Saturday, May 14, 2016

Ermioni.



14 Mei 2016. Saterdag.

Poros tot Ermioni

Ons groet vir Poros. Dit lyk na reën. Dis bewolk. Dis koud en mislik. Gus waai liggies yskoud van voor. Hy het seker êrens sneeulug versamel waarmee hy ons nou temteer. Ons trek nog warm klere aan. 

Poros

Ons is op pad na Ermioni, 37°23.144 N, 23°14.954 O, 20.4 myl. Ons gaan om die hoek en dit raak warmer. Dit raak later windstil en ons kom nader aan Ermioni. Dit is ’n baie vlak hawe en gelukkig is daar plek vir ons by die beskutte kant van die kaai. Al piepende tru Archie in, ek gooi anker en ons huis is waar die anker val, vir die volgende twee dae. 

Ermioni

Ons gaan stap om die skiereiland in ’n dennebos. Die paadjie kronkel al langs die see. Die baai van Ermioni lê rustig langs die bos. See en aarde, water en grond, boot en mens. Anders is eenders. 

Ermioni Baai

Seiljagte seil met bollende seile buite die baai. Alles is van rustig en vreedsaam. Dis net die kaptein wat met my skoorsoek en ek sê vir hom ek is nie so grapperig as ek seil nie. Hy sê hy weet. Toe lag ons lekker.

Jag

Aan die Suidekant van die dorpie is nog ’n hawe en Archie help gou ’n jag vasmeer en toe stap ons verder. Hierdie is my suster, Elize, se tipe dorpie.  Ek hou van die plek. Hier gaan ons lekker bly. Môre ontmoet ons vir Martin en Shiree van Gumnuts hier en ons sien baie uit daarna om hulle weer te sien. 

My anker
Kreatiewe blompotte
Ermioni

Ek is lui om kos te maak en ons eet Mediterreens.

Mediterreens

Friday, May 13, 2016

Poros.



13 Mei 2016. Vrydag.
 
Ons staan op met ’n lied in die hart. Poros is pragtig, sonnig en fleurig. Net die regte weer vir stap. Ek kry al my hulpmiddels vir die stap reg en weg is ons.
 
Reg vir stap


Daar is blykbaar ook ’n mark en ons stap eers soontoe. Geen mark en ons kies koers na die koppie. Tussen huisies en stegies en die pad loop dood. Ons klim toe so klipperige koppie uit waar daar geen pad is nie. Ek kla natuurlik vreeslik, maar die geduldige Archie verleen hulp en bo is ons. Dis toe nog net die klim deur die doringdraad en ons is by die kerk. Poros lê onder in die baai.

Uitsig oor Poros
Bo-op die koppie

Ons stap verder, op dieselfde roete as wat ons verlede jaar saam met Chris en Zane gestap het en ek verlang skielik vreeslik na hulle. Ons sien twee skilpaaie wat gulsig vreet, seker honger na die lang winterslaap. Poros van bo gesien, is prentjiemooi.

Kerk hek
Terugtog
Prentjiemooi Poros

Later gaan koop ons poskaarte en toe ons terugkom, lyk iets aan Maja se posisie vreemd. Sy staan so skeef-skeef en ons Franse buurman staan nog skewer. Ons sou toe hoor dat die Fransman se buurman sy anker losgeruk en opgetrek het en toe weer windskeef terug in die see gegooi het en boon-op oor ons anker. Toe hy sy anker weer intrek, haak ay anker aan iets vas. Sy boot druk vir Maja se agterkant teen die kaai. Ons sit nog ’n fender agter, dat sy nie haar agterstewe beskadig nie. Hy bel toe ’n duiker om te kom kyk wat aangaan. 

Konsternasie
Bekommerde bure

Die duiker daag op, trek so sommer in die straat aan en klim in die water. Hy maak die bure se anker los, sit dit oor ons anker en sê tot ons verligting dat ons anker nog klopdisselboom is. Die Franse se anker het aan ’n tamaai groot sementblok vasgehaak. Hy sou dit nooit self losgekry het nie. Die Franse is toe sommer gatvol en vaar weg. Hulle gaan ander heenkome soek. 

Die duiker
Bure se anker word oor ons s'n  oorgesit

Never a dull moment en seil is nie vir sussies nie!


Poros. Deinserige Donderdag.



