Friday, August 18, 2017

Peloponnisos. Portocheli.



16 en 17 Augustus. Woensdag en Donderdag.

Astrous tot Portocheli

Nou is dit vir die groot wag. Wanneer die ure soos dae voel, die minute soos ure en die sekondes soos minute. Dis nou die wag vir Michelle en Johan.

Ons vertrek na Portocheli, 20.3 myl en ons seil vir 1h50 min. Die res van die tyd motorseil ons en ’n deel vaar ons. Gus waai al hoe sterker. Later waai hy tot 25 knope. Ai, die blerrie Gus. Versondig alewig my siel!

Ons vaar hoopvol kaai toe en daar is sowaar ’n plek vir ons. Ons maak gereed om in die wind vas te meer. Archie neem posisie in en ek gooi die anker. Die Taljaner wag op die kaai om ons met die toue te help en ons meer maklik vas. Ons ander buurman se anker lyk baie skeef en ons is nie seker of ons oor sy anker gegooi het nie.

En hier is ons nou. Dit is nie ’n vreeslike mooi dorp nie, maar die supermark wink vir ons. Ons moet voorrade gaan koop vir Johan en Michelle. Ons kom met pakke vol kruideniersware by Maja aan.

Die bure met die skewe anker vertrek en ons vrees is bewaarheid. Hulle tel ons anker op, maar gooi dit darem netjies in die see. Ek trek die anker en hy byt wonderbaarlik. Al probleem is dat ons nou net 25m ankerketting uit het, terwyl die ander mense van 40m tot 60m uit het. Die dwarswinde kan vreeslik hier waai. Maar nou ja, ons is nie lus om weer te gooi nie en dié plek se bodem se houkrag is goed. Ons sal maar duim vashou.

Môre-aand kom ons nuwe kuiergaste.

Wel, die volgende dag het genoeg ankerkruis-dramas om vir ons ure se kyk te besorg. Ons gaan wag vir Michelle en Johan by die bushalte. Hulle kan enige tyd tussen 19:00 en 20:00 kom. Ons kry die boodskap dat hulle 15km van ons af is en ’n kwartier later laai die bus hulle sommer langs die straat af. Ons sien dit en loop met groot spoed daarheen.

Toe ons mekaar sien, wuif ons soos windmeulens. Hulle is hier! Ons groet innig en hulle moet vir Maja uitken. Sommer gou sien Michelle die SA-vlag en hulle loop die plank en is by hul tuiste vir die volgende 10 dae.

Hello Michelle
Hello Johan
Michelle loop die plank
Johan aan boord
Welkom julle

As welkom drankie kry hulle heerlike retsina. Dis mos ’n tipiese Griekse wyn wat ’n ondertoon van muf en terpentyn het. Die eerste sluk is ’n skok en daarna word dit draaglik en nog later word dit lekker.

Ons bedien vir hulle ouzo hoender en ons sit heerlik op die dek en eet.

Baie welkom julle. Ons is bly julle is hier!

Thursday, August 17, 2017

Astrous.



15 Augustus 2017. Dinsdag.

Tyros tot Astrous

Hierdie plek klink vir my soos daai sjokolade balletjies, so ek hoop dit gaan baie lekker wees by Astrous, 11.8 myl. Soos gewoonlik, soos dit Gus in die oggend betaam, waai hy vanuit die noorde, reg op Maja se snoet. So ons seil nie, ons vaar rustig voort. Gus waai nie sterk nie en ons vorder deining vir deining tot by Astrous.

Ons vaar nader en Astrous lê vredig in die son met sy kasteel teen die berg. Die hawe is baie beskut en ons is gelukkig om ’n plek te kry. Archie tru en ek gooi die anker. Op die kaai staan twee manne klaar gereed om met die toue te help. Seilers is gawe behulpsame mense. En vas is ons.

Astrous en sy kasteel

Hierdie is eintlik ’n vakansiedorp. Dit bestaan uit strande, tavernas en akkommodasie. Orals langs die see sit mense onder sambrele en die dapperes durf die klein rollende golwe aan. Die wind waai golwe in die baai in. En ou Gus waai al sterker. Maar ons gee nie om nie, want Maja is veilig in die hawe.

Ons stap kasteel toe en Archie stap tot bo om ’n uitsig oor die baai te kry. Die kasteel is eintlik niks besonders nie. Ons gaan terug en word lus vir roomys wat ons lekker langs die see sit en eet.

Hawe
Astrous Baai
Kasteelmure
Uitsig vanaf kasteel

Ek kan eintlik nie wag vir Donderdag nie, want dan kom my dogter, Michelle en haar vriend Johan vir ons kuier. Ons gaan môre Portocheli toe en hoop ons kry plek langs die kaai en moet Maja dan weer gereed kry vir die kuiergaste.

Tuesday, August 15, 2017

Tyros.

14 Augustus 2017. Maandag.


Kiparissi tot Tyros

Laai waai Meraai! En weg is ons na Tyros, 18 myl. Kiparissie is pragtig in die vroeë môre. Die berge trots en hoog, met die dorpie wat aan die voet van die berge lê. ’n Ware lus vir die oog.

Koebaai Kiparissi

Die kuslyn is pragtig en ons vaar verby Leonidhion. Net so pragtige dorpie en ons vaar verder. Die noordewind waai mos in die oggend, so hy waai van vooraf op ons snoet. Van seil is daar geen sprake nie.

Leonidhion

Die drie windmeulens is die baken van Tyros, as jy hulle sien, is jy amper daar. Ons vaar by die hawe in en gelukkig waai Gus nie sterk nie. Die probleem in die hawe is dat as die wind waai, waai hy van die kant af en gooi jou van koers af en maak dit baie moeilik om vas te meer. Met die hulp van die buurman is ons maklik vas en hier is ons.

