Thursday, May 18, 2017

Aşı Bükü (“Pirate Cove”).



17 Mei 2017. Woensdag.

Kızılbuyruk Bükü tot Aşi Bükü

Ek weet nie wat noem mens die plek nou eintlik nie. Die boek sê Dişibilmez Bükü, die Duitse boek sê Aşi Bükü (Piraten-Bucht) en Archie sê Pirate Cove. Heel verwarrend vertrek ons soontoe, 16.5 myl. Al die boeke is vreeslik geheimsinnig oor die plek, daar is nie eers ’n skets van die baai nie. Praat net van allerhande gevaarlike rotse en dis net vir kalm weer. Gus stoot ook deinings in die baai as hy waai. Die weervoorspelling sê dis kalm en ons glo dit. 

Oggendskoot - Kalm?

Ons seil ook ’n bietjie terwyl Gus dit toelaat en later vaar ons maar net verder. Vorentoe, altyd vorentoe. Verby Baba Adasi, waar ons altyd al hoppende anker. Vandag soek ons ’n nuwe heenkome.

Ons kom by die groot baai en vaar in. Diep in. Ons kan later die dak van die restaurant sien en vaar versigtig nader. ’n Man op ’n dinghie kom op ons afgejaag en sê ons moet anker gooi en aan die pier vasmaak. Archie is halsstarrig, want hy wou net anker. Daar is egter nie plek vir anker nie en ons maak toe maar aan die vreeslike wankelrige, wiegende plastiese kaai vas. Ek bekyk die besigheid maar net met ’n houtoog uit. Ons is toe “veilig vas”. En op die koop toe moet ons by die restaurant gaan eet.

Wankelrige kaai
"Veilig vas"
Boom 

Ek waag my lewe net twee keer om op die plastiese kaai te loop en dis toe ons gaan eet en toe ons terugkom. Elke tree is ’n wiegelied en my balans met die nuwe knieë is nog nie wat dit moet wees nie. Die ridderlike kaptein dra ons plank saam, want volgens hom moet jy die laaste tree van die kaai tot op die sand “leap”. En vir ’n ge"leap", is ek nog nie reg nie. Ek stap ewe elegant oor die plank op die sand.

"Blommetjie gedenk aan my …"

Ons eet heerlik by die restaurant, köfta, slap tjips en drink water. Dis ’n pragtige uitsig en ek besef nou eers hoe bekoorlik is die baai. Maja is eensaam en alleen by die kaai. Gelukkig was die weervoorspelling regoor die kalmte, want hier wil ek nie wees as Gus waai nie.

Restaurant

Wat ’n genotvolle, opwindende verblyf was dit nie in die geheimsinnige baai nie. Hierheen sal ons beslis weer terugkom, eendag as ons weer hier is en die kalmte aanvoel.

Kızılkuyruk Köyü.



16 Mei 2017. Dinsdag.

Wall Bay tot Kızılkuyruk Köyü

Ons bevry Maja baie maklik van die land, want dit is windstil. En daar trek ons na Kızılkuyruk Köyü, 16.5 myl. Dis ’n baai aan die buitekant van Skopea Limanı. Hier is dit al weer sukke tyd, anker met ’n lang landlyn. 

Sonsopkoms

Dis net ons in die baai, dis windstil en ons kry alles gereed vir die aksie. Ek is nie meer so bang vir “line ashore” nie. Is nou al gewoond daaraan. Archie tru, ek gooi anker, vat die helm oor en die kaptein duik land toe met sy toue en kettings. Hy besnuffel al die klippe en kry ’n stewige een en maak die tou vas en swem terug om die ander tou te kom haal. En siedaar – veilig vas!

Veliig vas

Dis ’n mooi baai en Maja lê rustig in die baai. Later kom ’n ander jag en hou haar geselskap. Hulle gesels seker oor waar hulle al orals heen gevaar en geseil het. En vertel dan, tipies vrou, vir mekaar geheimpies oor die bemanning!

Kızılkuyruk Köyü
Helder water

Dis ’n rustige middag van lees en net wees. Later die aand begin Gus te waai, hou my bietjie wakker en ek en hy gaan lê al twee ’n bietjie later.

Wall Bay. Skopea Limanı


15 Mei 2017. Maandag.

Ortisim Bükü tot Wall Bay

Ai, ’n kaptein se werk is nooit klaar nie. Gister was dit harde die werk om vir Maja aan die las vas te maak en vanoggend is dit weer sukke tyd. Weer harde werk om al die toue weer los te maak.

Oggendskoot - Glinster

Ons gaan eers na Göcek om ons swartwater te laat uitpomp. Na die grillerige doenigheid, draai ons om en gaan na Wall Bay, 12 myl, wat ook nog is Skopea Limanı is.

