Thursday, May 19, 2016

Koiladia. Franchthi Grot


18 Mei 2016. Donderdag.

Portocheli tot Koiladia
 
Gumnuts is weg toe ons opstaan. Ons anker gaan op en die sigeuners val in die pad. Na die volgende onbekende stopplek wat nadat daai anker geval en gebyt het, verander na die bekende. “Home is where the anchor drops”. En vandag is dit Koiladia, 36°24.945 N, 23°07.857 O, 12.3 myl.

Gus waai lui-lui, maar ons nuwe seilkennis word dadelik ingespan en die seile word gespan. En ons seil. Die kaptein glimlag breed. Martin het darem gesê dat Archie se basiese kennis van seil is baie goed! Hy het ’n baie goeie idee wat om te doen. Nou oefen ons.

Ons seil ...
... en die Kaptein glimlag breed!
Koiladia

Ons gooi anker in die baai en Archie kry vir Dinkie gereed. Enjin en al. Ons wil dorp toe en te vêr vir roei. Gus waai en ons wag toe maar eers dat hy gaan lê. Dis koudterig en ons sit knus binne-in die saloon. Iemand fluit buite. Archie gaan kyk. Dit wat hy toe sien laat ons hare rys! 

Dis ’n man in ’n dinghie. In sy hand het hy ’n tou. Aan die punt van die tou is Dinkie! Haar knoop het losgekom en sy het weggedryf, oop see se kant toe. Gelukkig het die man die dobberende bootjie gesien, in sy dinghie geklim en dit gaan red. Gelukkig is Maja se naam op Dinkie en toe weet hy na watter boot om te soek. Duisende dankies aan die man! Verlede jaar in Ciftlik, Turkye, het Archie ’n man met ’n vasgehaakte anker gaan help (hulle was vir ure besig) en ek het vir Archie gesê sy goedheid sal beloon word. Vandag is dit dubbel en dwars beloon!

Toe gaan ons dorp toe en daarna na die grot toe. Mense het sedert 40 000 v.C. in die grot gebly. Hier is meer inligting oor die grot.

Franchthi Grot inligting
Grot ingang
In die grot

Die son sak neer en maak ’n einde aan ’n dag vol dankbaarheid. Dinkie is stewig op Maja se snoet vasgemaak, voordat sy weer ontsnap.

Die son sak

No comments:

Post a Comment