Thursday, August 27, 2015

Methana Skiereiland. Vathi.




26 Augustus 2015. Woensdag.

Dorousa tot Vathi

Ek het in Turkye ’n t-hemp gesien waarop geskryf is: ”Home is where the anchor drops.”  Ons gaan nou die anker optrek en ons huis verskuif na Vathi, 37°35.603 N, 23°20.343 O, 6.9 myl. Op is die anker en weg is die sigeuners.

Dis nie ’n lang pad nie en ons seil selfs vir ’n lang ruk. Ons trek die seile in en gaan om die hoek. Vathi is nou nie meer vêr nie. Archie skree: ”Dolfyn!” Hy stuur vir Maja dadelik in die rigting.

Maar is dit vir jou ’n gesig om te sien! Dis jouwaarlik ’n skool van kinderdolfyne wat besig is met ontbyt. Dit splash en jy sien net dolfynvinne. Hulle spring nie hoog uit die water nie, maar beweeg en jag in ’n sirkel. Dit is ’n skool van omtrent veertig en dit lyk na kleiner dolfyne. Hulle is sku en toe ons te naby kom, duik hulle dieper in die see.

Feeding frenzy


Oral is seemeeue. Hulle hardloop as’t ware op die water, vlieg ’n ent en gaan sit weer. Wonder of hulle stukke vis of dalk klein vissies vang wat uit die water spring om die dolfyne te ontglip. Ons geniet die skouspel van die see en vaar tevrede verder. Die natuur bly vir my ’n wonderwerk.

Seemeeue


Vathi het maar ’n klein ingang. Daar is gelukkig plek langs die kaai en ons meer vas. Later kom Sailing Holiday se flotilla van tien bote en waar hulle almal plek langs daai kry, weet ek nie, maar almal kry ’n gaatjie. 

Ingang
Leierjag van die flotilla
Maja by die kaai


Vathi is ’n klein plekkie wat nie eers ’n mini mark het nie, net ’n paar restaurante. Dis boomryk en landelik. Ek hou sommer dadelik van die plekkie.

Vathi

Dorousa Eiland.



25 Augustus 2015. Dinsdag.

Aigina tot Dorousa

Alleen leen leen. Zane en Chris is weg en ons is alleen leen leen. Maja is leeg. Die kajuite is leeg. Maar die lewe gaan aan en ons trek die anker op en weg is ons na Dorousa, 37°40.774 N, 23°19.519 O, 8.2 myl.

Ons seil eers in vlak water na Megalochori, maar daar is nie plek vir ’n muis nie en ons seil verder. Waar is Chris nou, want Gus waai te lekker en die genoa bol in die wind. Ons seil tot by Dorousa Baai waar ons gaan anker met ’n lang landlyn. Dis mos nou die tipe anker waarvan ek nie hou nie. 

Op pad na Dorousa


Archie kry die plek en tru in terwyl ek die anker gooi. Toe ons naby genoeg aan die land is, neem ek my plek agter die helm in en Archie swem die toue land toe om Maja aan die rotse vas te maak. Dit is eintlik so maklik vandag. So met die duikslag val Archie se swembroek amper af en ek en die twee manlike toeskouers van die motorboot langsaan lag te lekker vir die glims van die twee wiitte boudjies.

Die water in die baai is besonder turkoois en ons swem heerlik. Waar is ou Zane nou! Sy sou so lekker hier geswem het.

Boomryke landskap


Nog ’n dag is verby op Maja in die Saroniese See en die skemer daal met die vol wordende maan wat aan die hemel hang en genoeg lig gee dat die landskap sag en vriendelik lyk.

Tuesday, August 25, 2015

Zané en Chris. Tien eilande, vyftien dae



ZANÉ.

Zané


Zané het vreeslik uitgesien na haar seil ervaring en het die slapies afgetel. Sy kon nie wag om op Maja te kom nie. Dit is een van haar drome wat sy ’n werklikheid gemaak het. Sy het vinnig geleer watter toue om te trek en het die selfoonknoppie baie akkuraat gedruk om die anker alarm te stel.

Sy het die heerlikste maaltye gekook, beter as restaurante. Regtig baie moeite met die kos gedoen. Met haar pragtige stem het sy dikwels agtergrond musiek vir ons verskaf.

