Monday, June 6, 2016

Orei. Evia Eiland.





5 Junie 2016. Sondag.

Roete tot op datum
Aidipsos tot Orei

Dis ’n lang dag van 26 myl na Orei, 38°56.951 N, 23°05.182 O. Geen wind vir seil vandag nie. Maja vaar maar voort, met haar dreunsang wat soos musiek in my ore klink.

Stuurman se uitsig

Wolke, berge en see

Ons gaan deur ’n kanaal waar die diepste water 7 m is. Dis weer meet en pas en GPS-lyne en roetes en Archie stuur my vorentoe “to con the way through”. Dis eers links hou dan regs draai en heeltyd die dieptemeter dophou. Dis nogal senutergend as dit vlakker en vlakker word, 7.1 m, 6.6 m, 6.5 m! Groot is die verligting as dit weer stadig maar seker dieper word. Ons weet die roete is haarfyn uitgewerk, maar nogtans … 

Begin van vlak water
Mede-vaarder

Ons is deur die vlak en vaar voort. Later begin Gus van voor te waai en dit is skielik weer koud. Ek sit op die dek met my Elize-kombersie en voel hoe die warmte om my vou. Ons kom nader aan die hawe en alles word voorberei. Fenders word uitgesit en anker is gereed. Op die kaai staan twee mans klaar gereed om te help. Archie tru meesterlik en gee die opdrag: ”Gooi!” Onthou, ons skat mos afstand soos hond se gat. Ek gooi. Die anker loop, Archie tru, die manne wag.

Alles werk goed uit, die anker byt, ek het 40 m uitgegooi, die manne vang die toue en ons is vas. Die lekkerte as alles met ’n vasmaak vlot verloop, is prysloos!

Hierdie dorpie is die laaste stopplek voordat ons die Sporadiese Eilande binnevaar. Hier moet ons water en diesel kry. Dis maar ’n doodgewone plek. Tipies Evia, nie mooi nie, nie lelik nie. Ons stap maar rond en kyk ook hoe lyk die suidelike kaai.
Kyk vir Maja - vyfde seiljag van links
Noordelike uitsig vanaf Maja
Swemstrand

Na aandete gaan sit ek op die muur met musiek in my ore en tuur oor die baai. Dis windstil, net soos ek daarvan hou. Klein golfies rol op die strand uit, wolke vul die hemelruim, die vêr-af berge is dynserig en donsig. Alles vergrys tot aand. Dis net die son wat op die westerkim sy laaste lig werp om aan die dag vas te klou. Wat alles vir oulaas verkleur tot die mooiste kleurespel, voordat die aand sy regmatige plek inneem en baie later nag word.


Op die hawemuur
Kleurespel


Ons gaan nog 'n dag hier oorbly voordat ons die eilande tref.





Aidipsos.



4 Junie 2016. Saterdag.

Limni tot Aidipsos

Ons kom veilig deur die benoudste hawe en weg is ons na Aidipsos, 38°51.618 N, 23°02.336 O, 15.6 myl. Dis niks besonders nie, net vaar en vaar en seil vir 30 minute. Ons mik eers hawe toe, maar ek hou nie daarvan nie en ons anker in die baai.

Rustig seil

Aidipsos
Laat middag

Dis ’n heerlike windstil nag in die baai.

Friday, June 3, 2016

Limni. Dag 2.



3 Junie 2016. Vrydag.

Ons slaap lekker laat en het nêrens om heen te vaar nie. Ons bly vandag by Limni. Dit het lanklaas gebeur. Ons is mos seilende sigeuners, moet elke dag fort.

Vandag is dit die op op op pad na die kerkie daar bo. Dit staan so alleen daar teen die berg. Gewapen met stapskoene en stok is ek gereed. Ons stap aan die ander kant van die hawe en Maja lyk te pragtig daar teen die kaai met die gate.

Die kerkie daar bo
Maja teen die kaai met gate

Ons kry ’n pad na bo en stap heerlik. Sommer gou-gou is ons daar. Die blou deur steek pragtig af teen die wit van die kerk. Dit is bietjie verwaarloos. Ek dink nie kerkgangers kom meer hierheen nie.