Windmeulens
Tyros

Die boek sê dat die hawe ’n sterk oostewind smiddags kry en jou anker moet goed in wees. Soms waai ’n noord-oostewind in die nag en dan moet jou anker éérs goed in wees. Die anker word in die hawe afdraend gegooi, want waar jy anker gooi, is dit vlakker as teen die kaai. So ’n stuk ankerketting hang in die lug. Gelukkig is die houkrag goed.

Veilig vas

Gelukkig gaan lê Gus gewoonlik saans en dan sal ek rus vir my siel kry. Tyros is sommer net ’n gewone dorp. Met ’n kerk en ’n strand, tavernas en huise. Ons drentel in die dorp rond en oral is die hoë berge te sien. Die omgewing is pragtig. 

Archie
Hawe. Maja heel links
Kerkplein

Ons geniet ons aandjie hier in Tyros.

Kiparissi.


13 Augustus 2017. Sondag.

Ieraka tot Kiparissi


Ons vertrek na ons volgende bestemming, Kiparissi, 15 myl. Ieraka was regtig mooi en ons wonder of Kiparissi net so mooi gaan wees.

Hier in die Peloponnisos werk Gus so - in die oggend waai hy vanuit die noorde en dan is daar ’n windstil periode so om en by 12:00 totdat die seebries uit die suide begin waai. Saans gaan lê Gus dan so ’n bietjie.

By Kiparissie is daar drie moontlikhede vir vasmeer of anker. Eerstens by die kapel waar jy teen die kaai vasmaak, dan by die suidekant waar die noordewinde jou pla en dan by die noordekant waar die suidewinde jou pla. 

Majestueuse berge
Kiparissi

Archie besluit om eers die opsie van die kapel te ondersoek. En dit is net waar die moeilikheid begin. Die ligtoring is nie op dieselfde plek as wat die boek sê nie. Ons vaar nader en Maja klink skielik anders. Die enjin sukkel. Dit ruk asof dit iets ingesluk het. Natuurlik gil ek vreeslik hard en Archie skrik vreeslik groot (vir my gil). Hy sit vir Maja in tru, maar sy bewe soos ’n riet. Vorentoe klink sy beter. Daar was sweerlik iets in die propeller.

Ons ry stadig na die noordelike baai toe om te anker. Ek gooi anker en Archie tru. Toe hy die anker wil toets, wil Maja nie vinnig agtertoe vaar nie. Die anker lyk in elk geval styf, want die wind het ons agtertoe gedryf.

Die kaptein sit sy snorkel aan en gaan stel ondersoek in. Aan Maja se propeller sit ’n hounet om visse in te bêre vas. Ai jai jai. “Never a dull moment”. Gelukkig was dit nie ’n enjin probleem nie en die propeller is nog klopdisselboom.

Die sondebok

Dis pragtig hier by Kiparissi. Hoë berge troon bo die baai uit. Wit huise en groen bome voltooi die prentjie. Ons kyk en verwonder ons aan die mooi natuurskoon. Hierdie Peloponnisos is jou waarlik pragtig.



Sunday, August 13, 2017

Ieraka.



12 Augustus 2017. Saterdag.

Monemvasia tot Ieraka

Ek het nie geweet hierdie Peloponnesos gaan my so beïndruk nie! Ons gaan vandag na Ieraka, 8.88 myl. Die kuslyn is indrukwekkend en Ieraka word soos ’n geheim versteek. Ons sien dit eers toe ons amper daar is. Die boek sê die klein gehuggie steel altyd besoekers se hart. En dit is die waarheid. My hart is skoonveld. Seker gesteel.

Versteekte ingang
Ieraka
Ieraka

Ons anker in die baai saam met ’n klomp jagte. Ek tel 23 jagte wat in die baai en by die kaaie is. ’n Rivier mond hier in die see uit en reuse- berge bewaak die gehuggie.

Op die kaai is daar behoorlik aktiwiteit. Tientalle staaltafels word aangedra. Stoele word uitgepak. Luidsprekers neem op die verhoog stelling in. En dit alles in die hitte van die dag. Iets gaan gebeur. 'n Troue? Tradisionele danse? 'n Partytjie? Later word daar vure aangesteek. 

 Die groot Griek se boek se mens eet hier garnale in rooiwynsous en die aand gaan stel ons ondersoek in of dit die waarheid is. Die taverna se eienaar sê dit is wel so (ek weet nie so mooi nie) maar ons sit aan, Die tafeltjies is langs die see en die atmosfeer is lig-romanties. Die garnale was heerlik. Ons eet letterlik ons vingers af.

Na ’n heerlike ete is ons in Dinkie en roei terug. Onthou Dinkie se motor wil mos nie werk nie. Daar is iets eerie aan die stil water en twee donker figure in ’n klein bootjie, wat stilweg terugroei na ’n donker boot wat in die lig glim. Ek kraai soos ek lag van lekkerkry. My ma sal bly wees as sy hoor ek kan weer lag!

Toe begin die Griekse partytjie. Dit sing dat die berge antwoord gee. Hulle glo mos daaraan dat almal wat ore het, moet dit kan hoor. Ek slaap sommer op die dek dat ek die verrigtinge so met die een oog kan dophou. G’n mens kan in elk geval in die geraas slaap nie. Die gesing en dans hou aan tot hanekraai, met ’n bonus van ’n vuurwerkvertoning tussenin.

Dis ’n wonderlike plek, dié Ieraka.