idhra hier kom ons!

Ons pak die 4 km na
Idhra met ywer aan en kom na 45 min daar aan. Die pad was maklik met pragtige uitsigte en stewige op en afdraendes. Prentjiemooi.
Mandraki Baai
Op pad Idhra toe
Idhra wag op ons -  'n lieflike gesig met die dorpie en al die bote in die hawe. Op die kant staan 'n hele paar donkies, wat dien as pakdiere om pakkies of bagasie of ander items na die inwoners te vervoer. Ons loop langs die see, langs die mooiste strandjie-swemplekke waar jonk en oud in die mooiste turquooisblou water baljaar.
Prentjiemooi Idhra
Besige hawe
Idhra bakkies
Idhra
'n Maroon kerkie bo-op die berg roep ons. Ons klim stelle en stelle supersteil trappe tot bo, en tot ons verbasing is ons steeds nie heelbo nie. Die huise en trappe gaan aan en aan. Ons besluit om tussen die huise weer na onder te loop, maar steeds gaan ons hoër en hoër. Ons kom later by nog 'n kerkie, maar hy is heeltemal te hoog en soek toe verder na 'n pad ondertoe. In die proses kom ons op murasies van lank gelede af, en 'n ou windmeul. En ... toe ons kyk, is ons weer by die wonderskone strandjies.
Trappe
Swemplek
Daarna dwaal ons nog rond tussen die huise en winkeltjies. Na 'n lekker roomys wat ons op 'n trappie eet, kyk ons vir oulaas terug op die pragtige dorp en hawe voor ons weer die 4 km terug Maja toe aanpak. 
Wat 'n lekker uitstappie!"

Tuesday, June 19, 2018

Ermioni

18 en 19 Junie 2018. Maandag en Dinsdag.

Zoyioryia Baai tot Ermioni

My oor suis! Ons het dit weer probeer uitspuit, maar met geen sukses. Michelle vra heeltyd of die dokter seker is dat dit was is. Dit behoort nie so moeilik te wees om uit te spuit nie. Wel, hoe kan ons teen Monemvasia se dokter stry?

Vandag is dit my geliefde Ermioni, 13.7 myl. En daar is 'n kliniek. Vandag gaan ek soontoe met my oor. Miskien kan hulle die was uitspuit. Elkeen kry sy beurt agter die helm. Fanie is agter die helm en hy gewaar sowaar 'n dolfyn. Daar is nogal 'n klomp van hulle en is besig met ontbyt. Elize is behoorlik in haar noppies. Fanie staan slaggereed met sy selfoon om foto's te neem. Die pragtige goed is te vinnig vir ons. Foto's is maar skaars. 
 
Ons vaar verder en gou is ons daar. Ons maak teen die kaai vas. Dis maar wipperig hier, maar wat, dit pla ons nie.

Ek en Archie gaan kliniek toe. Elize en Fanie gaan dorp toe. Elize kan mos nie 'n dorp in vrede laat nie. Nee, dit moet kruis en dwars deursoek word.

Die kliniek sit vol mense. Jy moet maar sit totdat dit jou beurt is. Ses is voor my. Toe daar nog net twee voor my is, kom daar 'n noodgeval. Toe wag ons eers lank. Gelukkig oorleef die noodgeval en sy stap uit.

My beurt. Ek kan nie wag om weer my linkeroor se gehoor terug te kry nie. En wat sê die dokter? My oor is skoon. Daar is geen was in nie. Hy vermoed daar is infeksie. Hy kan my nie help nie. Ek moet na 'n oor, neus en keel spesialis toe gaan. Daar is een in Kranidi, ons buurdorp.

My hart sak n my skoene. Al die oordruppels en uitspuit-marteling was verniet. Die dokter in Monemvasia het verkeerd gediagnoseer! Daar is nie was in my ore nie!!! Ons stap loodswaar terug na Maja. Môre al weer dokter toe.

Archie wag vir die man van die autopilot. Fanie gaan draf. Ek en Elize gaan verken die dorpie. 
 
Ermioni suidkaai

Ermioni

Kerk
 
Die volgende dag gaan Elize en Fanie Ermioni se uitsig van die kerk af bewonder. Die baaie en die dorp lyk prentjiemooi van bo af.
 
Ermioni hawe
Ermioni dorp en baaie
Skiereiland
Mooi kerk op die heuwel
 
Ons klim die 8:30 bus na Kranidi. Die apteker het vir ons 'n afspraak by die dokter gemaak. Dis 'n jongerige dokter én hy praat Engels. Ek het infeksie in my oor. Tipe A. My gehoor is nie beskadig nie, maar ek moenie water is 'n my oor kry nie! Ironies! Ons het liters water in my oor gespuit. Daai blêrrie dokter van Monemvasia!

Toe is ons baie verlig en ons verken gou die dorp en drink koffie en eet 'n soetigheid terwyl ons vir die bus wag. Heerlik! Ons klim die bus terug na Ermioni en koop my medisyne by die oulike apteekster.
 
Kranidi
Kranidi
Kranidi
 
Dit raak vol by die kaai. Die een jag na die ander kom in. Dis later stampvol. Fanie en Archie help van die ander jagte om vas te maak. Almal wip en werfskaf, is besig met hul toue en fenders.
 
Archie wag in spanning dat die man sy autopilot bring. Hy het dit mos uitgehaal en weggevat om reg te maak. En al wat kom, is hy. Archie stuur epos, maar hy reageer glad niks. Eers baie later, 21:00 daag hy op. Hy het die ding reggemaak en R3 000.00 verder, het ons nou weer autopilot. Môre kan ons helmsmanne maar ontspan, George sal bestuur.