Op pad na Wall Bay

Ons kry ’n ankerplek. Archie tru en ek gooi die anker. Al die toue lê gereed vir Archie om dit land toe te swem. Die anker byt, ek vat die helm oor en Archie duik. Dis ’n lang swem en die 50 m blerrie tou is nie lank genoeg nie. Hy swem die 50 m terug, klim op Maja, kry ons weer op die regte plek en duik met ’n minder sierlike boog, (want hy is moeg) en swem weer land toe, met ’n langer tou. Dié keer is dit lank genoeg en ons is vas. Toe is daai man moeg van al die geswem.

Maja in Wall Bay
Die bure braai

Dis pragtig hier by Wall Bay, kristalhelder blou water, mooi bos voor ons, sneeuberge daar vêr. In die suidelike deel van die baai is ’n antieke muur wat strek oor die landengte na die see aan die ander kant. Ons klim in Dinkie en gaan stel nadere ondersoek in. Seker dele van die muur is nog baie hoog en in ’n goeie toestand.

Voet aan wal

Ons bewonder die muur en stap vêrder na Ruin Bay (Hamman Köyü). Daar word beweer dat dit Cleopatra se baddens was, maar ander sê weer dit kan nie waar wees nie. So, glo maar wat jy wil. Die ruïnes staan met hulle voete in die helder water. Ek staan in verwondering daarna en kyk en wonder weereens oor die mense van lank gelede.

Antieke muur
Woud paadjie
Ruin Bay
Maja

Die boek sê hier is rukwinde in die baai en dit is die waarheid. Ou Gus ruk die jag langs ons se anker los, maar die res van ons se ankers hou. Gus word gou moeg en gaan kruip vroeg in.

Ons geniet ons verblyf hier in Wall Bay, die muur, die dennebos, vissies wat in die water baljaar en selfs ’n uil wat roep. En gaan slaap in die windlose aandstilte.

Monday, May 15, 2017

Ortisim Bükü. Skopea Limanı


14 Mei 2017. Sondag.

Gelukkige Moedersdag!

Pilloried Cove tot Ortisim Bükü

Ons plan is om na Boynüz Bükü te gaan en ankerplek daar te soek. Onder geen omstandighede wil ek by hulle restaurant kaai vasmaak nie. Na verlede jaar se slegte, duur kos, is ek klaar met hulle. Ons maak Maja los van die boei en vertrek.

Die rit is kort en ons draai by die ingang van die baai in. Maar helaas, die ankerplek is oorvol en ons draai maar in ons spore in en gaan na Ortisim Bükü, 7.5 myl. Ons gooi anker en Archie neem die tou met Dinkie (onder enjin) land toe, Maar is dit ’n gesukkel. Dinkie volg haar eie kop en rigting, die tou dreig al om in die propeller te kom. Die sirkels wat hy gooi om hom en sy tou by die land uit te kry, laat Mr. Bean na ’n amateur lyk. Nee wat, swem sou baie vinniger gewees het. Gelukkig is dit windstil, anders sou dit nogal kon gelol het. 

Ingang
Ortisim Bükü

By die land maak hy die tou aan die “bollard” vas. Die ander tou swem hy sommer land toe. Natuurlik duik hy met ’n sierlike boog in die water in. Die see is nog steeds koud. Ek meet die watertemperatuur met my knieë. As hulle binne koud kry, weet ek die water is baie koud. Vandag is daai water koud, want die vreemde voorwerpe in my knieë vertel my.

Swemmer

Ons bring die dag rustig op Maja deur, want daar is geen voetpaadjies in die baai nie. Die aand versondig Gus my siel tot 0:30 en toe gaan slaap ek.

Saturday, May 13, 2017

Pilloried Cove.

12 en 13 Mei 2017. Vrydag en Saterdag.

Fethiye tot Pilloried Cove

Die anker het behoorlik gebyt. Hy kom vol modder uit die water. Op is hy en weg is ons na Pilloried Cove, 13.8 myl in die Skopea Limanı. Ons vaar die hele pad, want Gus gedra hom baie stil. Vêr, in die berge na Fethiya se kant toe, pryk die sneeu nog skitterwit en glinster in die oggendson.

Sneeuberge

Ons vaar reguit na Pilloried Cove, in die Sarsala Büku, want daar is boeie om te gryp. Dan hoef jy nie te anker nie. Ek skuif agter die helm in en vaar reguit op die boei af en Archie moet dit gryp. Dis swaar en Archie moet al sy armspiere inspan om die ding uit die water te lig. Dan moet die tou deur die boei se ring kom en word dan aan Maja se snoet vasgemaak. Archie gaan maak later Maja se agterstewe met ’n tou aan die land vas, want al wat ’n groot boot wil ook vanaand hier oornag.

