Friday, July 22, 2016

Pothia. Kalymnos Eiland.



21 en 22 Julie 2016. Donderdag en Vrydag.

Xirokampos Baai tot Pothia, Kalymnos

Ek is moeg vir Gus. Ek wens hy wil ook moeg word, dan kan ons al twee gaan lê. Ons is ’n dagreis van Kalymnos af en vandag is die dag. Ons gaan na Pothia, die hoofdorp van die eiland, 36°57.058 N, 26°59.189 O, 18.7 myl.

Ons durf die see aan en die is aan die rol. Die deinings dein op en neer en ons dein heen en weer. Gelukkig nie so erg soos nou die dag nie. Natuurlik span ons ’n seil. Twee jaar terug het ek mos ’n liedjie gekomponeer. Dit is op hierdie jaar van toepassing.

Span die seile, span die seile
Eers die hoofseil en dan die genoa
Span die seile, span die seile
Eers die hoofseil en dan die genoa.

Ons seil ons seil op die Aegean See
Die rowwe rowwe Aegean See
Die golwe, die golwe sleur ons mee
Op die rowwe, rowwe Aegean See.

Ons seil

Ons en ’n klomp ander jagte seil op die Aegean See. Myl vir myl vaar ons nader aan ons bestemming. Ons seil vir 2h20min. En daar is Pothia. Die volgende vraag is of daar plek by die kaai is. 

Seil op Aegean See
Voortvarend
Eensame kerkie
Klooster kerk

Daar is plek en die kaaiman beduie waar ons moet vasmeer. Dis nou ’n nuwe ding hier in Griekeland. ’n Man help jou in en dan moet jy vir hom 3.betaal. Ek gooi anker en Archie tru in. En vas is ons. Gereed vir Elize en Fanie wat Saterdag kom.

Pothia
Hawe kerk

Nou is dit boot was en skoonmaak en "spit and polish", want Queen Elizabeth kom kuier.

Ons kry darem die nuus dat Elize en Fanie veilig in Istanbul aangekom het en later dat hulle veilig in Turgutreis is. Sonder bomme of staatsgrepe of iets dergeliks.

Wednesday, July 20, 2016

Xirokampos Baai. Leros Eiland.



20 Julie 2016. Woensdag.

Partheni Baai tot Xirokampos Baai
Ons bekruip vir Kalymnos so skuil-skuil. Ons moet Saterdag vir Elize en Fanie daar kry. So vandag gaan ons die beskutting van Partheni verruil vir ’n ander baai, ook op Leros Eiland. Dis aan die suidepunt van die eiland. Xirokampos, 37°06.042 N, 26°52.320 O, is 11.9 myl.

Ons vaar by die baai uit en besef hoe die wind eintlik gewaai het. Reuse deinings kom na ons toe aangerol. Sulke smeulende deinings vol kurwes wat Maja verleidelik en verraderlik laat kantel. Gus is die waaiende metgesel en ek kry vir ons lewensbaadjies. So elke nou en dan is daar ’n ekstra grote wat so raak-raak aan die kant van die dek. Dan sê ek maar net kalm: ”Archieee!” 

Maar anders as in die ou dae, sing ek nie, ek vat dit soos dit kom en plaas dit in die kategorie waarin dit val. (Ons het op skool so gesê) Dit val dan ook in die kategorie van rowwe see. Maja vaar dapper voort, darem nie vir te lank nie. Toe kom die deinings van agter en nie meer van die kant nie. Dit gaan toe beter, maar daai golwe gooi ons steeds heen en weer. Ons span die genoa en seil vir meer as ’n uur.

Ons seil

Ons seil verby ou bekende plekke wat ons verlede jaar ook besoek het. Pandeli se kasteel staan trots hoog teen die berg en word as't ware een met sy berg. Die dorpie self is nog net so pragtig.

Pandeli se kasteel
Pandeli
Op pad na êrens

Ou Gus waai ook maar in die baai. Daar lê verleidelike boeie in die water wat mens kan gryp, maar die kaptein gee die bevel dat ons moet anker. Ek glo natuurlik ’n seil moet gereef word en ’n boei moet gegryp word.

Ek gooi toe maar gehoorsaam anker en maak seker dat dit goed byt vir die blerrie Gus.

Uitsig van Kalymnos
Xirokampos Baai
Laataand
Vissersbootjie
 
Elize en Fanie vlieg vanaand.

Partheni Baai. Leros Eiland.


18 en 19 Julie 2016. Maandag en Dinsdag.

Lera Lipsi tot Partheni

Ons moet al weer skuiling soek. Gus is op pad. Ons trek anker op en vat die pad na Partheni, 37°11.495 N, 26°48.364 O, 6.4 myl op Leros Eiland. Dis ’n baie beskutte baai met reg rondom skuiling. Die bodem is modder, so ’n anker hou.

Ons sien die wolke hang oor die berge daar in Samos se omgewing. Dit beteken net een ding. Gus soek moeilikheid. Hy begin vroeg al met sy streke, maar ons het nie vêr om te gaan nie en ons is voor hom by Partheni.


Wolke oor die berge van Samos

Dis sommer ’n vissersbaai, sonder enige pretensie, so gemaak en so laat staan. Ons gooi anker en maak seker hy byt goed en net toe ons vas is, vat Gus ons ook vas. Dit waai dat die kranse antwoord gee. Toue klap, maste sing, Maja swaai en draai. En ons draai saam. Gus hardloop met brute krag oor die water.

Dit gaan die hele dag so aan en ek en Archie lees maar boek. Gelukkig verstil Gus ’n bietjie in die nag en ek kan slaap. Die kaptein slaap in elk geval, soos gewoonlik, soos ’n flippen baba.

Partheni Baai

Die volgende dag skuil ons nog steeds. Lees maar boek, doen ’n werkie hier en daar en so gaan die dag verby. Gus waai, maar die windvlae is nie so hewig soos gister nie. 

Kaptein ontspan

Ons word darem ’n goeie nagrus gegun, waarvoor ek baie dankbaar is.