Monday, August 8, 2016

Turkye. Datça. Ons groet.



4 Augustus 2016. Donderdag.

Symi tot Datça
 
Vandag verlaat ons my geliefde Griekeland wat my die jaar so beproef het met die alewige Gus en vertrek na Turkye. Dis Elize en Fanie se laaste dag op Maja. Ons is almal moeg en stil na die aand se slegte slaap.

Dis net 10.7 myl na Datça, 36°43.339 N, 27°41.282 O. Fanie sit soos gewoonlik voor op Maja se snoet en sonbaai vir oulaas. Elize gaan sit later by hom, ewe vaak.

Laaste Griekse kerk
Vir oulaas op Maja se snoet
 
Gou-gou is ons by Datça en dan is dit inklok. Elize-hulle moet ’n bus klim na Selçuk vir die tweede been van hul vakansie. Die polisievrou is vriendelik, maar sy sê ons moet ’n agent kry om ons in te klok.

Elize-hulle is haastig, maar ons sal geduldig moet wag vir die agent. Die bagasie staan gereed vir gryp en gaan, maar ons wag en wag vir die agent. Eers 16:00 kry ons die paspoorte en dokumente terug en Elize en Fanie kan hul 16:30 bus na Aydin klim. 

Klaar gepak
Daar gaan hulle
 
En skielik is hulle weg. Maja voel leeg en kaal. Elize is nie meer langbeen op die dek nie en Fanie is nie daar om gou ’n entjie te gaan draf nie. Ons is weer alleen leen leen. En dis nie lekker nie.


Symi. Symi Eiland. Dag 3.



3 Augustus 2016. Woensdag.
 
Elize en Fanie gaan vandag Rhodos toe met die veerboot. Veral Elize is baie opgewonde. Daar is baie om te doen in Rhodos. Ons stap saam met hulle na die groot lummel en sien hulle af. Eie aan familie tradisie waai ons vreeslik toe hulle vertrek.

Koebaai
 
Ek en Archie gaan stap ’n lekker lang ent langs die see terwyl die hitte nog draaglik is. Ons kyk na ankerplekke in die baaie. Seilers doen dit, hulle kyk altyd na ander seiljagte wat vasmeer en soek altyd na nog ankerplek.

Emborios Baai
Stap langs die see
 
Ons besoek ’n kerk op die heuwel en die kerk het weereens 'n mooi spoelklippie plein. Dit was seker baie werk om toentertyd die klippies so mooi te pak. Ons stap terug na Symi se mooi dorp en koop bietjie voorrade.

Kerk op die heuwel
Kerkplein
Klein boot hawe
Blou trappies

Dis al donker toe die veerboot terugkeer met twee moeë opgebruikte toeriste. (Elize, nie Fanie nie.) Ons klink vir oulaas glasies en eet die laaste maal saam. Ek het vir ons smelties (klein vissies) gemaak om te eet. Nou gaan ons skoonsuster, Ansu, hulle seker weer jammer kry. “ Ja, Ansu, ons het hulle almal opgeëet.”

Smelties vir Ansu
 
Die aand klink die musiek by Katoi, die kafe bar oorkant Maja harder as gewoonlik. Die oorverdowende lawaai, saam met die warm naglug van 32° C beroof ons van ons slaap en ons almal staan die volgende oggend op soos Russiese brombere met tandpyn.

Katoi Kroeg




Wednesday, August 3, 2016

Symi. Symi Eiland. Dag 2.



2 Augustus 2016. Dinsdag.

Vroegoggend Symi
 
Die twee susters gaan vandag trein ry. Fanie is berg-op en Archie is ook berg-op. Ons wag en die trein is teen 11:30 volgepak en daar trek ons. Vrolike Griekse musiek vul die straat soos wat ons ry. Die tipe trein wat sommer in die straat ry, nie op straat nie. Al die omstanders geniet dit as die trein verbyry. Hulle swaai die lywe en glimlag. 

 Ons treindrywer doen op 'n stadium Zorba's dans buite die trein terwyl ons ry en almal geniet dit en lag heerlik. Sowat van vrolikheid! Die dogtertjie wat tussen ek en Elize sit, kyk net strak voor haar uit.

Ons ry die trein
Zorba's Dance
 
Ons ry op die rand van die see en sien ’n panoramiese uitsig. Die trein stop en ons kan uitklim om foto’s te neem. Ai, ons geniet die treinrit terdeë. 

Uitsig
 
Elize en Fanie gaan swem. Dit is warm. Dit is baie warm.

Die aand neem Elize en Fanie ons uit vir die dankie sê ete by Taverna Trata. Archie en Fanie eet ’n “mix grill for two” en ek en Elize eet ’n “seafood for two”. Die kos is heerlik en ons voel baie bederf. Die aand word afgesluit met ’n heerlike roomys wat Fanie vir ons koop en ons sit op ’n bankie by die see en lek en suig aan die roomyse.

Die Manne
Die Meisies
"Dankie vir die heerlike ete, Fanie en Elize"
 
Elize is betower deur Symi in die aand en ons meisies gaan stap ’n ent in die dorp. Dit is ’n gelukkige dorp met gelukkige mense. En ons is deel daarvan.

Symi. Symi Eiland.



1 Augustus 2016. Maandag.

Roete tot op datum
Panormitis tot Symi
 
Vandag gaan ons na Symi se hoofdorp, 36°36.937 N, 27°50.233 O, 12.2 myl. Symi het ’n indrukwekkende kuslyn. Hoë berge troon bokant die water uit. Skeure en valleie en ravyne reik tot aan die see en verdwyn, word deel van die onderwêreld. ’n Wêreld van nat en see.

Thessalona Baai op pad na Symi
 
Ons gaan om die draai en Symi kruip weg, skaam en sku. Ons vaar eers ’n ent vêrder en toe verwelkom die pragtige Symi ons met sy warm, pragtige kleurvolle huise en geboue. 

Symi

Die hawe is nogal leeg en daar is baie plek vir ons. Kyk, hierdie plek is ’n prima gekruisde anker gebied. Ons gooi ons anker en ons is vas. Elize en Fanie gaan sommer dadelik dorp toe, want Elize moet die hele dorp “doen”. Ek en Archie wag tot dit koeler is, wat eintlik nooit gebeur nie. Dit is 38° C in die dag en 32°C in die nag.

Ek en Archie gaan stap en klim by ’n klomp trappe op om ’n uitsig oor die baai te kry. Bo gekom word ons verwelkom deur ’n slangetjie. So klein as wat hy is, sis-blaas hy astrant vir my. Sy mond is gelukkig nog te klein vir ’n appel om my mee te verlei. Archie is veilig! Ek gaan hom nie probeer verlei nie.


Slangetjie
Uitsig oor hawe
Maja by die kaai (tweede van links)
Hawe
 
Die boek sê almal raak verlief op Symi en dit is die reine waarheid. Dit is ’n pragtige dorp. En ek kan sien Elize is klaar verlief. Die aand woon ek en Elize die konsert van die Symi Fees by wat eers 22:00 afskop. Dit is ’n uitstekende konsert en ons gaan eers na 00:00 huis toe.

Wat ‘n fees.