Friday, June 3, 2016

Limni. Benoudste hawetjie.



2 Junie 2016. Donderdag.

Lagonisi Baai tot Limnis

Ons het n baie rustige nag beleef in Lagonisi Baai. Vandag gaan ons net oor die see na die volgende bestemming. Twee reuse dolfyne kom groet. Gus lê en ons motor al die pad daarheen.

Twee groot dolfyne
 
Die boek sê die hawe se ingang by Limni, 38°45.747 N, 23°19.381 O, 12.1 myl, “is a bit tricky” en wraggies, hy jok nie.

Limni
 
Die ingang slik toe en is baie vlak aan die een kant en jy moet skerp links draai om in te kom. So maak ons toe. Ek staan voor op Maja se snoet en sien net vlakte en benoudste noute. Dis veel erger as net ’n benoude spasie, Deon! Die ingang is klein, maar Archie draai skerp en in is ons. 
 
Benoude hawetjie

Toe is ons in, maar ons moet omdraai om langs die kaai vas te maak. Archie maak daar ’n drie-punt draai in daai klein hawe dat die perde horings kry. Hy kap daai draai soos hy in ’n boek gelees het om dit te doen. My mond is skoon droog. Nou is Maja in die regte posisie en ons vaar na die deel van die kaai wat vir jagte gereserveer is.

Die betonblad van die kaai staan op pilare met groot openinge tussenin wat veroorsaak dat daar nie oral oppervlak is waarteen die fenders kan stoot nie. Maja neig al om onder die kant van die kaai in te foeter, want dit is laagwater. Archie bring Maja tot teenaan die kaai, ek vat helm oor en hy klim af met die vasmaaktou. Maja moet nou in so ’n posisie wees dat die fenders teen die pilare stoot en nie in die gate nie. Dis afstoot en regstoot en tou trek en fenders skuif en vasmaak.

Gelukkig is dit windstil en die fenders word so geplaas dat hulle kan beskerm. En vas is Maja en ons is natgesweet.

Kleurespel

Maja - omgedraai,  vas en veilig

Maar is die dorpie pragtig. Ek kry sommer vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n vakansie gevoel, trek ’n rok aan en ons gaan dorp toe. Dis so tipies Griekse eiland, dat my tone omkrul van lekkerkry. Dis sekerlik een van Evia Eiland se juwele. Hier is tot ’n klomp toerbusse.

Dorp toe

Ons loop die dorpie plat. Dis karaktervol, ou huise, nou straatjies, nie net konkreetblokke soos in die meeste ander dorpe op Evia Eiland waar ons die afgelope weke was nie. Daar is so snaakse plat kerk wat in 1851 gebou is.

Mooi dorpie
Plat kerkie
Uitsig van noorde kant

Oral is die inwoners besig met hul daaglikse bestaan. Ou ooms sit op stoele en die tannies kook. Kinders spring in die water. Vissermanne staan en visvang. By 'n muur slaan 'n man die arme seekatte katswink. Eers teen n rots en daarna met 'n houtkolf.

Dis lekker hier. Ons gaan bietjie oorbly.

No comments:

Post a Comment