Die Kaptein …
… kry die boei …
… en maak Maja vas

Ek is deesdae ’n oorblywende Sigeuner, want ons bly twee dae hier. (En ons het drie dae in Fethiye oorgebly). Te lekker. Rustig. Dis nie elke dag oppak en nuwe heenkome vind nie.

Ons staan rustig op en later die middag gaan stap ons ’n deel van die Sarsala staproete na Wall Bay. Ons stap tussen die bome, oor klippe en rotse, met elke nou en dan ’n mooi uitsig. Ou Maja lê daar in die baai, rustig en tevrede tussen haar vriendinne.

Maja in die baai (4de van links)
Uitsig

Archie stap lekker vinnig voor en ek kom agterna. My spoed is nog nie wat dit moet wees met my nuwe knieë nie. Maar dis heerlik om so in die natuur op droë grond te stap. Deel te word van die vlinders en toktokkies wat die roete met ons deel.

Woudnimf

Ons kom aan die einde van ons staproete en Skopea Limanı lê pragtig voor ons, omring met berge wat in die plasse water staan. Enkele seiljagte seil skuins-skeef na êrens. Stippels wit in die blousel blou baai. Almal is altyd op pad. Soos verbygaande skepe …

Skopea Limanı

Ons stap terug, stil tevrede. Ons klim in Dinkie, die enjintjie vat en ons spoed terug na Maja. En ons is tuis, want Maja is huis.

Friday, May 12, 2017

Fethiye.



9 tot 11 Mei 2017. Dinsdag tot Donderdag.

Kalkan tot Fethiye

Ons staan behoorlik saam met die hoenders op. Ons het ’n vêr pad om te ry, 41 myl na Fethiye. Dis die Sewe Kape vandag. Ons trek die anker 06:00 op en hoop vir die beste. En wonder bo wonder, die anker lig sonder enige probleme. Wat ’n verligting!

Die wind waai van agter en die see is groot. Die golwe rol van agter af, haal ons in en rol onder ons deur. Dan ry ons op die kruin van die golf en anderkant af. Gelukkig voel dit nie so erg as dit van agter afkom nie. Ons hoop net die wind word nie te sterk nie. Ons is so dankbaar vir die agterwind wat tussen 19 tot 30 knope waai. Ons sit natuurlik ewe “opgedress” met ons lewensbaadjies op Maja. En ons knaag te heerlik aan die droëwors en biltong wat Gerrie vir Archie vir sy verjaardag gegee het.

Eet Gerrie se droëwors

Die dag is grys-grou. Dof en onduidelik. Die son kruip weg en dit wil-wil reën. Wolke vul die uitspansel. Die Kape se kake kruip dreigend in die see. Ons seil stadig maar seker verby die een Kaap tot die volgende een, totdat ons al sewe agterlaat. Maja seil voort, net met die bollende genoa. En ons seil saam vir 3h45min.

Oggendskoot - Grys-grou

Ons is dankbaar dat dit so goed gaan. Halfpad. Die son is nog steeds nêrens te sien nie. Die see lyk nors en onvriendelik. Die berge lyk doer vêr van die dynserigheid. En ons vaar maar net vorentoe, altyd vorentoe. Stadig, maar seker. Myl vir myl, knoop vir knoop.

Ons gaan om die draai en pak die laaste 15 myl aan na Fethiye. Die pad word nie korter nie, maar al hoe langer. Uiteindelik is ons in die beskutte baai en ons soek plek om anker te gooi. Maar byt is verniet. Toe die anker na die vierde probeerslag byt, blaas die hawepolisie hul fluitjie en sê ons moet skuif. Ons gooi weer  en hy byt net-net, nadat Archie ’n ruk met die anker tru en hy uiteindelik in die modder vasgryp. Wel, ek het die een en ander matrooswoorde geuiter.

Ingang tot Fethiye Baai

Annemarie en Brian kom later ook hier aan en gooi anker. Maar ons is eers baie moeg en gaan slaap vroeg, nadat ons heerlike warm bredie en potkoek (soos my ma altyd die kluitjies genoem het) geëet het.

Groenboontjie met potkoek (kluitjies)

Die volgende oggend staan ons laat en uitgerus op en gaan dorp toe. Ons het inkopies om te doen en die aand kom kuier Brian en Annemarie vir ons op Maja. Dis heerlik om mense in die vreemde te leer ken en kuiergaste te kry. Ons slaap vir drie nagte in Fethiye.

Brian en Annemarie kom kuier
Skemerkelkies