Saturday, May 21, 2016

Nafplio.



20 Mei 2016. Vrydag.

Roete tot op datum
Drepanou Baai tot Nafplio
 
Hemel, maar dis koud. Gus is beswaarlik ’n briesie, maar daai briesie het hy in die Noordpool gaan haal! Dit voel soos winter. Waar Gus ’n gaatjie kry, klim hy in. Ek maak my met ’n kombersie (wat nog deur Elize en Annette geskenk is) toe dat net my oë uitsteek. Selfs die kaptein het ’n kombersie oor die knieë. Die son is verskuil agter die wolke.

Sjoe, maar dis koud

Ons is op pad na Nafplio, 37°34.068 N, 22°47.970 O, 10.1 myl. Ons het vroeg begin vaar, want ons wil vandag na die Teater van Antieke Epidauros gaan. 

Ruwe kuslyn

Naby Nafplio is die ou stad se kasteel van die see se kant af te sien. Die mure word een met die berg en die kasteel staan trots op die ander koppie. As die weer dit toelaat, wil ons dit graag besoek. Die ingang van die hawe word versier met ’n nog ou fort op sy eie eiland.

Palamidhi Fort
Eiland Bourtzi se fort

Almal is die hawe is alongside vasgemeer en ons kry vinnig die toue reg. Twee helpers staan klaar op die kaai gereed om die toue te vang. Een van hulle is die Engelsman wat saam met ons by Korinte en Korfos was. Hy glo vas ons agtervolg hom. Die toue word gegooi en vasgemaak. Baie maklik, daar waai geen wind nie.

Vandag is net gedeeltelik bewolk, so ons klim die 10:30 bus die Antieke Epidauros. Dit was na bewering die beste sentrum van gesondheid in die antieke wêreld. Hier het hulle die gode van gesondheid  in die pre-historiese tydperk en daarna aanbid.

Na sowat ’n uur se ry is ons daar. Dit wemel van toeriste. Die weer is dik en die wolke laag. Ons gaan eerste na die alombekende teater, wat die mees perfekte monument van sy soort is. Die akoestiek is besonders, dis elegant met pragtige simmetrie. Daar word gereeld uitvoerings in die teater gehou. ’n Toeris sing ’n stuk van O Solo Mio en die skare gee hom ’n dawerende applous. 

Teater
Wag vir Ansu om te sing
Die teater is so vol gepak soos 'n ANC Indaba

Daarna is dit museum toe. Daar is baie oudhede uitgestal wat uit die Romeinse tyd kom. Ek kyk na die beelde sonder koppe. Dis jammer dat die koppe altyd eerste verweer en afval.

Moenie kop verloor nie!

Die banketsaal is oorspronklik 300 v.C. gebou. Dit was ook in latere jare weer herbou.

Banketsaal

Daarna kyk ons na die Abaton. Hier is die siekes eers gereinig. Daarna het hulle offerande gegee en dan moes hulle gaan slaap dat die gode in ’n droom aan hulle verskyn en hulle gesond kan maak. Of aandui wat se behandeling hulle moet ondergaan.

Die Abaton (kyk die verspotte hoed)

Daar was ook ’n stadion wat 180 m lank en 22 m breed was. Hier het die gesondes resies gehardloop.

Die Stadion

Die beste deel van die baie duur uitstappie (€12 per persoon toegang, amper R400) was die Teater, die res was meestal net klippe wat rondlê. Ons stap 1.5 km terug waar die bus ons oplaai en ry terug na Maja. Daar is net twee bote alongside, die ander staan almal gatkant kaai toe.

Dis al amper skemer, toe daar ’n harde klop aan ons venster is. Dis die hawe polisie. Hy sê ons moet skuif, want daar kom ’n groot boot. Ek is dadelik de moer in. Nou waai Gus, dit reën saggies en ons moet skuif. Ons maak toe maar los en kry die anker en alles reg. Op die kaai staan die helpers gereed vir toue vang. Archie tru, ek gooi anker. Maar o wee! Te vêr van die kaai en ons het nie genoeg ankerketting nie. Weer anker optrek. Die kaai helpers hou ons met ’n arendsoog dop. Ons gooi weer en die keer daarin net-net genoeg ankerketting. Wanneer gaan ons leer om afstand  korrek te skat?

