Monday, September 19, 2016

Kemer. Nuwe vriende.



16 tot 18 September 2016. Vrydag tot Sondag.

Wat ’n luukse! Elke aand ’n stort waar ek sommer baie water kan gebruik. Ons is nou behoorlik silwerskoon en ruik te heerlik.

Ek en Archie is elke dag besig om dinge op Maja agtermekaar te kry vir die winterslaap. Alles moet gewas word. Die matte word gewas, Maja word gestofsuig en alle skoon goed word in plastieksakke toegemaak en weggesit vir die winter. Die lyne is elke dag vol wasgoed.

Archie haal die toue af en laat dit week in vars water. Dinkie word gewas en ek skrop die fenders. Oliefilters en dieselfilters word vervang. Die seewater verkoeling sisteem word met vars water uitgespoel.

Toue week in Dinkie

Die toiletklep het vandag besluit om te breek en uit die sweet van sy aangesig maak Archie dit ook gou reg. Nie so gou nie, want na 'n lang gesukkel en is dit uiteindelik reg.

Maak toiletklep reg
 
So is ek nog so besig tussen die stofdampe toe Archie my roep van buite af. Hier staan hy met ’n vroumens wat hy êrens opgetel het. Sy glimlag breed. “Dis Annemarie”, sê hy. Sy het gesukkel om van hul boot af te kom met ’n sak wasgoed, toe help die ridderlike Archie haar. Sy vra toe waarvandaan hy kom en wil jy nou meer! Hulle kom toe ook van S.A. af en nogal van Krugersdorp.

Wel, so ontmoet ons toe vir Brian en Annemarie Glover van Suid-Afrika. Dis ’n oor en weer geselsery en hulle nooi ons om die aand saam met hulle by Has Kebap Restaurant te gaan eet.

Archie moet olie gaan koop en dis vêr soontoe. Brian verduidelik waar die motorhawe is en leen sommer sy fiets vir Archie. En daar trek hy en trap dat dit so bars om sy inkopies te gaan doen. Hy lyk goed met die fiets. Dit pas hom.

Dorp toe
 
Die aand 19:00 stap ons na die restaurant en eet heerlik. Annemarie eet ’n hoender kasserol en ons ander eet hoender steaks. 

Pofbrood
Annemarie en Brian Glover
 
Die volgende dag is dit weer net werk werk werk. Ons nooi hulle die aand vir ete. Ons is op die laaste van ons voorrade en ek maak heerlike pasta en pesto, met ’n groot bak slaai en jellie as nagereg. Wat ’n gesellige aand.

Vriende op Maja
 
Die volgende vertrek hulle en dis koebaai. Ons sal hulle volgende jaar weer sien, want hulle oorwinter ook in Kemer.

Koebaai. Sien volgende jaar.

Saturday, September 17, 2016

Antalya.



15 September 2016. Donderdag.

Vandag besoek ons Antalya. Ons klim die bus en daar trek ons en ry tussen baie mooi berge.

Antalya was gestig deur Koning Attalus II in 158 v.C. Hy het net vir ’n kort tyd regeer en die stad is oorgeneem deur seerowers. Daarna het die Romeine die stad regeer en dit het ’n belangrike hawe geword.

Die Selçuk Turke het Antalya in 1207 oorgeneem. Die “Fluted Minaret” wat langs die hawe geleë is, is ’n perfekte voorbeeld van die Selçuk argitektuur. 

Archie met "fluted minaret" in agtergrond
Ou Hawe
Ou Hawe

Die Ottomans het in 1387 die stad oorgeneem. Na die Eerste Wêreldoorlog, het Italië dit oorgeneem, maar in 1921 het Atatürk se weermag die stad oorgeneem en dit het die hoofstad van die Antalya Provinsie geword.

Vir die meeste besoekers is dit heerlik om net in die besige strate rond te dwaal en te verdwaal. Die oustad se geboue is meestal gerestoureer en goeie voorbeelde van Griekse en Ottoman argitektuur.

