15 Mei 2017. Maandag.
 |
Ortisim Bükü tot Wall Bay |
Ai, ’n kaptein se werk is nooit klaar nie. Gister
was dit harde die werk om vir Maja aan die las vas te maak en vanoggend is dit
weer sukke tyd. Weer harde werk om al die toue weer los te maak.
 |
Oggendskoot - Glinster |
Ons gaan eers na Göcek om ons swartwater te laat
uitpomp. Na die grillerige doenigheid, draai ons om en gaan na Wall Bay, 12
myl, wat ook nog is Skopea Limanı is.
 |
Op pad na Wall Bay |
Ons kry ’n ankerplek. Archie tru en ek gooi die
anker. Al die toue lê gereed vir Archie om dit land toe te swem. Die anker byt,
ek vat die helm oor en Archie duik. Dis ’n lang swem en die 50 m blerrie tou is
nie lank genoeg nie. Hy swem die 50 m terug, klim op Maja, kry ons weer op die
regte plek en duik met ’n minder sierlike boog, (want hy is moeg) en swem weer
land toe, met ’n langer tou. Dié keer is dit lank genoeg en ons is vas. Toe is
daai man moeg van al die geswem.
 |
Maja in Wall Bay |
 |
Die bure braai |
Dis pragtig hier by Wall Bay, kristalhelder blou
water, mooi bos voor ons, sneeuberge daar vêr. In die suidelike deel van die
baai is ’n antieke muur wat strek oor die landengte na die see aan die ander
kant. Ons klim in Dinkie en gaan stel nadere ondersoek in. Seker dele van die
muur is nog baie hoog en in ’n goeie toestand.
 |
Voet aan wal |
Ons bewonder die muur en stap vêrder na Ruin Bay (Hamman
Köyü). Daar word beweer dat dit Cleopatra se baddens was, maar ander sê weer
dit kan nie waar wees nie. So, glo maar wat jy wil. Die ruïnes staan met hulle
voete in die helder water. Ek staan in verwondering daarna en kyk en wonder
weereens oor die mense van lank gelede.
 |
Antieke muur |
 |
Woud paadjie |
 |
Ruin Bay |
 |
Maja |
Die boek sê hier is rukwinde in die baai en dit is
die waarheid. Ou Gus ruk die jag langs ons se anker los, maar die res van ons
se ankers hou. Gus word gou moeg en gaan kruip vroeg in.
Ons geniet ons verblyf hier in Wall Bay, die muur,
die dennebos, vissies wat in die water baljaar en selfs ’n uil wat roep. En
gaan slaap in die windlose aandstilte.
Halo julle! Sjoe die baaie is darem maar pragtig! Geniet elke oomblik! Xxx Elize
ReplyDeleteJa, dit was 'n mooi baai met 'n pragtige stap deur die bos.
ReplyDelete