Pad na bo
Wit kerkie
Blou deur
 
Die uitsigte van bo af is baie mooi. Die hawe is pragtig en benoud-klein en Maja is veilig aan die kaai vasgemaak. 

Uitsig oor Limni
 
Ons stap verder op en kom by ’n skool uit. Archie kyk gou of daar ’n afpad is en sowaar, daar is ’n bospad wat die kinders gebruik om skool toe te loop. Ons loop af terug na die dorp, terug huis toe. Op pad koop Archie ’n oortreksel vir Dinkie se motor. Dis hoog tyd, want die oue grens aan skande. 


Nee, sies man!
Dis beter
 
Archie bederf ons met pannekoek. Ons is honger na die stap en ek verslind sommer vier. Archie eet nog meer.
 
Later die middag loop ons weer in die dorp rond. Ek is mos ’n kerkmens en ons stap na nog ’n kerk toe. Die meeste kerke in Griekeland is altyd gesluit. Ons loop deur die huise en straatjies en geniet Limni terdeë.

By die kerk
Restaurant onder reuse ou plataanboon



Limni. Benoudste hawetjie.



2 Junie 2016. Donderdag.

Lagonisi Baai tot Limnis

Ons het n baie rustige nag beleef in Lagonisi Baai. Vandag gaan ons net oor die see na die volgende bestemming. Twee reuse dolfyne kom groet. Gus lê en ons motor al die pad daarheen.

Twee groot dolfyne
 
Die boek sê die hawe se ingang by Limni, 38°45.747 N, 23°19.381 O, 12.1 myl, “is a bit tricky” en wraggies, hy jok nie.

Limni
 
Die ingang slik toe en is baie vlak aan die een kant en jy moet skerp links draai om in te kom. So maak ons toe. Ek staan voor op Maja se snoet en sien net vlakte en benoudste noute. Dis veel erger as net ’n benoude spasie, Deon! Die ingang is klein, maar Archie draai skerp en in is ons. 
 
Benoude hawetjie

Toe is ons in, maar ons moet omdraai om langs die kaai vas te maak. Archie maak daar ’n drie-punt draai in daai klein hawe dat die perde horings kry. Hy kap daai draai soos hy in ’n boek gelees het om dit te doen. My mond is skoon droog. Nou is Maja in die regte posisie en ons vaar na die deel van die kaai wat vir jagte gereserveer is.

Die betonblad van die kaai staan op pilare met groot openinge tussenin wat veroorsaak dat daar nie oral oppervlak is waarteen die fenders kan stoot nie. Maja neig al om onder die kant van die kaai in te foeter, want dit is laagwater. Archie bring Maja tot teenaan die kaai, ek vat helm oor en hy klim af met die vasmaaktou. Maja moet nou in so ’n posisie wees dat die fenders teen die pilare stoot en nie in die gate nie. Dis afstoot en regstoot en tou trek en fenders skuif en vasmaak.

Gelukkig is dit windstil en die fenders word so geplaas dat hulle kan beskerm. En vas is Maja en ons is natgesweet.

Kleurespel

Maja - omgedraai,  vas en veilig

Maar is die dorpie pragtig. Ek kry sommer vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n vakansie gevoel, trek ’n rok aan en ons gaan dorp toe. Dis so tipies Griekse eiland, dat my tone omkrul van lekkerkry. Dis sekerlik een van Evia Eiland se juwele. Hier is tot ’n klomp toerbusse.

Dorp toe

Ons loop die dorpie plat. Dis karaktervol, ou huise, nou straatjies, nie net konkreetblokke soos in die meeste ander dorpe op Evia Eiland waar ons die afgelope weke was nie. Daar is so snaakse plat kerk wat in 1851 gebou is.

Mooi dorpie
Plat kerkie
Uitsig van noorde kant

Oral is die inwoners besig met hul daaglikse bestaan. Ou ooms sit op stoele en die tannies kook. Kinders spring in die water. Vissermanne staan en visvang. By 'n muur slaan 'n man die arme seekatte katswink. Eers teen n rots en daarna met 'n houtkolf.

Dis lekker hier. Ons gaan bietjie oorbly.