Haar ywer om yskasmagnete te koop, het vir ons ’n doel gegee om by plekke te kom wat dit verkoop. Sy het baie puntenerig by elke plek ’n magneet gekoop wat aan haar vereistes voldoen. Sy het ’n pragtige versameling van tien, van nege eilande.

Zané het die diepsee swem vreeslik geniet. Dit was heerlik om in die diep, blou water rondom Maja te swem. Soos ’n kind dit geniet.

Diepsee swem


Ermoupolis het haar hart gesteel. Ons het met die bus soontoe gery en sy het die stap na die kerk bo-op die heuwel geniet. Die uitsigte was vir Zané baie mooi en die dorpie het haar betower.

Ermoupolis


CHRIS.

Chris


Ja, hy is verseker ’n meganiese ingenieur. Hy wil alles weet en ondersoek wat tegnies en meganies is. Hy vra vreeslik vrae en het oplossings vir alles op Maja. Chris is een van daai mense wat dink seile is gemaak vir seil en dat elke briese wat waai, benut moet word. Hy het ’n passie vir seil en die seile word so ingestel dat ons maksimum spoed uit die wind kry. Hy het selfs later geleer dat as jy seile span, moet jy jou toue oprol en weer netjies maak.

Hy geniet dit vreeslik baie om agter Maja se helm te sit en hom te verbeel hy is die kaptein van ’n baie groot en indrukwekkende seiljag. Hy is ’n aanwins vir enige seiljag.

Die ondervinding wat hy die meeste geniet het, was die 41.3 myl dag vanaf Kythnos tot by Tselevinia. Ons het lank geseil en hy was lank agter die helm. Hy het die skuinslê seil baie geniet. Hoe skuinser, hoe beter.

Agter die helm


Sy gunsteling plek was Hydra, die pragtige dorpie sonder voertuie en die interessante vasmeer.

Hydra


Baie dankie julle twee. Dit was vir ons lekker om julle aan boord te hê. Maja sê ook so. Kom gerus weer!

Koebaai julle
 


Monday, August 24, 2015

Aigina. Afskeid.



24 Augustus 2015. Maandag.

My seun Gerrit verjaar vandag. Baie geluk Gerrit. Dankie, dat jy ons huis so mooi oppas terwyl ons weg is.

Vandag is dit die groot koebaai. Chris en Zane verlaat ons vandag. Hulle drink kapteinskoffie en saal op vir die stap na die hawe waar hulle die veerboot kry. Ons groet en 08:00 vertrek hulle met die Vlieënde  Dolfyn na Athene, waar hulle vandag en môre die antieke stad gaan verken.

Saal op
Op pad na veerboot
Waar's die veerboot
Gaan aan boord
Daar trek hulle


Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. En daar gaan hulle en los vir my en Archie alleen agter.

Ons gaan koop toe maar pistachio neute, want Aigina is bekend vir sy neute. Die hele eiland is vol pistachio neute wat in drag is.


Pistachio neute aan die boom


Terug by Maja is daar geen vervelige oomblik nie. ’n Man probeer by ’n “no anchor”plek inkom. Hy wil-wil sy anker dwarsoor ons anker gooi. Archie skree saggies op hom en hy gooi ons anker mis. Dis ’n benoude spasie waar hy ook skerp moet draai en Gus waai sy boot skeef., Hy begin vorentoe ry met sy anker wat in die water is. Ons hoor en voel hoe sy ankerketting oor ons s’n trek en ons anker ruk en pluk. Archie skree harder op hom en ek skree die hardste. Hy luister na ons en vaar agteruit. Ons anker lyk nog veilig.

Hy probeer sy anker optrek, maar o wee! Hy sukkel! Sy anker het vasgehaak aan dieselfde vasmeerketting  waaraan ons verlede jaar vasgehaak het. Hulle praat Frans en hulle sukkel. Archie verduidelik vir hulle en demonstreer met ’n tou wat hulle moet doen om los te kom. Na nog ’n gesukkel is hulle los en kies die hasepad uit die hawe.

Sukkel met anker
Gee leiding

Later die middag sien ons Maja waai teen die kaai. Die Franse het seker ons anker versteur en noudat Gus van voor af waai, waai ons teen die kaai. Archie trek die anker in. Eers op 15m byt dit weer. Het, het 10m ketting ingetrek. Dis maar min ketting wat ons op die bodem het. Ons hoop maar vir die beste.