Hawe met ou stad se muur
Sambreel straat
Groot bonsai

Ek en Archie dwaal in die Kaleiçi (ou dorp) rond en geniet die gesellige atmosfeer wat die oustad vir ons bied. Baie gulets en ekskursie bote neem agies op daguitstappies om die mooi Antalya se kus te besoek.

Ekskursie boot
Unieke boumateriaal
Kesik Minare ("Truncated Minaret")
"Hadrian's Gate"
Hıdırlık Kalesi (Ligtoring)
Romeinse tempel

Ons vaar met die seebus terug na Kemer en word beloon deur die mooiste sonsondergang wat ek deur die seebus se vensters verewig. Wat ’n heerlike dag.

Seebus
Sonsondergang

Kemer.



14 September 2016. Woensdag.

2016 roete
Phaselis tot Kemer
 
Die kaptein verras my met pannekoek vir die laaste seil oggend. Dit smaak vorentoe.

Kaptein Pannekoek
 
Vandag is ons laaste dag op see. Ons is op pad na Kemer, 8.2 myl. Ons verlaat die rustigheid van die baai. Die antieke stad sluimer tussen die bome, die gulets is nog lank nie in sig nie.

Dis nou net vir laaste anker van die seisoen optrek en weg is ons. Die wolke hang swaar oor die berg en doer vêr in die oop see lyk dit of ’n lekker reënbui daar uitsak. 

Eerste reënstorm
 
Die kaptein is baie hartseer, want dis sy laaste dag op see en hy kan nie eers seil nie. Gus waai liggies van voor en Maja se enjin prrr geduldig na ons laaste bestemming. 

Seerowerskip en wit kranse
 
Sommer gou lê die marina voor ons en ons roep oor kanaal 73. Ons moet eers die swartwater uitpomp. Ons meer langs die dieselkaai vas en ’n marina skare van vier heet ons welkom. Name word uitgeruil en blad word geskut. Ons voel toe sommer baie welkom.

Daar's die marina
 
Een van die manne kom sommer aan boord om met die vasmeer te help. Ek is totaal oorbodig, want die man doen alles. Sowat van goeie diens! Die beste wat ons nog gehad het.

Toe is alles klaar. Ons is by Maja se oorwinter huis. Dit voel snaaks. So asof nog iets moet gebeur, of nog ’n baai besoek moes word, nog ’n anker, nog ’n kaai. Maar hier is ons in Kemer, tussen die majestueuse berge. 

Kemer Marina
Marina
 
Hier gaan ons vir ’n week bly om alles reg te kry vir Maja se winterslaap.

Friday, September 16, 2016

Phaselis. Antieke stad.



13 September 2016. Dinsdag.

Vandag besoek ons die antieke stad van Phaselis. Die koloniste van Rhodes het dit vroeg in 7de eeu v.C. tot stand gebring. Die gebied se rykdom het gekom van die verskeping van hout, roosolie en parfuum. Die stad is in 333 v.C. deur Alexander die Grote oorgeneem, maar daarna was dit semi-onafhanklik onder Roomse jurisdiksie.

Die stad lê in die skadu’s van dennebome en is omring deur drie klein perfekte baaie. Die fondasies van die gesonke hawe is nog duidelik te sien.

Gesonke hawe
 
Ons stap in deur Hadrian’s Gate. Die agora is geleë naby die suidelike hawe en die straat wat van die noordelike hawe kom, is pragtig. Daar is ook uitgebreide baddens en die oorblyfsels van die stad se akwaduk.

Hadrian's Gate
Ou ingang
Die pad na die hawe
 
Die teater, wat hoog teen die kant van ’n koppie lê, is nog in ’n goeie toestand. Daarvandaan kan jy op die pragtige hoë berge wat trots in die vêrte staan, uitkyk.

Teater met die Tahtalı berg in die agtergrond
 
Ons sien die gesonke breekwater baie duidelik en is vreeslik bly ons het nie daaroor gevaar nie. Maja lê vreedsaam in die baai vir ons en wag.

Marieks by die gesonke breekwater
Suiderlike hawe