Hulle voorspel reën vir môre.

Thursday, May 19, 2016

Drepanou Baai



19 Mei 2016. Donderdag.

Koiladia tot Drepanou Baai

Ons trek anker op en die baai is ’n spieël. Koiladia weerkaats in die water. Geen teken van Gus nie, so Maja vaar rustig ritmies voort na Drepanou Baai, 37°32.137 N, 22°55.247 O, 13.0 myl.


Die baai is 'n spieël
Oggendskoot


Al weer anker. Daar is baie permanente vasmeerboeie in die baai en ons moet seker maak ons gooi ons anker vêr genoeg van hulle af. Jy wil nie hê jou anker moet aan ’n sementblok of dik ketting vashaak nie. Die anker byt en ons het huisvesting vir die aand. 

Ligtoring en kerkie by baai ingang
Ruïne van Venesiese fort

Dis sommer net ’n klein, vriendelike dorpie. Aan die een kant is die baai en aan die ander kant is die lagoon. Soos gewoonlik verken ons die plekkie en gaan stap ook langs die lagoon. Ons sien seebone wat langs die lagoon groei en pluk dadelik daarvan vir vanaand se slaai.

Drepanou Baai
Maja en ek
Archie en seemonsters

Jy blansjeer dit net in kookwater en koel dit in koue water af, en gooi dit in jou slaai. Dit is baie souterig, so wees versigtig met daai soutpot. Ons eet sommer pasta met geblikte calamari met die lekker bak slaai.

Pluk seebone
Seebone-slaai

Dis rustig en vreedsaam in die baai. Daar is vog om die maan.

Koiladia. Franchthi Grot


18 Mei 2016. Donderdag.

Portocheli tot Koiladia
 
Gumnuts is weg toe ons opstaan. Ons anker gaan op en die sigeuners val in die pad. Na die volgende onbekende stopplek wat nadat daai anker geval en gebyt het, verander na die bekende. “Home is where the anchor drops”. En vandag is dit Koiladia, 36°24.945 N, 23°07.857 O, 12.3 myl.

Gus waai lui-lui, maar ons nuwe seilkennis word dadelik ingespan en die seile word gespan. En ons seil. Die kaptein glimlag breed. Martin het darem gesê dat Archie se basiese kennis van seil is baie goed! Hy het ’n baie goeie idee wat om te doen. Nou oefen ons.

Ons seil ...
... en die Kaptein glimlag breed!
Koiladia

Ons gooi anker in die baai en Archie kry vir Dinkie gereed. Enjin en al. Ons wil dorp toe en te vêr vir roei. Gus waai en ons wag toe maar eers dat hy gaan lê. Dis koudterig en ons sit knus binne-in die saloon. Iemand fluit buite. Archie gaan kyk. Dit wat hy toe sien laat ons hare rys! 

Dis ’n man in ’n dinghie. In sy hand het hy ’n tou. Aan die punt van die tou is Dinkie! Haar knoop het losgekom en sy het weggedryf, oop see se kant toe. Gelukkig het die man die dobberende bootjie gesien, in sy dinghie geklim en dit gaan red. Gelukkig is Maja se naam op Dinkie en toe weet hy na watter boot om te soek. Duisende dankies aan die man! Verlede jaar in Ciftlik, Turkye, het Archie ’n man met ’n vasgehaakte anker gaan help (hulle was vir ure besig) en ek het vir Archie gesê sy goedheid sal beloon word. Vandag is dit dubbel en dwars beloon!

Toe gaan ons dorp toe en daarna na die grot toe. Mense het sedert 40 000 v.C. in die grot gebly. Hier is meer inligting oor die grot.

Franchthi Grot inligting
Grot ingang
In die grot

Die son sak neer en maak ’n einde aan ’n dag vol dankbaarheid. Dinkie is stewig op Maja se snoet vasgemaak, voordat sy weer ontsnap.

Die son sak