Friday, May 13, 2016

Poros. Deinserige Donderdag.



12 Mei 2016. Donderdag.

Korfos tot Poros

Alles is dof. Alles is dof en deinserig. Die mis wys met mistroostige dowwe vingers van die berge na die see. Die son sukkel-sukkel sonder sukses om deur die wolkkombers te breek om die mis te verslind tot niks. En ons vaar maar net, sonder sien. Vorentoe, altyd vorentoe.

Alles is dof

Die water is rimpelloos-glad. Dolfyne swem in stadige aksie in die see. Sierlik, maar net effens uit die water. Skaam en skugter. Ons is deel van ’n groter geheel van ’n inmekaar ingevlegte werklikheid. En ons vaar, met die wonder van sien. Vorentoe, altyd vorentoe.

Pragtige Poros lê doodsbleek in die baai. Die wolke maak hom grys en grou en oud, sonder kleur en fleur amper asof hy stom is, sonder sê of stem.

Poros

Ons kry ’n plek langs die kaai en na vele geredewawel, is ons reg vir ankergooi en Archie tru. Met nodige afstoothande en toue  en fenders, is ons vas en veilig.

Genade, maar ons bure raas. Ek dink hulle praat Russies, maar hulle praat dit baie hard en aanmekaar en dan skaterlag hulle en drink nog vodka en eet brood en drink weer vodka of iets. Dis net ’n klomp mans, sommige met hare, ander sonder hare, ander grys hare en party jonk. Daar is net ses van hulle op die jag, maar hulle klink na ’n skare.

Ons gaan stap toe maar om van die lawaai af weg te kom en ek verlang na Korfos. Die son maak so nou en dan sy verskyning en dan lyk alles fleurig en kleurvol.

Langs die kaai
Poros waterfront

Hulle voorspel suidewind vir middernag, maar toe ons gaan slaap, waai nie ’n briesie nie. Dit was seker maar die stilte voor die storm, want 23:40 begin daai Gus uit volle bors te waai. Maar en het gesien hoe het daai anker gebyt, ek weet ons is vas en veilig. Gus waai vir twee ure en gaan lê toe.

Die kaptein hoor niks, hy slaap soos ’n flippen baba.


No comments:

Post a Comment