Friday, July 28, 2017

Lourens en Ryna


Lourens en Ryna het op baie kort kennisgewing kom seil nadat Marietjie terug aan Suid-Afrika moes gaan vir haar Ma se siekte. Gelukkig het hulle nog geldige Schengen visums gehad en die tydperk het in die skoolvakansie geval. Ryna is ’n onderwyser. Sonder hulle sou ek nie kon seil nie en vir tien dae opVolos moes gesit het.

Baie dankie julle vir julle ondersteuning en hulp. Om iemand aan boord te hê wat vinnig leer en wat dáárby altyd bereid was om hulp te verleen, het alles baie makliker gemaak. Julle is nou verklaar as bekwame bemanningslede en Ryna se "Stamppot" was 'n wenner.

Lourens

Lourens

Beste Ervaring.
Lourens se beste ervaring was die hele seiljag ondervinding. Hy het al die tegniese details geniet soos anker gooi, seile span en stel, boot bestuur en boot vasmaak aan die land en by kaaie. 

Agter die helm

Beste Plek
Die plek wat Lourens die meeste geniet het was Pythos Baai met die mooi skoon water, die interessante stappie na die dorpie en die “line ashore” ervaring.

Pythos Baai "line ashore"

Ryna

Ryna

Beste Ervaring
Ryna skryf: “Ek was ook ‘matroos’ hierdie keer en het só baie geleer – te veel om op te noem.”

Ryna - Matroos

Beste Plek
Sy skryf verder: "Pythos Baai. Seelewe is baie beter as al die ander plekke in Griekeland "

Pythos Baai

Thursday, July 27, 2017

Evia Eiland. Khalkis. Deurry.


21 Julie 2017. Saterdag.

Khalkis Noord Kaai - Khalkis Suid Kaai - Khalkis Marina

Uiteindelik om 02:45 word Maja se naam geroep. Ons skakel ligte aan, bespreek strategie vir die laaste tyd, sit die motor aan, stoot af van die kaai en weg is ons. Ons is die enigste boot wat van van noord na suid deurgaan.

Dis ’n baie spanningsvolle ondervinding en ons is verlig toe ons deur is en by die Suid Kaai aankom. Die strome is ook snaaks hier en die kaai is baie hoog maar Lourens klim op soos ’n pro en ons is veilig vas. Slaap kom moeilik totdat die adrenalien weg is.

Ons staan vroeg op en Maja word geskuif na die marina net om die hoek. Daarna is dit ’n groot skoonmaak aksie om Maja reg te kry vir Marietjie se terugkoms môre.

Om 11:30 pak Lourens en Ryna hulle rugsakke en ons stap na die treinstasie waar hulle die 12:26 trein na Athene Lughawe gaan kry.


Rugsakke gaan land toe

Tot siens, Maja!
Sak en pak

Ryna en Lourens

Khalkis Trein Stasie

Ons groet en ek stap vêrder na die LIDL om noodsaaklike proviand te koop. Dis ’n lang warm pad en ek is bly om uiteindelik terug op Maja te kom.

Môre kom Marietjie terug.

Evia Eiland. Khalkis.


21 Julie 2017. Vrydag.

Limni tot Khalkis

Ons staan vroeg op en nadat Lourens met warm, vars brood terugkom, is ons op pad na Khalkis, 22.7 myl.

Dis ’n enkelloper se wind (“kom en gaan”) en ons seil wanneer die wind dit toelaat. Uiteindelik seil ons vir 1h 20min.

Kom by Khalkis en sien ’n beknopte plek by die kaai. Daar is snaakse strome en winde en dis eers op die derde probeerslag dat Lourens op die kaai kon kom. Daarna is dit maklik en ons is vas. En ons staan so wragtig waar in die skadu van ’n palmboom.

Langs die kaai
Staan in die skadu van 'n palmboom

By Khalkis is daar 'n padbrug wat Evia Eiland aan die vasteland vebind. Daar is eienaardige sterk strome wat onder deur die brug vloei en elke 6 ure verander hulle hulle rigting. Die presiese tye hang af van die fase van die maan. Een keer per dag, saam met die dooiegety wat tussen 21:30 en 03:00 plaasvind, word die brug geopen vir bote wat wil deurvaar. Dit is ons voorland môreoggend!

Khalkisbrug

Toe is dit Hawe Administrasie toe om brug-gelde te betaal en Hawe Polisie toe vir die nodige instruksies en stempels in ons log. Lourens en Ryna stap deur die stad en Ryna kry twee rokkies en Lourens ’n geskenk vir Alicia. Hulle eet roomys en drink ’n cocktail by ’n “upper class” restaurant … dit net om die hitte op die boot te ontduik. Hulle koop ook treinkaartjies na Athene en die lughawe. Later sny Ryna vir Archie se hare.

Hare word gesny


Aandete is weer Archie se spesialiteit hoender …  smullekker met ons eie wit wyn. Die atmosfeer is onbeskryflik. Liggies weerkaats op die water en die restaurante se musiek op die agtergrond is pragtig.

Ons moet vanaf 21:30 op ons radio luister totdat Maja se naam geroep word. Daarna kan ons deurry. Dit gaan ’n lang nag wees want die kennisgewingbord by die brug reken die brug sal eers oopmaak om 02:30.

Lourens en Ryna vertrek môre na 9 dae op Maja. Dit gaan ’n lang warm dag wees en min slaap lê voor totdat hulle Suid-Afrika Sondagoggend bereik. Werklikwaar ’n onbeskryflike lekker 9 dae. Only one regret - Deon, Alicia en A.S: ons het julle baie gemis!


Evia Eiland. Limni.



20 Julie 2017. Donderdag.

Ek dink vandag spesiaal aan my vrou, Marietjie en die hele familie, want haar ma word vandag begrawe. “Baie sterkte julle”!

Amirou Baai tot Limni

Na ’n rustige nag is ons reg vir Limni, 13 myl, maar eers nadat ons kapteins pannekoek geëet het. Ons kry gunstige wind en seil vir 1 uur.

Lourens die helmsman
Ryna maak voete nat

Limni Hawe bly nog baie smal, maar ons ry in, gooi ’n 360° draai, Lourens doen die kaai werk, Ryna steek haar balfender waar nodig in en siedaar, ons is “alongside”. 

Limni Hawe. Maja is heel voor

Ons stap bult-op na die skool en later na ’n klein kerkie, daarna af dorp toe. Ryna is honger en koop twee broodrolle, maar voordat sy hulle kon eet, stop ons by ’n restaurant en eet brood met ’n rissierige roomkaas en witwyn. Lourens en Archie gaan koop gas en Ryna swem sodat sy bibber van die koue met terugkeer, koel water na verskriklike hitte is net te veel. Later die aand stort ons, trek ons “glad rags” aan en gaan eet ons afskeidsete by dieselfde restaurant. Lourens en Archie eet gebraaide bok en Ryna eet mousaka – alles natuurlik saam met ’n 500ml karaffe witwyn.

Afskeidsete

Op pad terug na Maja koop Ryna ’n blok fênsie sjokolade vir poeding. Die twee brood rolle word gebêre vir ’n ander dag.

Wat ’n lekker dag.