Wednesday, July 20, 2016

Xirokampos Baai. Leros Eiland.



20 Julie 2016. Woensdag.

Partheni Baai tot Xirokampos Baai
Ons bekruip vir Kalymnos so skuil-skuil. Ons moet Saterdag vir Elize en Fanie daar kry. So vandag gaan ons die beskutting van Partheni verruil vir ’n ander baai, ook op Leros Eiland. Dis aan die suidepunt van die eiland. Xirokampos, 37°06.042 N, 26°52.320 O, is 11.9 myl.

Ons vaar by die baai uit en besef hoe die wind eintlik gewaai het. Reuse deinings kom na ons toe aangerol. Sulke smeulende deinings vol kurwes wat Maja verleidelik en verraderlik laat kantel. Gus is die waaiende metgesel en ek kry vir ons lewensbaadjies. So elke nou en dan is daar ’n ekstra grote wat so raak-raak aan die kant van die dek. Dan sê ek maar net kalm: ”Archieee!” 

Maar anders as in die ou dae, sing ek nie, ek vat dit soos dit kom en plaas dit in die kategorie waarin dit val. (Ons het op skool so gesê) Dit val dan ook in die kategorie van rowwe see. Maja vaar dapper voort, darem nie vir te lank nie. Toe kom die deinings van agter en nie meer van die kant nie. Dit gaan toe beter, maar daai golwe gooi ons steeds heen en weer. Ons span die genoa en seil vir meer as ’n uur.

Ons seil

Ons seil verby ou bekende plekke wat ons verlede jaar ook besoek het. Pandeli se kasteel staan trots hoog teen die berg en word as't ware een met sy berg. Die dorpie self is nog net so pragtig.

Pandeli se kasteel
Pandeli
Op pad na êrens

Ou Gus waai ook maar in die baai. Daar lê verleidelike boeie in die water wat mens kan gryp, maar die kaptein gee die bevel dat ons moet anker. Ek glo natuurlik ’n seil moet gereef word en ’n boei moet gegryp word.

Ek gooi toe maar gehoorsaam anker en maak seker dat dit goed byt vir die blerrie Gus.

Uitsig van Kalymnos
Xirokampos Baai
Laataand
Vissersbootjie
 
Elize en Fanie vlieg vanaand.

No comments:

Post a Comment