12 Mei 2016. Donderdag.

Korfos tot Poros

Alles is dof. Alles is dof en deinserig. Die mis wys met mistroostige dowwe vingers van die berge na die see. Die son sukkel-sukkel sonder sukses om deur die wolkkombers te breek om die mis te verslind tot niks. En ons vaar maar net, sonder sien. Vorentoe, altyd vorentoe.

Alles is dof

Die water is rimpelloos-glad. Dolfyne swem in stadige aksie in die see. Sierlik, maar net effens uit die water. Skaam en skugter. Ons is deel van ’n groter geheel van ’n inmekaar ingevlegte werklikheid. En ons vaar, met die wonder van sien. Vorentoe, altyd vorentoe.

Pragtige Poros lê doodsbleek in die baai. Die wolke maak hom grys en grou en oud, sonder kleur en fleur amper asof hy stom is, sonder sê of stem.

Poros

Ons kry ’n plek langs die kaai en na vele geredewawel, is ons reg vir ankergooi en Archie tru. Met nodige afstoothande en toue  en fenders, is ons vas en veilig.

Genade, maar ons bure raas. Ek dink hulle praat Russies, maar hulle praat dit baie hard en aanmekaar en dan skaterlag hulle en drink nog vodka en eet brood en drink weer vodka of iets. Dis net ’n klomp mans, sommige met hare, ander sonder hare, ander grys hare en party jonk. Daar is net ses van hulle op die jag, maar hulle klink na ’n skare.

Ons gaan stap toe maar om van die lawaai af weg te kom en ek verlang na Korfos. Die son maak so nou en dan sy verskyning en dan lyk alles fleurig en kleurvol.

Langs die kaai
Poros waterfront

Hulle voorspel suidewind vir middernag, maar toe ons gaan slaap, waai nie ’n briesie nie. Dit was seker maar die stilte voor die storm, want 23:40 begin daai Gus uit volle bors te waai. Maar en het gesien hoe het daai anker gebyt, ek weet ons is vas en veilig. Gus waai vir twee ure en gaan lê toe.

Die kaptein hoor niks, hy slaap soos ’n flippen baba.


Thursday, May 12, 2016

Korfos. Saronic See



11 Mei 2016. Woensdag.


Korinte tot Korfos


Kaptein, my kop staan Korfos toe. Hulle maak mos die lekkerste vissop in Griekeland.


Dis 21.7 myl na Korfos, 37°45.902 N, 23°07.561 O, maar eers moet ons deur die kanaal van Korinte gaan. Ons kry die nodige toestemming en daar gaan ons.

Dis ons voor en ’n ander seiljag agter ons. Die hidroliese padbrug sak onder die water en ons durf die kanaal aan. Ek weet nie hoekom ek elke keer as ons deur die kanaal vaar, so emosioneel raak dat ek in trane wil uitbars nie. (Dis ’n ding wat my twee suster en skoonsuster gewoonlik doen, nie ek nie!)

Vaar oor die padbrug

Jy moet moes baie vining deur die kanaal jaag, anders raas die kontrole beheer vreeslik met jou. Wel, spoed is nie vir ons ’n probleem nie, danksy ons amper splinternuwe enjin en ons topspoed was 8 knope! Vir ons is dit amper soos kayalami. Gus lê en ons alongside maklik aan die ander kant vir die betaalslag. Dit kos R2600.00 met ons swak rand!

"Jaag, Kaptein!"
Kanaal van Korinte

Toe is ons in die Saronic See, reguit op pad na Korfos. Ons nader die Stavedo Restaurant kaai en die eienaar se seun waai sy hande soos ’n windmeul om ons aandag te trek. Die buur-restaurant se man windmeul ook, ons weet waarheen. Ons meer vas en Archie bestel dadelik vissop vir die aand. Dit vat lank om te maak.

Maja by Papa George's Stavedo Restaurant
Korfos Baai

Langs ons trek Duitsers in wat al 34 jaar seil. Langs hulle die Engelse wat ons in Korinte ontmoet het. Ons almal eet by die restaurant, sit by ons eie tafeltjies, maar gesels so oor en weer met mekaar.

20:00 breek aan en hulle bring ons sop. Maggies, maar dit lyk lekker. Ons proe versigtig, bang dat dit nie aan die vorige jare se standaard voldoen nie, maar moenie vrees nie. Dit is verruklik lekker. Die sop, die garnale, die vis, die aartappel! Hoe kry hulle dit reg om sulke hemelse smake op te tower.

Wag in spanning
Die sop kom!
Vis van die vissop


Ons eet heerlik!