Wednesday, July 20, 2016

Partheni Baai. Leros Eiland.


18 en 19 Julie 2016. Maandag en Dinsdag.

Lera Lipsi tot Partheni

Ons moet al weer skuiling soek. Gus is op pad. Ons trek anker op en vat die pad na Partheni, 37°11.495 N, 26°48.364 O, 6.4 myl op Leros Eiland. Dis ’n baie beskutte baai met reg rondom skuiling. Die bodem is modder, so ’n anker hou.

Ons sien die wolke hang oor die berge daar in Samos se omgewing. Dit beteken net een ding. Gus soek moeilikheid. Hy begin vroeg al met sy streke, maar ons het nie vêr om te gaan nie en ons is voor hom by Partheni.


Wolke oor die berge van Samos

Dis sommer ’n vissersbaai, sonder enige pretensie, so gemaak en so laat staan. Ons gooi anker en maak seker hy byt goed en net toe ons vas is, vat Gus ons ook vas. Dit waai dat die kranse antwoord gee. Toue klap, maste sing, Maja swaai en draai. En ons draai saam. Gus hardloop met brute krag oor die water.

Dit gaan die hele dag so aan en ek en Archie lees maar boek. Gelukkig verstil Gus ’n bietjie in die nag en ek kan slaap. Die kaptein slaap in elk geval, soos gewoonlik, soos ’n flippen baba.

Partheni Baai

Die volgende dag skuil ons nog steeds. Lees maar boek, doen ’n werkie hier en daar en so gaan die dag verby. Gus waai, maar die windvlae is nie so hewig soos gister nie. 

Kaptein ontspan

Ons word darem ’n goeie nagrus gegun, waarvoor ek baie dankbaar is.

No comments:

Post a Comment