21 Julie 2017. Vrydag.
![]() |
Limni tot Khalkis |
Ons staan vroeg op en nadat Lourens met warm, vars
brood terugkom, is ons op pad na Khalkis, 22.7 myl.
Dis ’n enkelloper se wind (“kom en gaan”) en ons
seil wanneer die wind dit toelaat. Uiteindelik seil ons vir 1h 20min.
Kom by Khalkis en sien ’n beknopte plek by die
kaai. Daar is snaakse strome en winde en dis eers op die derde probeerslag dat
Lourens op die kaai kon kom. Daarna is dit maklik en ons is vas. En ons staan
so wragtig waar in die skadu van ’n palmboom.
Langs die kaai |
Staan in die skadu van 'n palmboom |
By Khalkis is daar 'n padbrug wat Evia Eiland aan die vasteland vebind. Daar is eienaardige sterk strome wat onder deur die brug vloei en elke 6 ure verander hulle hulle rigting. Die presiese tye hang af van die fase van die maan. Een keer per dag, saam met die dooiegety wat tussen 21:30 en 03:00 plaasvind, word die brug geopen vir bote wat wil deurvaar. Dit is ons voorland môreoggend!
Khalkisbrug |
Toe is dit Hawe Administrasie toe om brug-gelde te
betaal en Hawe Polisie toe vir die nodige instruksies en stempels in ons log. Lourens
en Ryna stap deur die stad en Ryna kry twee rokkies en Lourens ’n geskenk vir
Alicia. Hulle eet roomys en drink ’n cocktail by ’n “upper class” restaurant … dit net om die hitte op die boot te ontduik.
Hulle koop ook treinkaartjies na Athene en die lughawe. Later sny Ryna vir Archie se hare.
Hare word gesny |
Aandete is weer Archie
se spesialiteit hoender … smullekker met
ons eie wit wyn. Die atmosfeer is onbeskryflik. Liggies weerkaats op die water
en die restaurante se musiek op die agtergrond is pragtig.
Ons moet vanaf 21:30 op ons radio luister totdat Maja
se naam geroep word. Daarna kan ons deurry. Dit gaan ’n lang nag wees want die
kennisgewingbord by die brug reken die brug sal eers oopmaak om 02:30.
Lourens en Ryna vertrek môre na 9 dae op Maja. Dit
gaan ’n lang warm dag wees en min slaap lê voor totdat hulle Suid-Afrika Sondagoggend
bereik. Werklikwaar ’n onbeskryflike lekker 9 dae. Only one regret - Deon,
Alicia en A.S: ons het julle baie gemis!
No comments:
Post a Comment